Aanranding het te doen met ras, sê UV-student

Cobus Muller en Charl Blom Foto: all4women.co.za

Cobus Muller en Charl Blom Foto: all4women.co.za

‘n Vyfdejaar-student aan die Universiteit van die Vrystaat het Maandag aan die Bloemfontein-streekhof gesê die gesprek rakende sy beweerde aanranding moet op ras fokus.

“Die gesprek hier moet oor ras gaan, weens my swart vel en hulle wit vel,” het Muzi Gwebu aan landdros Rasheed Matthews gesê.

Twee medestudente, Cobus Muller en Charl Blom, staan op verskeie aanklagte tereg in verband met die beweerde aanranding van Gwebu.

Muller staan tereg op vier aanklagte insluitend roekelose bestuur, crimen injuria, poging tot moord en aanranding. Blom staan tereg op ʼn aanklag van aanranding.

Die staat voer aan dat Muller en Blom in Februarie 2014 op die Bloemfonteinse kampus vir Gwebu met ʼn bakkie wou omry. Toe Gwebu hulle konfronteer, is hy glo aangerand.

Muller en Blom het altwee onskuldig gepleit op die onderskeie aanklagte.

Johann Nel, Muller en Blom se regsverteenwoordiger, het Maandag tydens kruisondervraging aan Gwebu gesê sy rassevooroordeel kom heeltyd na vore tydens ondervraging.

Gwebu het vroeër ‘n mediese verslag oor sy beserings bevraagteken aangesien ‘n wit dokter betrokke was. Nel het aan Gwebu gevra hoekom hy nie ‘n tweede opinie gekry het nie.

Gwebu het geantwoord dat hy dit wel gedoen het. Hy het ‘n politikus geskakel. “Jy het ‘n politieke persoon geskakel. Dit is nie ‘n mediese opinie nie,” het Nel voorgehou.

Nel het verskeie teenstrydighede in Gwebu se verklaring aan die polisie en sy getuienis in die hof uitgewys. “Jy probeer om jouself te weerspreek,” het Gwebu in antwoord hierop gesê.

Nel het aan die hof gesê dat Muller en Blom ontken dat hulle Gwebu met opset met hul bakkie probeer stamp het. Hulle ontken ook dat hulle die aggressors was die aand van die beweerde voorval.

Muller ontken ook dat hy die aand van die voorval die woord “k*****” gebruik het. Gwebu beweer hy het die woord gehoor.

Nel het aangevoer dat Gwebu die aggressor was op die toneel. “Jy het die motordeur oopgemaak en die bestuurder uit die motor probeer kry…jy het probeer om hom agter die stuurwiel uit te trek.”

Die hof het gehoor dat Muller, wat bestuur het, die man wat hom uit die motor probeer trek het, met die kop geslaan het “om van hom af weg te kom”.

“Jou weergawe is vals,” het Nel aan Gwebu gesê. Gwebu het dit ontken en sê die verdediging se stellings is “100 persent vals”.

Gwebu het ook twee kere ontken dat hy die aand van die voorval onder die invloed van alkohol was.

Die saak is tot 13 Augustus uitgestel wanneer die staat nog ‘n getuie sal roep.

Lees ook:
UV-rasaanval: Student het glo beserings oordryf
Studente in hof na hulle glo medestudent aanrand
Studente in hof weens ‘rassistiese aanval’
MRK ondersoek ‘rassistiese aanval’ by Universiteit van die Vrystaat
Twee UV-studente in hof oor beweerde aanranding

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

vuilbaard ·

Ja, dalk MOET die proses op rassisme fokus: Gwebu se klaarblyklike rassisme!

Eugene W Steyn ·

So Muller tref vir Gwebu skrams met ‘n motor, dit blyk dus ‘n ongeluk te wees en die ergste aanklag wat enige meriete kan hê is die roekelose bestuur. Muller moet besef dat ‘n mens ordentlik moet ry. Dit lyk nie of Gwebu enigsins erg beseer was nie, want hy val toe vir Muller en Blom aan! Die hele storie is heeltemal uit verband uit geruk, met mense hoog in die Universiteit wat hom ondersteun en die rasse-beheptheid aanblaas (bv Prof JJ). Die UV het ook vir Gwebu met onder andere vervoerreelings gehelp die aand met die voorval. Die wittes natuurlik is soos varke behandel en is geskors vanaf kampus en Muller was sy graduasiegeleentheid geweier (Afriforum het beswaar aangeteken en ek weet nie of Muller dit toe kon bywoon op die ou end nie).

Trippie ·

Ek hou styf duim vas vir hierdie twee studente – waar dit nie ‘n rasse-kwessie was nie, het ene Gwebu dit nou een gemaak – punt !

Sarie ·

Omgekeerde rassisme en diskriminasie soos gereeld deur die UV gepleeg word, word hier blootgele. Hopelik sal dit nou stop. Ek hou egter nie my asem op nie.

Grassie ·

Hierdie “klaer” beoog waarskynlik ‘n siviele aksie, daarom gaan hy so te kere. Het seker gesien van die “benadeeldes” in die Reitz – spektakel het geld gekry. Hy sê hy ly soms aan geheueverlies as gevolg van die voorval. Dit is ‘n goeie verskoning om te gebruik as jou bewerings nie met mekaar klop nie.

fransie ·

Gwebu het duidelik ‘n probleem met enigiemand wat ‘n wit vel het – dit skemer deur in die feit dat hy sy mediese verslag in twyfel trek omdat ‘n “wit” dokter daarby betrokke was – moet alles altyd met ras en rassisme te doen het – kan dit nie net bloot ‘ ongeluk gewees het waar die gemoedere toe bietjie hoog geloop het en op ‘n ek slaan jou en jy slaan my uitgedraai het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.