Aanslae teen De Ruyter ‘ongegrond’ – VF Plus

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Foto: Facebook)

Die VF Plus het hom Dinsdag uitgespreek teen kritici van die Eskom-baas André de Ruyter wat beurtkrag voor die deur van Eskom se uitvoerende bestuur lê.

De Ruyter loop die afgelope tyd onder beskuldigings van onbevoegdheid deur en verskeie vakbonde en politieke partye het reeds sy bedanking geëis.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP van minerale hulpbronne en energie, sê dit is lagwekkend dat ʼn aantal invloedryke Suid-Afrikaners die skuld van die huidige beurtkragkrisis op De Ruyter se skouers pak.

“Indien die Titanic ná sy botsing met ʼn ysberg ʼn nuwe stuurman gekry het, wie se skuld sou die ramp wees? Sou ʼn mens die nuwe stuurman kon verwyt vir dit wat tydens daardie skeepvaart plaasgevind het?”

Volgens die VF Plus is ʼn aantal deurslaggewende foute by Eskom gemaak nog lank voordat De Ruyter in Januarie verlede jaar aangestel is.

“Reeds in 1998 het die departement van mineraal- en energiesake gewaarsku dat Eskom se kragvoorsiening tot 2007 voldoende sou wees en dat belegging in nuwe opwekkingsvermoë noodsaaklik is. Die regering het egter geoordeel dat die private sektor daarvoor moes sorg,” sê Boshoff.

“In 2007 het Suid-Afrika vir die eerste keer beurtkrag beleef en bouwerk aan die Medupi- en Kusile-kragstasies is begin. Dié twee kragstasies moes beurtkrag eens en vir altyd beëindig, maar weens tegniese en ontwerpfoute, sowel as reuse-oorbesteding, is dit steeds onvoltooid.”

Volgens Boshoff is die onderhoud op ouer kragstasies ook gedurende daardie tyd verwaarloos, sodat byna helfte van die geïnstalleerde opwekkingsvermoë in enige gegewe stadium buite werking was. Beurtkrag is naderhand vermy deur die opwekkingseenhede vir langer tye sonder onderhoud te bedryf.

Met die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping het dit ook aan die lig gekom dat Eskom veral ʼn gunstelingteiken vir plunderaars was.

“Die aantal bestuursposte is nie net ver bo funksionele vlakke vermeerder nie, maar onreëlmatige en selfs skadelike kontrakte is aangegaan,” sê hy.

“Dus, toe De Ruyter Eskom oorgeneem het, was dit ʼn instelling wie se kernfunksie reeds ernstige skade gelei het.

“Verder was die administratiewe en bestuursfunksies gelaai met werknemers wat min tot die werking van die maatskappy bygedra het, en dikwels ten koste daarvan opgetree het. In enige wanpresterende onderneming is dit die mense wat enige regruk-pogings die sterkste teenstaan – en dikwels die vermoë het om wraak te neem.”

De Ruyter het self Vrydag tydens ʼn paneelbespreking gesê hy kon reeds daarin slaag om van ʼn paar vrot appels in Eskom se bestuur ontslae te raak, maar dat daar nog harde werk voorlê om dié staatsinstelling tot sy voormalige statuur te herstel. De Ruyter het ook gebieg dat die eksterne politieke inmenging ʼn groot uitdaging is in sy pogings om Eskom in ʼn werkende staatsentiteit te omskep.

Eskom en De Ruyter se toekoms

Volgens die VF Plus lyk dit asof die huidige minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, Eskom en die land in die afgrond wil help met die sogenaamde noodkragkontrakte.

“Sommige van die kontrakte, veral dié met Karpowership, is uiters verdag aangesien dit die land vir 20 jaar tot ʼn noodoplossing verbind,” sê Boshoff.

Desnieteenstaande stem die VF Plus saam met De Ruyter dat Suid-Afrika geleidelik van steenkoolgegronde kragopwekking moet wegbeweeg.

“Dit is ook belangrik dat Eskom se verspreidingsnetwerk uitgebou moet word om verspreide opwekking en berging van hernubare energie na verbruiker te laat vloei.”

Wat  De Ruyter se toekoms by Eskom betref, is die VF Plus bekommerd dat hy broodnodige steun sal verloor indien hy dié roete volg. Dít veral nadat sprake van sabotasie by kragstasies aan die lig gekom het en Mantashe hom in die openbaar oor De Ruyter se bevoegdheid uitgespreek het.

“Dit sal Suid-Afrika ten beste aan die genade van middelmatige en swak amptenare oorlaat. Anders is dit dalk misdadigers wat die septer sal swaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Connie ·

De Ruyter ek staan bank vas agter jou. Die wat so moun is bang jy kry dit reg en dan gaan hulle n bietjie in n baie swak lig wees, ag maar ons weet al lankal hulle kan dit nie doen nie. Sterkte vir die pad vooren toe

casper ·

Ek hoop sy lywagte is goed bewapen – Sy teenstanders sal automatiese wapens gebruik !!

