Aansoek gebring rakende 139 plase op ANC-gryplys

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Sakeliga het ’n aansoek gebring waarin dié sakeregte-organisasie versoek dat die lys van 139 plase wat vir onteiening sonder vergoeding geoormerk is, aan hulle bekend gemaak word.

Die aansoek is gebring ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000), en is aan die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling gestuur.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week tydens ’n ANC-saamtrek aangekondig dat dié departement sodanige eiendomme vir onteiening sonder vergoeding geïdentifiseer het.

“Ons wil die betrokke grondeienaars hiervan inlig en hulle bystaan met die beoogde onteiening van hul eiendom. Die ANC is besig om ’n vyand van grondeienaars te maak deur hulle onregverdig te teiken. Ons sal voortgaan om teenstand teen hierdie ongrondwetlike onteieningsbeleid te bied,” het Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by Sakeliga, gesê.

Sakeliga het ook vroeër aangekondig dat die organisasie op ʼn unieke regshulppakket teen onwettige grondbesettings met Hurter Spies Prokureurs ooreengekom het. Die regshulppakket kom na aanleiding van ʼn landwye vlaag onwettige grondbesettings.

Ingevolge die regshulppakket sal Hurter Spies Prokureurs maatskappy- en platinumlede van Sakeliga teen sowat 40% afslag in die bekomming van ʼn dringende interdik teen onwettige grondbesetters bystaan.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die regshulppakket help die publiek om teen grondbesetters op te tree indien die regering in gebreke bly. “Grondbesettings is besig om in frekwensie en skaal skerp toe te neem. Dit moet gestop word, want dit sal die hele land en ekonomie ontwrig.

piet-le-roux-afrisake-2018-06-05

Piet le Roux, die uitvoerende hoof van Sakeliga. Foto: Reint Dykema.

“Uiteraard is dit in die eerste plek die regering, en in besonder pres. Ramaphosa, se verantwoordelikheid om hierdie vuur wat hulle aangesteek het te blus. Maar terselfdertyd kan die publiek nie arms gevou sit wanneer ʼn regering of ʼn president sy plig versuim nie. Daarom glo Sakeliga dat hierdie regshulppakket nou in die belang van sowel ons lede as die publiek is.”

Terwyl die koste van so ʼn dringende regsaksie maklik R50 000 of meer kan beloop, sal die pakket aan Sakeliga se maatskappy- en platinumlede teen ʼn vaste prys van R30 000 vir normale gevalle beskikbaar wees. Die regshulppakket dek prokureurs- en advokatekoste in die bekomming van ʼn dringende interdik teen grondbesetters in tipiese gevalle.

Le Roux sê een van die instrumente wat dikwels benodig word voordat grondbesetters verwyder kan word, is ʼn dringende interdik. “Met ʼn dringende interdik teen grondbesetters kan grondeienaars makliker die hulp van private sekuriteit of die polisie inroep. Sonder die interdik word dit, veral vir private sekuriteit, baie moeilik om groot getalle grondbesetters te verwyder.

“Sakeliga het self al meermale van die dienste van Hurter Spies Prokureurs in die bekomming van dringende interdikte teen grondbesetters gebruik gemaak. Ons het in sulke regsaksie met Hurter Spies Prokureurs se bystand nog altyd sukses gehad, en ons weet dus ook dat hulle in hierdie tipe sake oor die nodige kundigheid en ervaring beskik. Ons is bly om nou aan ons lede ʼn wyse te bied waarop hulle direk en teen gunstige tariewe van hierdie dienste gebruik kan maak.”

Die regshulppakket dek die kliënt se prokureurs- en advokatekoste in tipiese gevalle. Indien dit blyk dat daar buitengewone omstandighede, wat bykomende koste mag meebring, in ʼn spesifieke geval bestaan, sal Hurter Spies Prokureurs dit vooraf aan kliënte voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Johanna Botha ·

Die anc jaag beleggers weg….minder werk , swakker rand en meer swaerkry …..sal hulle OOIT leer …kyk net na Zim vandag …..om te dink in die 70’s was die Zim dollar sterker as n Britse pond .. en kyk vandag ….. HEHE !

