Aansoekproses vir finansiële reddingsboei pootjie boere

(Foto: Yolandi Kruger)

Saai, ’n organisasie wat na die belange van familieboere omsien, het talle klagtes van kleinskaalboere landwyd ontvang wat glo sukkel om aansoek te doen vir fondse uit die Covid-19-landbourampondersteuningsfonds (CADS-fonds). Dié boere glo die aansoekstelsel is daarop gerig om hulle van die hulp te weerhou.

Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê die feit dat boere sukkel met die aansoekproses, maak die proses verdag. “Dit verhoog die vermoede dat die geld in die fonds aan ’n klein aantal mense met politieke kennisse wat toegang tot senior amptenare het, toegeken gaan word, eerder as die kleinskaalboere wat die fondse werklik nodig het.”

Maroela Media het vroeër berig die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het R1,2 miljard aan dié fonds beskikbaar gestel om hoofsaaklik hulp aan kleinskaalboere in finansiële nood te bied.

’n Begunstigde van die grondherverdelingsprogram in Hoedspruit is ook skepties oor hoe die geld toegeken gaan word. “Hulle wil nie regtig hê ons moet aansoek doen nie omdat hulle reeds ander planne met die geld het,” sê die begunstigde. “Die geld in landbou gaan selde aan die boere op grondvlak. Sommige van ons wag al sedert 2012 vir ons navestigingstoelae.”

De Jager vertel baie van die boere het nie toegang tot drukkers om ’n hardekopie van die voorgeskrewe vorms te verkry nie en diensverskaffers in landelike gebiede is ten tyde van die landwye afsondering gesluit.

Diegene wat wel ’n plan gemaak het om die vorms uit te druk en in te vul, kan egter nie die aansoek indien nie omdat die departement se kantore te ver geleë of gesluit is. Polisiebeamptes by padblokkades is verder nie ingelig dat kleinskaalboere hierdie vorms self by die departement se kantore moet indien nie en beskou dit ook nie as ’n noodsaaklike diens nie.

Saai het op versoek van die organisasie se lede ’n digitale vorm ontwerp met al die vereistes wat die departement benodig om die aansoekproses te verwerk, na te gaan en te moniteer. Saai het dit ook aan nasionale en provinsiale beamptes voorgelê.

De Jager sê niemand kan egter ’n besluit oor die gebruik van dié digitale vorm neem nie.

Saai is tans besig om regsopsies te ondersoek om kleinskaalboere by te staan sodat die departement ag kan slaan op die beduidende struikelblokke om hulp van die pakket te kry .

Volgens die regering is R400 miljoen van die R1,2 miljard aan boere in die proaktiewe grondverkrygingstrategie (PLAS)-program toegeken, terwyl die oorblywende geld aan boere in hoofsaaklik die pluimvee-, groente- en ander veekommoditeitsektore toegeken sal word. Ander kommoditeitsektore sal per individuele geval geëvalueer word.

Aansoeke vir die fonds het op 8 April geopen en sluit op 22 April.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

Here we go. Some puffy mec will be a few millions richer. They WILL NOT help any farmers. I will eat my words when proven wrong. I wont hold my breath though.

PieterP ·

Het julle wragtigwaar gedink dat julle sou hulp kry as ander blanke kleinbesighede noe kan hulp kry nie. Weerhou julle produk vir so lank as moontlik of verkoop plaaslik op bestelling op die dorp. Wakker word kêrels hierdie is net nog ‘n maklike manier om jou jou boeties en jouself in te stop uit die staatskas. Dankie aan die Ruperts en Oppenheimer’s vir niks. Krap my eie potjie maar en sukkel en stoei voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.