Aansoek vir lasbriewe teen BLF ná haatspraak-uitspraak

Lindsay Maasdorp. Foto: Facebook

Solidariteit het Dinsdag ʼn saak van minagting sowel as ʼn aansoek vir lasbriewe van eksekusie teen Black First Land First (BLF) aanhangig gemaak. Dit volg nadat die BLF versuim het om om verskoning te vra en kompensasie aan slagoffers te betaal ingevolge ʼn hofbevel wat vroeër vanjaar teen hulle uitgereik is.

Die gelykheidshof in Johannesburg het in Maart vanjaar onder andere die BLF-woordvoerder, Lindsay Maasdorp, aan haatspraak skuldig bevind. Dit het gevolg ná uitlatings wat op sosiale media gemaak is oor die ramp wat by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark afgespeel het toe ʼn loopbrug in duie gestort het. Drie leerlinge het hul lewens verloor en talle ander is ernstig beseer. BLF-lede het onder meer gesê het dat die dood van drie wit kinders ʼn goddelike ingryping was wat van drie toekomstige probleme ontslae geraak het.

Maasdorp en die BLF is beveel om R50 000 aan elkeen van die slagoffers in die saak se ouers te betaal en hulle moes die ouers om verskoning vra vir hul uitlatings. Tot dusver het hulle nie een van die bevele nagekom nie.

“Die uitsprake wat Maasdorp en die BLF gemaak het, was skreiend en die lyding van die ouers wat hul kinders op daardie dag verloor het, is ondenkbaar,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit. “Sulke walglike gedrag kan hoegenaamd nie verskoon word nie. Deur hierdie hofbevel te minag, ondermyn die BLF nie alleen die gesag van die regsbank nie, maar hulle toon ook geen respek vir die kinders wat hul lewens verloor het nie en hulle vererger die ouers se leed.”

Volgens Solidariteit het die BLF se optrede die trauma en emosionele skade van die Driehoek-gemeenskap onherroeplik vergroot.

“Geen regsproses sal ooit hierdie ouers en die gemeenskap waarvan hulle deel is, kan heelmaak nie, maar ons sal aanhou baklei vir geregtigheid en teen sulke afgryslike vorms van rassehaat. Ons moet vandag baklei om te verseker dat die viktimisering van slagoffers midde-in hul smart, en bloot net op grond van die kleur van hul vel, gevolge in ons land inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta Alleman

Bestaan BLF nog? Ek is onder die indruk hulle mag nie meer voortgaan as n politieke party nie?

Jr

Ry die rassistiese dinge. Maak soos hulle smaak. Wet aan hulle eie.

Christa

Mooi so Solidariteit! Roei al hierdie vorms van rassehaat uit. Dat daar nog geen verskoning aangebied is nie, is verregaande. Hoe kom iemand in elk geval weg om die hof te minag as dit ñ uitdruklike bevel gemaak is?

Papsak

Ja hy mag rassehaat uit spreek maar ons mag nie dit aan of oor our people Se nie Dan is die Gort gaar maar hy mag dit oor ons uit spreek vat weg hierdie rassehaat

maruis

Moenie ons kroonwild so behandel nie. Want dit is beskermende wild van die anc.