Aanstelling van Knysna-bestuurder nietig verklaar

Phineas Ombali Sebola (Foto: Knysna-munisipaliteit)

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het die aanstelling van Phineas Ombali Sebola as munisipale bestuurder van Knysna nietig verklaar.

Die Demokratiese Alliansie het regstappe gevolg ná Sebola se aanstelling weens sy “gebrek aan behoorlike kwalifikasies en absolute ongeskiktheid vir die rol”, sê Dion George, die DA se skaduminister oor finansies.

“Sy ampstermyn as die munisipale bestuurder vir Modimolle-Mookgophong (Nylstroom-Naboomspruit) het tot daardie munisipaliteit se bankrotskap gelei. Hy het gevlug voor hy regsgevolge kon dra en het weer in Knysna verskyn.”

George sê Sebola se prestasie in Knysna was absoluut onvoldoende. “Dit het die krisisse in waterverskaffing, finansies, vullisverwydering en rioolbestuur vererger. Die huidige koalisie van korrupsie, wat uit die ANC/EFF/PA bestaan, dra die verantwoordelikheid om só ongeskikte individu aan te stel.”

Sebola se onlangse gebrek aan respek teenoor ʼn openbare verteenwoordiger benadruk sy minagting vir die mense van Knysna, voeg George by.

Sebola het onder vuur gekom toe hy tydens ʼn spesiale raadsvergadering op 3 Mei vanjaar ʼn raadslid met die F-woord gevloek het.

“Die DA verwelkom sy onmiddellike ontslag, wat van vandag af geldig is. Ons staan enige poging teen wat die wanfunksionele Knysna-regering aanpak om Sebola weer in enige kapasiteit aan te stel, insluitend die amp van waarnemende munisipale bestuurder, soos wat tans voorgestel word. Ons sal vinnig optree om enige omseiling van die uitspraak te verhoed deur die koalisie van korrupsie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasmyn ·

Mooi so. Wens die ander provinsies wil ook van die vrot kolle ontslae begin raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.