Aansoek vir Bushiri-uitlewering amptelik ingedien

Die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri. (Foto: Facebook)

Suid-Afrika het sy versoek dat die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri aan die land uitgelewer word amptelik by Malawi ingedien.

Die charismatiese miljoenêr-prediker het verlede maand uit Suid-Afrika na Malawi gevlug ondanks streng borgtogvoorwaardes wat veronderstel was om te verseker dat hy en sy vrou, Mary, hul verhoor bywoon.

Die Bushiri-egpaar staan in Suid-Afrika tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery ten bedrae van sowat R102 miljoen.

Hulle het die land in raaiselagtige omstandighede verlaat en na hul tuisland gevlug omdat hulle glo hier vir hul veiligheid vrees. Daar is hulle weer in hegtenis geneem en kort daarna op borgtog vrygelaat.

Die Malawiese landdroshof het beslis dat die Bushiri’s sonder borgtog vrygelaat moet word omdat hul inhegtenisneming in Malawi onwettig was en het gesê die hof het slegs na die wettigheid van hul inhegtenisneming gekyk en nie na wat in Suid-Afrika gebeur het nie.

Suid-Afrika se departement van justisie en korrektiewe dienste sê die aansoek is ingevolge protokol van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) oor uitlewering ingedien. Suid-Afrika het volgens wetgewing 30 dae kans om die aansoek in te dien, maar het dit in hierdie geval binne twee weke gedoen.

Die aansoek volg nadat ʼn voorlopige versoek vir inhegtenisneming deur Interpol aan Malawi gerig is. Die Bushiri’s het appèl teen die aansoek aangeteken.

“Gegewe ons goeie en sterk diplomatieke, strategiese en politieke verhouding en ons gemeenskaplike burgerskap van die SAOG-gemeenskap, is ons oortuig dat Malawi na die letter en die gees van elke bepaling van sy internasionale en streeksverpligtinge sal nakom,” het Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JM ·

Vervloekte skelm! Moenie dat sy “engel” -gesig jou mislei nie! Hy moet swaar gestraf word.

Blomme ·

Gaan ons ooit hoor hoe hul die land verlaat het? Sal graag wil weet.

Chris dupreez ·

Nou hoe nou, een deel van die regering help hulle uit die land uit , die ander deel wil hulle terug hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.