Aanstelling van adjunk-OB vertraag

Adv. Kholeka Gcaleka (Foto: Twitter)

Die Nasionale Vergadering moes vanoggend te midde van luidrugtige tonele sy besluit oor die aanstel van ’n adjunk‑ openbare beskermer uitstel.

Dit nadat die aanbevole kandidaat, wat deur die ANC ondersteun word, nie verkies kon word nie weens die gebrek aan ’n kworum om haar aanstelling te bekragtig.

’n Vurige debat het die besluit voorafgegaan, met veral die DA en EFF wat sterk teen die ANC-gesteunde kandidaat, adv. Kholeka Gcaleka, se nominasie gekant is.

Gcaleka was ’n senior aanklaer in die tyd toe adv. Menzi Simelane die nasionale direkteur van openbare vervolgings was. Sy was bekend as ’n groot ondersteuner van Simelane, wie se aanstelling uiteindelik as ongeldig bevind is.

Gcaleka het daarna vir oudmin. Malusi Gigaba as spesiale adviseur gewerk toe hy minister van finansies en later weer minister van binnelandse sake was, ook in die tyd toe bevind is dat hy meineed gepleeg het.

Sy het later die spesiale adviseur geword van die huidige minister van staatsdiens en administrasie, Senzo Mchunu, en het nagelaat om op haar CV te plaas dat sy ’n lid van die ANC-jeugliga was, hoewel dit tydens haar onderhoud aan die lig gekom het.

Tydens vanoggend se debat het ANC-LP Nomathemba Maseko-Jele so ver gegaan om haarself te weerspreek en na Gcaleka te verwys as “kameraad, ag ek bedoel advokaat Gcaleka”.

“Briljant,” het die DA-LP adv. Glynnis Breytenbach snydend laat hoor.

Nietemin het ANC-LP adv. Hishaam Mohamed aangedring dat die regerende party geen opdrag gekry het uit Luthuli-huis om haar te ondersteun nie. Hulle was bloot beïndruk deur haar vertoning tydens die onderhoudfase, het hy aangevoer.

“Ons praat nie politiek hier nie. Dis op meriete,” het hy verklaar.

Breytenbach het met Mohamed verskil en gesê Gcaleka het haar onderhoud glad nie so goed hanteer as wat Mohamed beweer nie. Sy het uitgewys dat Gcaleka die adviseur vir Gigaba was toe hy meineed gepleeg het.

Ook dr. Mbuyiseni Ndlozi van die EFF het Gcaleka se geskiedenis met Gigaba opgehaal as een van die redes waarom die EFF nie vir haar sal stem nie.

Die voorsitter van die Nasionale Vergadering, Cedric Frolick, het die stemmery oor die aanstelling van die adjunk‑ openbare beskermer uitgestel omdat daar nie ’n kworum teenwoordig was nie.

Die stemmery sal na verwagting later vandag plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
MH

Een tree vorentoe, dan gly ons weer twee treë terug.

Michael P

vra ek ook.

Peper

Julle kan 20 van hulle aanstel. Sodra ek hoor ANC en EFF en en en en, dan weet ek dinge gaan dieselfde bly en geen verbetering sal kom. Net nog ‘n possie…

marous

Die ob is niks anders as ‘n rookskerm om die die gewone mense ‘n rat voor die oee te draai deur voor te gee dat daar wag gehou word oor die staatskas se belange . Een vet leuen !

George in Bloem.

Die OB pos is maar net nog ‘n manier vir een van die ANC kaders om te skep…… Dit gaan lekker hier in Azania…..tot die geld een van die dae opraak. Wat Dan?