Hanna Hoekom ·

Die ANC weet maar te goed dat die eienaars (wettige eienaars) dadelik produksie sal stop sou hierdie nuus uitkom. Dis hoekom die plase se name weerhou word. Die “nuwe eienaars” gaan tog nie boer nie, net afbreek.

Anoniem ·

Na JARE blameer almal vir Mugabe en al wat hy op die oomblik doen is kla oor sy pensioen ! In Suid-Afrika sal ONS die Grondgryp Bende blameer ! Dan is dit te laat !!!!!!!

John ·

Slim aksie, maar hulle gaan slow mow. Druk hulle in ‘n blik en bring ‘n dringende aansoek. Die rede waarom hulle so maak is om die betrokke eienaars onkant te vang. Dit weet ons. En natuurlik word emosies aangewakker en ‘n aptyt vir nog geskep. RC maak sy naam badprop en toon ‘n gebrek aan integriteit. Die New York Times verwys reeds na sy ongure meelopers. Hy gaan niks beter vaar as Zuma nie. Met antie-Z in sy kantoor en Ace & kie as nefies, kan ons iets anders van die man verwag? Hy toon sy ware kleure, maar ons hoop hy speel toneel en is eintlik die persoon wat ons wens hy is, so hardop is ons vir beterskap, maar die appeltjie is kaput.

Andrea van Vuren ·

Die president vlieg die wêreld vol terwyl sy land brand. Die ‘keiser’ gaan toekyk hoe grond gestroop word en hoe sy onderdane (alle rassegroepe) gaan hongerly. ‘n Bose kringloop wat wie weet waar gaan eindig.

Boerseun ·

In tyd van oerlog hoekom moet enige iemand betaal vir hulp deur n volksgenoot?

Kraai ·

Want dit kos geld, moet die regsverteenwoordigers die hof en ander kostes uit hul eie sakke betaal?

Piet ·

Se ek ook. Dit gaan eerder oor geld maak as oor hulp. Hulle verdien mos alreeds duisende met ander sake maar wil die laaste bietjie melk ook he. Skaam julle! Alles gaan net oor geld. Wat het van naaste liefde geword?

Boereboytjie ·

Boereboytjie. Dit is amper oerlog. Ja oerlog is rof. Ongelukkig kos alles geld. Niks is verniet nie.

Cornelia ·

Dit gaan nie vir die anc en medepligtes om “gevolge” of “integriteit” nie. Hulle dryfveer is ook nie logieka nie, maar vrees. Hulle fabriseer mites en teer op ongegronde leuens. Sulke owerhede is politieke jagters wat hul trone en magsbasis konsolideer met ander internasionale identiese “terreur – bendes” wat ‘n hele land en sy burgers doodbloei met drog redenasies en – aksies. Dit is ‘n sukses resep wat “aktiewe oorlog” teen sekere mensegroepe of volke verdoesel onder die pakket wat “menseregte” genoem word. Dit het baie vertakkings. Kyk maar na hulle gereedskap. Blaam, aankla, aftakel, oproer, verdagmakery, leuens, aanstigting, barbarisme, koerslose en roekelose lewensdrif. Politiek is ‘n skema wat hulle dryf in alles of niks drukgang van magsug. ‘n Regering wat God nie ken nie, het nie ‘n toekoms nie.

Seun ·

Verskoon tog mevrou, maar julle eie mense gaan ten gronde in wit plakkerskampe reg oor die land. Dink u nie dit is verkeerd om God enigsins by u politieke redenasie in te sleep nie.

Francois Le Cochion ·

Stem saam met Seun. Wynboere van Stellenbosh verdien honderde miljoene rand per jaar, maar wil nie hulp veleen aan 45 wit gesinne in ‘n plakkerskamp in Kraaifontein nie. Hierdie geld ook vir die Ruberts biljoeners, wat net geld gee vir die” skone kunste”. Gaan vra maar vir die fondswerwers van NGO’s .

koos ·

ek het tydelike werk gegee vir wit mense van daardie einste wit plakkerskamp in kraaifontein en agterna besluit NOOIT WEER NIE. Hulle is lui, wil vir halwe werk betaal word, vra terwyl hulle werk dat ek solank sigarette vir hulle moet gaan koop, daar laat op vir werk en en en. Dis net die een probleem op die ander.

