Aanranding wat tot man se dood lei op video vasgevang

‘n Skermskoot uit die beeldmateriaal.

Die dood van Xolisile Ndzongana vroeër vandeesmaand in Middelburg in Mpumalanga word steeds deur die polisie ondersoek.

Ndzongana en twee vriende het glo in die vroeë oggendure van 8 Julie huis toe gery toe hulle op ʼn ander motor in die pad afgekom het. Ndzongana het glo in ʼn onderonsie met die insittendes van die ander motor betrokke geraak waarna Ndzongana glo erg aangerand is.

Ndzongana het glo ná die aanval na die polisiestasie gegaan om ʼn saak aanhangig te maak, maar het by sy aankoms daar inmekaargesak. Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê Ndzongana is op 12 Julie in die hospitaal dood.

Hlathi het ook bevestig dat drie mans die week ná Ndzongana se dood in hegtenis geneem is in verband met sy moord, maar dat die saak op 19 Julie laat vaar is as gevolg van ʼn gebrek aan bewyse.

“Niemand is intussen weer in hegtenis geneem nie, maar die polisie ondersoek weer die saak,” het Hlathi gesê. Kringtelevisiebeeldmateriaal van die aanranding het ná die voorval soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Pat Ngomane, Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, het Maandag tydens ʼn optog by die Steve Tshwete-munisipaliteit gepraat nadat lede van die gemeenskap ʼn memorandum aan hom oorhandig het.

‘n Skermskoot uit die beeldmateriaal.

Lede van die gemeenskap het betoog oor Ndzondana se dood en voer in die memorandum aan dat plaaswerkers deur hul werkgewers mishandel word en daar teen hulle gediskrimineer word.

Ngomane het aan die betogers gesê Ndzongana se saak is teruggeplaas op die hofrol. Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê Ngomane se uitlatings was nie korrek nie. “Die saak is nie weer op die hofrol geplaas nie.”

Ngomane het ook gesê Ndzondana is deur “boere” vermoor. Nyuswa het ook dié bewering weerlê. Ngomane het lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, versoek om ʼn spesiale span aan te stel om na plaaswerkers se onopgeloste sake te kyk.

“Hulle het onder meer gekla dat plaasbewoners toegang geweier word tot grafte op plase of om hul geliefdes op plase te begrawe. Hulle word ook van ʼn waardige leefwyse ontneem deur boere wat glo weier om toestemmingsbriewe te teken vir Eskom om elektrisiteit te installeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Maartin ·

Die video wys nie wat voor die tyd gebeur het nie, en dit lyk nie na wittes nie, dit lyk eerder na iets wat opgedis word om rassespanning aan te blaas. En wat van die rassekwessie in al die ander moorde op blankes, waarom word dit nie as rasaanvalle gesien nie?

Cherokee ·

Korrek, dit is my vraag ook, wie gaan verantwoordelik wees vir die elektrisiteitsrekeninge. Indien dit die boer is, is dit halwe inligting wat weergee word hier. En Ngomane behoort vervolg te word vir onrusstoking.

Belaglik ·

Die storie van die grafte het ek nou dag gesien op tv op n swart sepie. Dit is waar hulle inligting vandaan kom, tv.

Ja ·

Die laaste paragraaf is n toneel stuk wat ek gesien het op ‘n swart sepie nou die dag. Dit is waar hulle inligting vandaan kom, propoganda tv.

Belaglik ·

WAARDIG? Ek kan nie my oupa of ouma of ma of pa of kinders net op ENIGIEMAND se plaas begrawe nie, WAAR kom julle daaraan? Die REGTE wat sekere mense hulleself toe-eien is belaglik deesdae. BOERE moet daai briewe teken en HULLE moet self betaal vir die elektrisiteit want daar is mos al die jare vertel dat die BOERE elektrisiteit VERNIET kry .dit is hoekom die mense hierdie ONS SOEK ALLES VERNIET sindroom het. LEKKER liegstorie om rassehaat aan te blaas en die boere skuld te gee, dit is WEERLE, so dit was LEUENS. Dit is tyd dat boere kameras in hulle huise begin opsit om AL die aanvalle en moorde so af te neem dat ons kan sien wie is die mense wat ander mense VAN HULLE WAARDIGE LEWENS ONTNEEM.

ZAR ·

Dis nogals interessant dat die aanval wat in Middelburg gebeur het in die dorp se koerant as “road rage” bestempel word, maar in timeslive, iol, citizen, sowetan, ens word dit as ‘n rassisties witopswart gedrewe voorval beskryf. (Bietjies gatvolvirdie witswartrasgedrewe politieke agenda, maar rasmag nie genoem word in ander aanvalle waar dit swartopwitvoorvalle is nie.) Ons Afrikaners het ontwaak. Die waarheid sal seëvier.

Se maar net 1 ·

Die mans is vrygelaat want die kring kameras het bewys hul is onskuldig. Die oorlede man en sy vriende het ‘n onderonsie met ‘n ander mitor gehad voor die tyd. Alles volgens ‘n week of twee gelede se Middleburg observer. Hul het gelieg om 3 onskuldige blanke mans in die tronk te stop en rassehaat aan te blaas. Maar die media swyg hieroor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.