Aansoek oor Sassa-betaling terug in hof

Argieffoto

ʼn Aansoek deur die teenkorrupsie-organisasie, Corruption Watch, wat die hof versoek om ʼn besluit van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) om Cash Paymaster Services (CPS) R317 miljoen te betaal ter syde te stel, word Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Dié organisasie het die aansoek reeds in 2015 ingedien.

Nadat Sassa aanvanklik die aansoek teengestaan het, het die agentskap sy teenkanting van die aansoek in 2017 onttrek wat CPS as die enigste respondent gelaat het.

Sassa het in sy redes vir sy onttrekking van die saak aangevoer die beamptes wat aanvanklik die besluit geneem het om CPS te betaal, is nie meer werksaam by Sassa nie. Die agentskap het bygevoeg die besluit om nie die aansoek teen te staan nie was “verantwoordelike optrede om verkwistende uitgawes te voorkom”.

Corruption Watch voer aan ʼn ondersoek na die betaling en ʼn inspeksie op die perseel het aan die lig gebring dat daar ernstige onreëlmatighede rakende die betaling en die herregistrasieproses was.

“Die redes wat deur Sassa verskaf is om die betaling te verduidelik, is onverstaanbaar. Die aanvanklike kontrak tussen Sassa en CPS, wat in 2012 voltooi is en sedertdien deur die konstitusionele hof ter syde gestel is, maak voorsiening vir die registrasie van alle begunstigdes maar nie vir die herregistrasieproses nie,” het Corruption Watch gesê.

“Ons was nie in staat om enige kontraktuele grondslag vir die betaling te vind nie en geen nuwe kontrak is tussen die partye ooreengekom wat die betaling kon regverdig nie.”

Dié betaling is deur Virginia Peterson, voormalige uitvoerende hoof van Sassa wat in 2016 bedank het, gemaak.

Die konstitusionele hof het op 17 Maart 2017 beslis CPS se kontrak met Sassa moet met nog 12 maande verleng word om te verhoed dat die betaling van maatskaplike toelaes onderbreek word. Dít nadat die hof vroeër bevind het die kontrak was onwettig. Die verlenging kom einde Maart tot ʼn einde.

ʼn Kommissie van ondersoek na die Sassa-krisis is intussen begin en die kommissie moet bepaal of Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, persoonlik aanspreeklik gehou moet word. Die kommissie hervat sy werk volgende maand by die kantoor van die hoofregter in Midrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsa ·

Baie verwarring oor SASSA, dan is die kaart nog geldig tot 12/2018 dan moet jy bank tie en so weet niemand wat reg is om te doen nie, party kry briewe, en kry vorms, ander se wag totdat jy kennis kry…nou wat nou…WORD WAKKER

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.