Aansoek om myn by wildtuin laat vaar

mynboubedryf-02

(Argieffoto: pixabay)

Die mynmaatskappy wat steenkool aan die suidelike grens van die Krugerwildtuin wou myn, het glo sy aansoek teruggetrek.

Tenbosch Mining (Edms.) Bpk. se omgewingskonsultant het in ’n kennisgewing aan al die belanghebbendes gesê dat Tenbosch die aansoek vir ’n mynlisensie en omgewingsgoedkeuring in die wildtuin terugtrek.

Manzolwandle Investments (Edms.) Bpk. het oorspronklik in 2019 ’n aansoek om ’n steenkoolmyn in die wildtuin by die departement van boshou, visserye en omgewingsake ingedien. Dit is intussen deur Tenbosch Mining (Pty) Ltd gekoop.

Die myn sou oor ’n gebied van 18 000 ha naby die wildtuin begin. Verskeie organisasies het reeds hul stem dik gemaak teen die ontwikkeling van die myn omdat dit glo enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbouaktiwiteite sou inhou.

“AfriForum verwelkom hierdie besluit. Dit is wel die agtste keer dat daar ’n aansoek ingedien word vir steenkoolmynaktiwiteite in hierdie spesifieke gebied, dus sal ons nog hierdie soort mynaktiwiteite aan die suide van die Krugerwildtuin – wat ’n grootskaalse ingreep sal hê – fyn dophou,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum.

Die burgerregteorganisasie het in Maart vanjaar ’n hofbevel bekom wat Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, se besluit om die mynaansoek te hersien, tersyde stel.

“Ons moedig ook gemeenskapslede aan om ons in kennis te stel van enige ander mynaktiwiteite in daardie omgewing. Aangesien die einste mynmaatskappy – met dieselfde direkteure – al twee keer ’n naamsverandering ondergaan het sedert AfriForum se betrokkenheid en net weer ’n soortgelyke aansoek ingedien het, sal AfriForum paraat bly en die kwessie moniteer,” sluit De Klerk af.

AfriForum het in 2019 ook strafregtelike klagte by die polisie ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat Singo Consulting – die omgewingskonsultant wat destyds namens Manzolwandle Investments ’n omgewingsimpakstudie gedoen het – na bewering bedrog in dié omgewingsimpakstudie gepleeg het.

AfriForum wag steeds op terugvoer van die polisie in hierdie verband.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Hoe belaglik om te wil myn naby ‘n park.Barbara Crreecy kan mos vir haar self dink dit gaan nadelige gevolge inhou vir die park,boere en waterbronne en korrupsie sou weer die wenner gewees het.Iemand het ‘n verskuilde agenda om spesifiek hier te myn.Dink aan die renosterstropery wat dan sal plaasvind,strikke en onwettige jag.

Di ·

Regering voel ‘n VEER vir die impak wat hierdie myne om die omgewing het. Solank daar GELD betrokke is, sal van hulle, hulle eie siele ook verkoop. GELDGIERIGHEID is die ANC EN die land se ondergang

Lillian ·

so wat het hulle verwag? die lot in die regering kan nou maar net nie dink nie, al wat hulle sien is geld, geld, geld!

Kokerboom ·

Ek vra nog al die jare die vraag: Waarom praat betrokke departemente NIE met mekaar? Persoonlike belange van korrupte politici???

Frank John ·

Sou hulle nie ook in die omgewing van die Vrystaat goudvelde ook kool myn nie. Daar was spake om naby Ventersburg kool te myn en soos ek jare terug gehoor het is die ou goud myne vol kool en dit het so gelyk asof Harmony myn die uitgewerkte skagte opgekoop om iewers in die toekoms kool daar te myn. Weet nie maar wonder maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.