Shakespeare ·

Dis nooit ‘n verfoeilike kader se skuld nie al is dit 100% bewys. Andre staan sterk. Ons bid vir jou en Jan.

piet ·

Daar was definitief reeds beurtkrag in 2006, ek kan dit goed onthou.

Philip ·

In die land van die blindes is eenoog die koning . Dit beteken net dat Andre die kapasiteit het om die bedryf van ESKOM tot op n baie goeie en aanvaarbare vlak te kry. Ou eenoog Mantashe jy is besig om heeltemal bokant jou vermoe en die van jou raadgewers te probeer redeneer.Een ding staan soos n paal bo die water Andre is omring deur hoogsgekwalifiseerde raadgewers en dit kan n mens agterkom as jy na die goedvoorbereide profesionele kommunikasie tegnies en andersins luister.

Samuel ·

Mnr. De Ruyter is eerlik en opreg in dit wat hy doen. Die politieke inmenging het hy nie nodig nie. En waar is ons President om mnr. De Ruyter te ondersteun? Is hy bang vir Mantashe en ander rugstekers?

ES ·

Maar hierdie partye het glad nie hard geskree toe enige van De Ruyter se voorgangers biljoene verduister het nie… lekker dubbel standaarde.

Blikkies ·

Hulle dink hulle is so slim, moet altyd hulle vet vingers ooral indruk en wys…Tot die einde van die wereld aanbreek sal dit altyd die swakste tydperk ooit wees in ons geskiedenis.

Genis ·

Ek dink Eishkom is ver heen, ons sal skirik as werklik weet….

Skappie ·

Wat van alles wat verkeert geloop het voordat Andre oorgeneem het. Nou verwag almal dat alles moet werk in net 2 jaar se tyd. Wat het van die vorige 25 jaar gebeur toe die ANC begin oorneem het. Net mooi niks.

Pablo ·

Ek is bevrees de Ruyter gaan al die skuld kry en BEE gaan wen. Net nog
ANC employment agency. Geen skills of kwalifikasies nodig nie. Die land is gedoem.

Catherina ·

Kan niemand sien dat díé man vir Eskom van totaal insinking, sonder enige korrupsie, probeer red nie? The mind boggles!!!!

Vrijburger ·

De Ruyter se groot sonde is eerder dat hy die korrupte netwerke in Eskom begin aanvat. Dit is waarom die kaders van hom wil ontslae raak.

kaplyn ·

Mantashe se kragskepe is geen oplossing van die probleem nie. Na 20 jaar dan seil die skepe weg en SA sit steeds sonder krag. EN los vir André uit. Hy weet wat hy doen.

Pieter ·

Dit gaan lekker met die belastingbetalers se geld in die anc land. Ons wil kla maar ons wil ook nie standpunt in neem nie

Martie Smartie ·

Gelukkig weet almal om gwede mantas se stories met n stewige knip sout te neem, almal weet hy praat oor die algemeen bollie. Eskom was nog altyd en is steeds n melkkoei vd ANC regering en kaders, sal ook nooit verander nie. As De Ruyter nog n jaar of twee daar hou sal ek verbaas wees. En Jan Oberholzer moet ophou slimpraatjies maak op radio en sy werk begin doen. Of pension vat

Jr ·

Mantashe is die laaste een wat oor onbevoegtheid kan praat. Weell eeeh duuh you know duuh eeh

Althes ·

Gwede Mantashe moet aftree, en die oplossings in die hande van bevoegde mense los.

Karinb ·

Sterkte mnr Andre de Ruyter. U het geweet wat u aanvat toe u aangestel is, maar die laakbare optrede en uitlatings van regeringsmense is totaal onaanvaarbaar! Dankie aan dr Wynand Boshoff van die Vryheidsfront Plus wat die VF Plus se steun nou aan mnr De Ruyter openbaar maak. Ander regdenkende leiers moet ook van hul laat hoor, Andre de Ruyter het jul steun nodig. Mnr de Ruyter, moet asb nie terugstaan nie, anders is dit (letterlik) nag in SA!

Elizabeth ·

Mantashe is die slang in die gras. Hy is nog besig om sy sakke te vul. Dit gaan nie oor Saffers nie. Gaan alles oor hul selfverryking.

Hansie slim ·

Hoekom is André de Ruyter aangestel? Om die gemors reg te maak wat Moses Koko en ander gemaak het, of te probeer reg maak… Dit was ‘n “tall order”….!! Die kaders sal enigiets doen om hom te laat misluk want na wie wys die vingers dan vir hierdie gemors???

Philip ·

Ek wil net n regstelling maak met die een kommentaar wat n persoon hier gemaak het.Jan Oberholzer is tegnies in uitvoerend en raadgewende hoedanigheid n steunpilaar vir Andre de Ruiter soos die Engelsman sal se You are barking up the wrong tree

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.