Aansoeke vir ‘spesiale stemme’ open Vrydag

Argieffoto

Argieffoto

Mense wat in aanmerking kom vir spesiale stemme in die 2016 munisipale verkiesing, kan van Vrydag af vir spesiale stemreg aansoek doen, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gesê.

Die kommissie het in ʼn verklaring gesê gestremdes, siekes en swanger vroue, asook lede van veiligheidsdienste, verkiesingsbeamptes, die media en ander stemgeregtigdes wat nie op 3 Augustus by hul geregistreerde stemstasie kan stem nie, kom in aanmerking vir ʼn spesiale stem.

Volgens die OVK word spesiale stemme op twee maniere uitgebring word. ʼn OVK-beampte kan mense wat gestrem, siek of swanger is by hul huise besoek en hulle help te stem. Ander mense wat nie op 3 Augustus kan gaan stem nie, kan by die OVK aansoek doen vir spesiale stemreg en dan op 1 en 2 Augustus tussen 08:00 en 17:00 by ʼn stempunt stem.

“Vir die eerste keer kan aansoeke vir spesiale stemreg deur die OVK se webtuiste ingedien word of deur iemand se ID-nommer na 32249 te SMS,” het die OVK gesê. Die SMS-diens is egter net beskikbaar vir mense wat by ʼn spesiale stempunt wil gaan stem en nie vir huisbesoeke nie. Sodra die aansoek geprosesseer is, sal die aansoeker ʼn e-pos of SMS ontvang om aan te dui of die aansoek suksesvol was.

Mense kan steeds persoonlik by hul plaaslike OVK-kantoor vir spesiale stemreg aansoek doen.

“Die proses vir spesiale stemme is dieselfde as vir gewone stemme, behalwe dat die stembrief in ʼn koevert geplaas word met die persoon se naam, ID-nommer en stemdistrik op. Daar word dan op die kiesersrol aangedui die persoon het reeds gestem. Op die dag van die verkiesing word die stembriewe uit die koeverte gehaal en saam met die res van die stemme getel,” het die OVK gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christine ·

Nee maar vaag, OVK waneer stem die mense tans in die buiteland???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.