Aansoek om appèl teen Shell nou ingedien

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Pixabay.com)

Die vier omgewings- en menseregte-organisasies waarvan die dringende interdik teen Shell se bedrywighede aan die Wildekus van die hand gewys is, het Maandag aansoek om verlof tot appèl ingedien.

Deep Sea Angling Association, Kei Mouth Ski Boat Klub, Natural Justice en Greenpeace Africa se aansoek om ʼn interdik is vroeër vandeesmaand in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) van die hand gewys.

Waarnemende regter Avinash Govindjee het bevind dat daar geen redelike vrese is dat Shell se seismiese opnames in sy soeke na gas en olie onherstelbare skade aan die omgewing en seelewe sal veroorsaak nie.

Die betrokke organisasies is egter oortuig van die teendeel en het nou teen die uitspraak geappelleer.

“Die applikante appelleer omdat dié kwessie van wesenlike openbare belang is,” sê Katherine Robinson, woordvoerder van Natural Justice.

“Hulle glo dat ʼn appèlhof sal bevind dat Shell nie die nodige konsultasies gedoen het wat sy eie omgewingsbestuursprogram (EMPr) hom verplig het om te doen nie, dat die risiko’s ten opsigte van die seelewe werklik en nie spekulatief is nie, en dat daar ʼn redelike kommer is dat die skokgolwe wat uitgevoer word onherstelbare skade sal aanrig indien die tussentydse interdik nie toegestaan ​​word nie.”

Die organisasies voer nou aan dat die partye eerder verplig moes word om op ʼn later stadium na die hof toe terug te keer vir ʼn meer diepgaande verhoor en dat ʼn tussentydse interdik toegestaan moet word om te verhoed dat Shell voortgaan met sy seismiese opnames.

Volgens Robinson moes die organisasies ook nie ʼn strafkostebevel gekry het nie, aangesien hulle in openbare belang opgetree het.

Die aansoek sal weer aan Govindjee gerig word, wat dan sal besluit of die aansoekers se verlof tot appèl toegestaan word. Indien die regter die aansoek toestaan, sal die saak waarskynlik vroeg volgende jaar in ʼn hooggeregshof in die Oos-Kaap aangehoor word.

Shell het reeds aangedui dat hy dié aansoek gaan teenstaan.

Uitspraak oor tweede interdik

Die hof het intussen sy uitspraak voorbehou met betrekking tot nóg ʼn interdik teen Shell wat vroeër vandeesmaand deur onder meer die niewinsgewende organisasie Sustaining the Wild Coast (SWC) en gemeenskappe aan die Wildekus ingedien is.

Dié saak, wat onafhanklik is van die ander vier organisasies sʼn, maar volg op die eerste interdik wat van die hand gewys is, is Vrydag reeds in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) aangehoor.

Terwyl regter Gerald Bloem die dringendheid van die interdik erken het, het hy die ure lange verhoor uitgestel nadat albei partye se argumente afgehandel was. Uitspraak is tot verdere kennisgewing voorbehou.

Tembeka Ngcukaitobi, raadgewer vir die gemeenskappe aan die Wildekus en die ondersteunende nieregeringsorganisasies, het Vrydag aan die hof gesê dat die gemeenskappe glad nie geraadpleeg is oor die moontlike skade aan die omgewing en mense se lewensbestaan tydens Shell se voorbereiding vir sy eie EMPr nie. Hy meen ook dat hierdie opnames inbreuk maak op die gemeenskappe se kulturele en geestelike regte.

“Dus is Shell se EMPr onwettig en ongrondwetlik.”

Shell se prokureurs het vir die tweede keer aangevoer dat daar geen konkrete bewyse is dat enige onherstelbare skade aan die omgewing aangerig sal word nie.

Adrian Friedman, wat Shell in die saak verteenwoordig, het ook gesê dat die gemeenskappe se besware slegs “spekulatief” is en dat bewerings van kulturele en geestelike skade wat aangerig gaan word bloot “subjektief” is.

Hy het bygevoeg dat Shell se EMPr ingevolge die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) as ʼn omgewingsmagtiging ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (NEMA) dien.

“Shell en sy belanghebbendes kan honderde miljoene rande verloor indien die opnames nie voortgesit word nie,” het Friedman gesê.

“Die skade aan Shell sal niks minder as katastrofies wees nie.”

Die gemeenskappe hou egter vol dat Shell se bedrywighede onwettig is omdat hy nie die presiese omgewingsmagtiging ingevolge NEMA verkry het nie.

“Dit is merkwaardig dat Shell in die hof kan sê dat kommersiële belange in hierdie saak die kulturele regte en geestelike oortuigings van die gemeenskappe aan die Wildekus troef,” het Melissa Groenink, prokureur vir Natural Justice, gesê.

“Dit is belaglik dat Shell ook bloot die getuienis van kundiges oor die skade wat die opnames aan seelewe en die gemeenskap se voortbestaan kan doen ignoreer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.