Aansoek om wanorde in parlement uit te saai, afgekeur

Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete. Foto: Daily Maverick

Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete. Foto: Daily Maverick

ʼn Saak teen die speaker van die nasionale vergadering, Baleka Mbete, oor die onderbreking van die uitsending van die staatsrede vroeër vanjaar, is Donderdag uitgegooi in die hooggeregshof in die Wes-Kaap.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef), Primedia Broadcasting, Media24 en ander partye het in Maart ʼn hofaansoek ingedien met betrekking tot die selfoonseine wat gedurende die 2015 staatsrede geblokkeer was en die onderbreking van die parlementêre beelduitsending.

Die applikante het getuig die parlementêre beleid om nie onparlementêre gedrag en ernstige wanorde uit te saai nie, is ongrondwetlik omdat dit die publiek verhoed om te sien wat regtig in die parlement gebeur.

Tydens pres. Jacob Zuma se staatsrede vroeër vanjaar het die parlementêre beelduitsending nie gewys hoe die lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) hardhandig uit die parlement verwyder is nie. Die videodekking het slegs op Mbete en die Nasionale Raad van Provinsies-voorsitter, Thandi Modise, gefokus.

Die hooggeregshof het egter bevind die parlementêre uitsaaibeleid ooreenstem met die grondwet en ingestel is om die waardigheid van die nasionale vergadering te beskerm.

Die ANC het die hofuitspraak verwelkom. Stone Sizani, hoofsweep van die party, het gesê die parlement respekteer die media se regte soos in die grondwet vervat en “sal nooit onnodig die media se bedrywighede verhinder binne sy distrikte nie”. Hy het bygevoeg dat dit die parlement se plig is om nooit die chaotiese en oproerige gedrag van LPs goed te keur nie.

“Dit spyt ons as die ANC dat hierdie saak hof toe moes gaan, omdat ons glo die partye kon dit op ‘n vriendskaplike wyse ondermekaar opgelos het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dave ·

re: …ingestel om die waardigheid van die nasionale vergadering te beskerm.’
stop quote

My vraag:
Hoe kan niebestaande waardigheid beskerm word?

George ·

Goeie vraag, ek wonder ook. Ek kan nie daardie som maak nie.

CHRISTA ·

As hulle nie wanorde wil uitsaai nie, wat maak Zuma se gesig nog op ons tv. Vandat hy aan bewind is, is daar net wanorde en chaos in ons land!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.