Dit en dat ·

Hoeveel van die regskoste beland in sakeliga se sakke ?

Eish ·

Ek hoop soveel as moontlik.
139 plase is na afslag so n R4.17m.
35000 boere is so R10.5b nadat n hele R7b afslag gegee is! Wys my nog n organisasie wat boere soveel afslag gee!

Rina ·

Al wat ek weet is SA is op afdraande pad met Cyril Ramaphosa Hy is die president van die land maar grond behoort nie aan hom nie Hy kan nie maak en breek soos hy wil nie Hy praat net van korrupsie en niks van ons ouer garde en plaasmoorde nie

Marie ·

Hoe word ek lid by Sakeliga. Verder dink ek die 139 plase sage is slegs n voorwendsel om te bewys dat artikel 25 verander moet word. D.w.s. hoe meer ons nou stry hoe meer rede het hulle om die grondwet te verander.

bgj van der westhuizen ·

dit is nie net boere wat niks vir wit plakkers gee nie moet nie die n g kerk weg laat nie soos die een in sandbaai wat baie geld in sammer om vir die arm swart mense te gee dit is tyd dat wit agter wit kyk

jaco ·

die NG Kerk het mos in 1986 gesê apartheid is sonde. Dit wat nou in SA aangaan is dus seker volgens die NG Kerk nie sonde nie en heeltemal binne die wil van God…

TLC ·

Stem saam jou maar shame as my NG Kerk moet help is daar niks oor om dominie te betaal nie Daar is so min mense oor in my kerk hul kan glad nie meer die sukkelend wit mens help as hul nie omliggende winkels gaan smeek vir amper vervalle kosse nie Maar van die os op die jas Dink hul die anc gaan inligting gee Nee hoor hul is soos kokkerotte hul kom net uit in die nag

Rabes ·

Boere sodra hulle plase vat dan gaan vat ons in die trankei. Die beste in sa hulle wil tog nie daar boer nie

PJ ·

Ongelooflik hoe party mense reageer dis mos normaal om te betaal vir dienste en onthou niemand word gedwing om van Regsliga se dienste gebruik te maak nie jou eie keuse ek sal verseket van hulle dienste gebruik maak as ek in so n situasie beland

François Joubert ·

Dalk ‘n beter belegging om R30,000 in aanvalsgewere en ammunisie te belê.

Marius ·

Dit is hartseer om sien dat die misleiding omtrent grondbestters aan gemoedig word deur swartpolitieke leiers…….blankes moet dus nie verder verbande betaal nie…geen belasting betaal nie….geen gelde verder oorbetaal aan enige organisasie wat enigsins bande met politiek of die ANC het nie.

André ·

So nou kos dit die boer R30000 om onwettige mense van sy grond af te kry. Dalk gebeur dit meer as een keer. Daar moet ‘n goedkoper opsie wees.

Danie Acker ·

Rauch Gertenbach Ing., prokreurs van Mosselbaai en George, het hulle eie aansoek in terme van die PAIA Wet gedoen en is bereid om enige persoon wie se grond in die Wes Kaap of elders bedreig word by te staan teen dieselfde afslag van 40% ongeag of so ‘n persoon ‘n lid is van Sakeliga of nie.

Johann van Cullinan ·

Net iets wat by my opkom. Nou moet boere vir afslag, van prokereurs gebruik maak, waar dit nie nodig is nie. Nou moet hulle betaal, vir wat eintlik reeds hulle eiendom is en hoeveel van dardie geld gaan weer na die regering toe d.m.v belasting.
Ek vra maar net. Die somme maak nie sin nie.

Kobus ·

Dit is verblydend dat organisasies hulp aanbied maar dié pakket is nie regtig ń winskoop nie. Indien in gedagte gehou word dat die feite en regsargumente vir al die verwagte dringende aansoeke basies dieselfde is en net die name van die betrokkenes en plase in die hofstukke sal verskil, gaan hierdie prokureurs lekker geld maak. Die een se dood is die ander se brood…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.