Aansienlike toename in hondsdolheid onder SA’ners

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Woensdag bevestig dat daar vanjaar ʼn toename in die aantal hondsdolheidgevalle onder mense is. Dié getal is die hoogste wat dit die afgelope vyf jaar was.

Altesaam 17 gevalle van hondsdolheid onder mense is vanjaar in Suid-Afrika aangemeld, met nege gevalle wat in die Oos-Kaap bevestig is, vier in KwaZulu-Natal en vier in Limpopo. Die eerste hondsdolheidgeval in dekades is ook die afgelope maand in Kaapstad bevestig.

Hondsdolheid is ʼn siekte wat die brein beïnvloed en dit word dikwels van katte en honde na mense oorgedra. ʼn Mens kan geïnfekteer word wanneer ʼn dier met hondsdolheid jou byt, krap of op ʼn wond lek.

Volgens Nios is ses van vanjaar se gevalle net die afgelope twee maande aangemeld. Vier was in die Oos-Kaap, terwyl daar een elk in KwaZulu-Natal en Limpopo voorgekom het.

“Soortgelyke gevalle word jaarliks in Suid-Afrika aangemeld, maar vanjaar is daar heelwat meer as vorige jare,” sê die instituut.

Verlede jaar was daar slegs agt bevestigde gevalle, 10 in 2019, 16 in 2018, ses in 2017 en een in 2016. Gedurende hierdie jare het die gevalle ook meestal in die drie geraakte provinsies voorgekom.

Die toename in gevalle onder mense is glo te wyte aan ʼn onlangse uitbreking van hondsdolheid onder troeteldiere.

In die Oos-Kaap, spesifiek in Nelson Mandela-baai en Buffalo City, is daar reeds meer as 400 hondsdolheidgevalle onder huishoudelike honde bevestig. Die eThekwini- en King Cetshwayo-distrikte in KwaZulu-Natal het ook byna 300 gevalle aangemeld.

“Altesaam vier honde tussen Khayelitsha en Gordonsbaai het dié siekte opgedoen, maar nog geen nuwe gevalle is sedert middel Oktober bevestig nie. Daar is ook geen gevalle van hondsdolheid onder mense in Kaapstad self aangemeld nie.”

Slaan hondsdolheid só hok

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het intussen ʼn beroep op lede van die publiek en vakansiegangers gedoen om die verspreiding van hondsdolheid hok te slaan deur nie rondloperhonde op te tel of aan te raak nie.

“Deur rondloperhonde, of honde wat lyk asof hulle aan iemand behoort, op te tel en te huisves, kan hondsdolheid na ander gebiede of provinsies versprei word. Dit kan ook die lewe van jou en jou gesin in gevaar stel.”

Hoewel die hondsdolheidgevalle grootliks tot die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo beperk is, is gebiede wat aan dié provinsies grens, soos die Vrystaat en Lesotho, ook in gevaar.

“Lede van die publiek word aangemoedig om eerder enige rondloperhonde by hul naaste dierereddingsorganisasie aan te meld. Hulle kan voorts die onderhoud van dié diere finansier en eers wanneer die dier getoets en teen die siekte ingeënt is, daarop aandring om dit te huisves.”

Volgens die departement wys baie diere wat hondsdolheid het, matige tot erge veranderinge in hul gedrag. “Party raak swak en passief, terwyl ander skielik aggressief word en mense aanval,” sê die departement.

Diere wat met die siekte besmet is, sal dikwels baie kwyl, sukkel om te sluk of voortdurend blaf en kerm.

“Dit is ʼn noodlottige siekte indien dit nie vroegtydig behandel word nie. As jy dus vermoed dat jy aan hondsdolheid blootgestel is, is dit belangrik om enige wond goed met seep onder lopende water te was en dadelik behandeling by die naaste hospitaal te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Dit gebeur as die honde nie inentings kry wat hulle moet nie. Die grootste meederheid honde in die townships is glad nie ingeent of gesteriliseer nie, brandmaer en verwaarloos. Die regering moet dringend aandag skenk hieraan en projekte begin waar hulle hierdie diere gaan inent en steriliseer. Dit sal ook help dat die honde getalle nie so vinnig toeneem nie.

groenboer ·

Ja, ek is seker ons hoogs bekwame en simpatieke regering sal onmiddellik die probleem aanpak… :-)

Suzette ·

Ja groenboer hulle neem “met kommer kennis” dan sal hulle dit bespreek en as dit nie lonend blyk te wees nie dit vergeet of ignoreer. Daar is darem plekke wat diere gratis daarteen gespuit word. Jy moet net opdaag met jou diere by die aangegewe plek en dis meeste van die tyd die probleem. Mense versuim of kan dikwels nie met hulle diere daar uitkom nie.

Miskruier ·

Ons staatsveearts het nie n voertuig so die mense op landelike gebied is vir die tweede jaar nie gehelp. Dié is veel, veel erger as covid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.