Aansoeke vir NSFAS-beurse styg skerp

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Weens die groot getal aansoeke vir beurse van die Nasionale Finansieringshulpskema vir Studente (NSFAS) sal aansoekers eers teen die middel van Februarie in kennis gestel word of hul aansoeke suksesvol was.

Só sê die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande.

Nzimande het Maandag tydens ʼn mediakonferensie aangekondig dat sowat 750 000 aansoeke vir NSFAS-beurse vir 2021 ontvang is. Dit is 185 000 meer as verlede jaar, wat ʼn toename van 25% verteenwoordig.

Daar is nie genoeg geld beskikbaar sodat al die aansoeke suksesvol kan wees nie, het Nzimande uitgewys.

As gevolg van die groot getal aansoeke sal geen laat aansoeke vir NSFAS-beurse vanjaar oorweeg word nie. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) staan NSFAS by om te verseker dat aansoekers nie jok oor hul gesinne se finansiële welstand nie.

Intussen het net tien van die land se 26 universiteite die akademiese verpligtings vir die 2020- akademiese jaar afgehandel.

Universiteite was vir groot dele van verlede jaar gesluit weens die landswye afsonderingstydperk om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. Universiteite wat reeds die akademiese jaar afgehandel het, sluit in Universiteit van Pretoria, Universiteit van Johannesburg, Universiteit van die Witwatersrand, Universiteit van die Vrystaat, en Stellenbosch Universiteit. Nzimande het gesê dat die res van die universiteite “goeie vordering” met die akademiese jaar maak.

Dr. Blade Nzimande gedurende Woensdagmiddag se mediakonferensie. (Foto: GCIS)

Intussen is die tenders vir NSFAS se skootrekenaarprojek toegeken, met vyf verskaffers wat suksesvol was. Studente sal die skootrekenaars uit die NSFAS-toewysing vir studiemiddels moet aankoop en elke universiteit sal afsonderlike reëlings hiervoor aankondig.

Die regering gaan intussen voort om met selfoonmaatskappye te onderhandel sodat afslag op data vir studente bekom kan word, maar daardie onderhandelings is nog nie afgehandel nie.

Nzimande het voorts gesê voornemende studente moet noulettend ag slaan daarop om voor die betrokke sperdatum hul plek by die tersaaklike universiteit te bevestig waar die universiteit hulle in kennis gestel het dat hul aansoek suksesvol was.

Voornemende studente wat nie teen die sperdatum hul plekke bevestig het nie, loop die gevaar dat ʼn ander voornemende student hul plek kan inneem.

Nadat die matriekuitslae vir 2020 laat in Februarie deur die departement van basiese onderwys bekend gemaak is, kan matrikulante wat die eksamen geslaag het en onseker is oor loopbaan- of studiemoontlikhede die departement van hoër onderwys se hulplyn skakel by 086 999 0123.

ʼn Totaal van 3 088 koronavirus-gevalle is tot dusver by Suid-Afrikaanse universiteite aangemeld, maar die uitgebreide gebruik van afstandonderrig het infeksies en sterfgevalle beperk.

Tot dusver is tien universiteitstudente en 48 universiteitspersoneel dood weens die virus, toon die jongste beskikbare statistiek. By verdere onderwys- en opleidingskolleges (TVET-kolleges) is drie dosente en een student se Covid-19-verwante afsterwe aangemeld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Nog ‘n ANC plunderpoel vir sy volkseie geldgierige ampte”narre”!

Alet

Ja was maklik om te sê studiehulp. Maar weereens nie gedink nie. Toe die massas begin stormloop. Oeps waar gaan ons geld vandaan kry. Weereens ondeurdagte besluite wat die land verder in die moeras afdruk. Soos menigte ander besluite die die regering.

Andrew

Vergelyk gou die bevolkingsaanwas met die aansoeke oor die laaste 26 jaar, dan sal julle vinnig sien hoeveel nuwe klaskamers en geld benodig word elke jaar. Kry een van daai studente om vir julle n grafiek te trek en n vooruitskatting te doen om te sien hoeveel geld gaan benodig word oor 18 jaar. Onvolhoubaar.

Andrew

Op die ou end is dit goedkoper om jou hoërskole na n kollage vlak toe te vat en jou senior sertifikaat op te gradeer. Dan n 13e skool jaar in te bring , iets in die lyn van n spesialiseerings jaar wat jou op n N6 diploma vlak sit. Die ou wat goed doen kan verder gaan, die ander ou meskien tegniese kollage.