Die sage van die geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen, het Donderdag ʼn wending geneem toe die nasionale kabinet aangekondig het dat hy die aanstelling van genl.maj. Isaiah Jabulani Zikhali in dieselfde pos goedgekeur het.
Zikhali is vroeër vanjaar deur Mthando Berning Ntlemeza, die omstrede hoof van die nasionale direktoraat vir prioriteitsondersoeke (die Valke) in die pos aangestel, alhoewel Booysen nie afgedank of na ʼn ander pos geskuif is nie.
Zikhali se aanstelling is nooit as ʼn waarnemende aanstelling beskryf nie, en die verklaring wat die kabinet Donderdag uitgereik het, beskryf ook nie die pos as ʼn waarnemende posisie nie.
Booysen is nie afgedank nie, maar is geskors na bewerings van korrupsie en rampokkery en dat hy ʼn groep bedryf het, bestaande uit lede van die Cato Manor- eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad, wat glo mense, veral taxi-base, doodgemaak het om finansiële belonings, medaljes en bevorderings te kry.
Die aanklagte, wat deur die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Nomgcoba Jiba aanhangig gemaak is, is egter reeds in Februarie 2014 in die Durbanse hooggeregshof deur regter Trevor Gorven uit die hof gegooi.
Ntlemeza het daarna, ʼn paar dae nadat hy as die nasionale hoof van die Valke aangestel is, Booysen geskors.
Ntlemeza beweer Booysen en die mans, wat ʼn polisiebeampte se sluipmoord moes ondersoek, het ʼn geldelike beloning ontvang dat hulle ses onskuldige mans doodgeskiet het.
Dit is óók uit die Durbanse hooggeregshof gegooi, en regter Anton van Zyl het gesê daar is nie ʼn greintjie bewys dat dit die waarheid is nie, en het Ntlemeza se gedrag veroordeel.
Shaun Abrahams, huidige hoof van die nasionale vervolgingsgesag, het in Februarie vanjaar dieselfde aanklagte ingestel wat regter Gorven uitgegooi het.
Pogings om met Musa Zondi, woordvoerder vir polisieminister Nathi Nhleko kontak te maak, was nie suksesvol nie.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het op die vraag, of die Valke nou twee persone in dieselfde pos aangestel het, gesê Booysen is nooit in die pos aangestel nie. “Hy was die waarnemende hoof van die Valke, Daar was nooit so ʼn struktuur nie. Hy is nooit aangestel nie.”
Booysen bevraagteken egter Mulaudzi se uitlatings. “Die pos is geadverteer as die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. Ek het aansoek gedoen vir die pos. Ek was op ʼn kortlys en is daarna aangestel,” het Booysen gesê.
Lees alle vorige berigte oor Johan Booysen op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Die Valke. Wat n grap. Waarom nie die bokke nie, renosters of dalk aardvarke!! Hoe ookal, Trompie en die boksom bende het ook drome gedroom. Belaglik. Voortaan rooies, hier kom Suid- Afrika se FBI!!
So Booysen is eintlik maar net geskors en met iemand anders vervang NET omdat sy velkleur wit is
Ek wil nie die raskaart februik nie, maar dit wil vir my voorkom asof dit presies is wat hier gebeur. Van wanneer af is enige instansie of persoon bó die hooggeregshof beslissings verhewe? Dom vraag…..solank zuma en kie in die belangrike stoele sit.
Sterkte Johan Die wiel begin nou spin. Een van die dae gaan jy net velle sien waai. Die toesmeerdery van hulle sal naderhand soos n groot sweer oopbars.
Ja watter grap en skande is die genoemde narre nie vir die land nie. Sterkte vorentoe Generaal Booysen. Mag daar ‘n rustige aftrede eendag op jou wag want nou gee die onbevoegdes jou net probleme!