Aansoek teen UV-inentingsbeleid ‘nie dringend’

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. (Foto: UV Facebook)

Free State for Choice (FS4C) het Vrydag ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein gebring om te verhoed dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) sy verpligte inentingsbeleid Maandag implementeer.

Dié aansoek is egter van die hofrol verwyder weens ʼn gebrek aan dringendheid.

Die UV se verpligte inentingsbeleid lui dat studente, personeel en besoekers aan die UV van 14 Februarie ʼn Covid-19-inentingsertifikaat moet toon voordat hulle toegang tot een van die universiteit se drie kampusse kan verkry.

Personeel en studente wat nie teen die koronavirus ingeënt is nie, sal volgens hierdie nuwe beleid elke week ʼn negatiewe Covid-19-toets op die universiteit se nuwe aanlyn toegangstelsel moet laai, of goedgekeurde vrystelling van inenting moet hê.

Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, sê hoewel die universiteitsbestuur die beslissing van die hooggeregshof respekteer, was die UV nooit van mening dat die implementering van die beleid tersyde gestel moet word nie.

“Die universiteitsbestuur bly van mening dat die implementering van die beleid in ooreenstemming is met sy prerogatief en verpligting om ʼn veilige werk- en leeromgewing vir sy personeel, studente en besoekers te handhaaf,” sê Loader.

Maroela Media het Vrydag berig die EFF se studenteorganisasie, die EFF Student Command (EFFSC), op die Noordwes‑Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus, het sy misnoeë getoon oor die verpligte inentingsbeleid. Hy is veral ontevrede dat dié mandaat ingestel is sonder om die studente te raadpleeg en sê die beleid maak inbreuk op studente se basiese menseregte.

Die organisasie het die universiteit tot gister (Vrydag) geleentheid gegee om sy besluit te hersien en met ʼn alternatiewe oplossing vorendag te kom.

Die ACDP het in Januarie gesê hy steun studente by hoëronderwysinstellings wat die afgelope ruk hul stem dik gemaak het teen verpligte Covid-19-inentings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.