Aanstel van paneel oor OB verwelkom

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die DA het die paneel wat moet besluit of daar meriete is in die pogings om die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder, verwelkom.

Die parlement het regter Bess Nkabinde en die senior advokate Dumisa Ntsebeza en Johan de Waal aangewys om die ondersoek te behartig.

Die paneel moet binne 30 dae na die aanvang van hul werk ʼn aanbeveling doen oor die kwessie of daar ʼn prima facie-saak is vir die verwydering van Mkhwebane uit haar amp soos wat die DA aanvoer.

Indien hulle besluit daar is geen saak uit te maak nie, verval die klag. Indien hulle besluit daar steek wel meriete in, begin Mkhwebane se verhoor deur ʼn veelparty ad hoc-komitee wat uiteindelik ʼn aanbeveling daaroor aan die Nasionale Vergadering moet maak.

Die parlement besluit dan of die OB in haar pos kan aanbly.

Natasha Mazzone, die DA se hoofsweep, het die aanwys van die paneel verwelkom en gesê sy hoop die paneel verspeel geen tyd nie om met sy werksaamhede te begin.

“Die DA is ingenome dat die parlement nou een stap nader daaraan is om Mkhwebane aanspreeklik te hou, ten spyte van haar talle pogings om ʼn regmatige parlementêre proses om haar te laat verwyder, te vertraag, te frustreer en ongeldig te probeer maak,” het Mazzone gesê.

Sy sê die kantoor van die openbare beskermer moet die belange van kwesbare mense beskerm, “iets wat selde onder Mkhwebane se leierskap gesien word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Ek dink Mkhwebane se tyd raak min en daar is vir haar geen hoop op Appel meer nie.Daar is egter nog baie wat gedoen moet word voor sy uit haar amp verwyder kan word.

msp ·

Sy wil nie haar werk behoorlik doen nie maar sy soek maandelike ń salaris. Gee die werk vir iemand wat dit wil doen.

JohanR ·

My gooiste die een was useless van die begin af. Hoop waaneer sy ge voertsak het dat parlement dan die sal kan reg kry om iemand aantestel wat bevoeg is, en haar amp reg bedien naamlik Openbare Beskermer, en nie ANC Beskermer nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.