Syfers wat gereeld aangehaal word oor die afname in die aantal Suid-Afrikaanse kommersiële boere word in twyfel getrek deur nuwe bevindings van die organisasie Africa Check, onderskryf deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch.
Die syfer dat daar in 1994 sowat 120 000 kommersiële boere in Suid-Afrika was, en dat daar tans slegs sowat 38 000 oor is, is al dikwels deur ’n verskeidenheid organisasies en individue aangehaal.
Maar waar kom die syfer vandaan, en is dit korrek?
Oor die jare is die syfer al aan AgriSA, die TLU SA, Farmers’ Weekly, The Sowetan, die DA en die Instituut vir Rasseverhoudinge toegeskryf, om maar ’n paar te noem. Maar uiteindelik kon die oorspronklike bronne van hierdie syfers glad nie vasgestel word nie – die veronderstelde bronne het deurgaans wanneer hulle gekontak is, ontken dat hulle die bron is.
AgriSA, die TLU SA en navorsers aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Instituut vir Armoede-, Grond- en Landboustudies het almal aangedui Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) is die betroubaarste bron van boerdery- en landboustatistiek in die land.
Dit blyk egter uit navrae by StatsSA dat die owerhede in die eerste plek onder die vorige politieke bedeling tydens sensusse die aantal plase getel het – nie die aantal boere nie – en dat die aantal kommersiële plase in Suid-Afrika in elk geval teen 1993 op minder as 60 000 gestaan het.
Die presiese syfer in 1993 was 57 980 “plaaseenhede”, en volgens alle inligting was dit die laaste betroubare en allesomvattende landbou-sensus in Suid-Afrika.
Maroela Media het hieroor gaan kers opsteek by die deurwinterde demograaf en oudrektor van die Universiteit van Pretoria, prof. Flip Smit, want een van die vrae van die sensusse voor 1994 het tog vasgestel wat die respondent se beroep is.
Smit, wat baie jare lank tydens die vorige bedeling navorsing oor spesifiek die demografie van die platteland gedoen het, het bevestig dat die aantal plase eerder as die aantal boere destyds getel is, deels omdat soveel kommersiële boere ook ’n ander beroep beoefen het, en dan die ander beroep amptelik as hul beroep sou aandui omdat die destydse belastingstelsel dit baie jare lank maklik gemaak het om boerdery-uitgawes af te skryf teen byvoorbeeld ’n mediese of regspraktyk – tot die owerheid daardie skuiwergat toegemaak het.
Voorts het Smit uitgewys dat omstandighede in die landbou deurgaans verander. Kleiner boere word oor baie jare al – en steeds – op groot skaal deur groter boere of maatskappye uitgekoop. Baie van hulle tree dan in diens van die nuwe eienaar van die grond, wat danksy ekonomie van skaal meer suksesvol kan boer as wat dit vir die kleiner boer moontlik was.
Boonop is data uit die destydse tuislande nie voor 1994 by die berekenings van StatsSA ingereken nie, en is die definisie van “kommersiële boerdery” in 2002 deur die owerhede verander om slegs boerderye in te sluit wat geregistreer is om belasting op toegevoegde waarde (BTW) te betaal.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het op Africa Check se navraag geantwoord dat hy nie met sekerheid kan sê hoeveel kommersiële boere daar tans in Suid-Afrika is nie.
Samevattend het prof. Johann Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch, gemaan dat dit raadsaam is om nie die aantal kommersiële boere in die land te probeer bereken nie, want dit is onmoontlik om dit akkuraat te doen.
Kirsten het byvoorbeeld uitgewys – en hierdie punt sluit aan by Smit se stellings – dat die sensusse van 1920, 1960 en 1993 telkens die aantal respondente aangedui het wat hulself as boere geïdentifiseer het, maar dit was net wit boere en daar is nie aangedui of hulle as kommersiële boere gedefinieer kon word, of wat so ’n definisie sou behels nie.
Wat wel volgens Kirsten akkuraat bereken kan word, is boerdery-eenhede. In 2017 het StatsSA se kommersiële landbou-sensus bevind daar was in daardie stadium 40 122 kommersiële boerdery-eenhede in Suid-Afrika wat vir BTW geregistreer is. Dit het ’n klein toename – nie ’n afname nie – sedert 2007 verteenwoordig, toe daar 40 079 kommersiële boerdery-eenhede was wat geregistreer was vir BTW.
Kirsten het gesê die 2017-syfer was moontlik ’n bietjie van ’n onderskatting omdat nie alle kommersiële boerdery-eenhede noodwendig geregistreer is om BTW te betaal nie. Boonop kan ’n enkele boer meer as een kommersiële boerdery-eenheid besit, terwyl meer as een boer saam kan boer op een boerdery-eenheid. Kirsten beklemtoon egter dat die landbou-sensusse na 1993 nie alle boere insluit nie en dus kan ʼn mens nie op StatsSA se landbouverslae vertrou om die syfer oor aantal kommersiële boere te verskaf nie.
Ter illustrasie het Kirsten die drie vrae in die 2011-bevolkingsensus wat handel oor landbou geneem om die regte aantal boere te bepaal. Hiervolgens is 2 879 638 huishoudings aktief in landbou (19,9% van al die land se huishoudings), maar dis hoofsaaklik bestaansboerdery of agtertuine en dus nie eintlik kommersiële boere nie.
Slegs 2% van hierdie huishoudings rapporteer ʼn inkomste van meer as R307 000 – wat as ʼn substantiewe kommersiële boerdery-eenheid beskou kan word. Dit beteken dus 57 592 kommersiële boerdery-eenhede (wit en swart). Dit vergelyk mooi met die 1993-syfer van 57 980 (maar laasgenoemde was dalk net wit boere) wat dus beteken dat daar geen afname was nie.
Kirsten en Africa Check se gevolgtrekking is dat die bewering dat die aantal kommersiële boere sedert 1994 afgeneem het van ongeveer 120 000 na ongeveer 40 000 onakkuraat en onbewysbaar is, en dat dit nie moontlik is om op grond van huidig beskikbare inligting akkuraat te bepaal hoeveel kommersiële boere daar tans in Suid-Afrika is of was nie.
Volgens Kirsten sou ons egter presies geweet het hoeveel boere daar is indien die departement van landbou die advies gevolg het om soos die VSA te vereis dat elke boer moet registreer indien die boerdery toegang wil hê tot staatshulp, subsidies, droogtehulp en goedkoop finansiering. Dit sou beteken as jy staatshulp en voordele wil ontvang, moet jy op die databasis wees. Met sulke data sou mens volgens hom deeglik die struktuur en dimensies van landbou in Suid-Afrika kon ontleed en sinvolle beleidsvoorstelle kon maak.
Ag asseblief. Wit boere kwalifiseer nie vir droogtehulp, vloedskade, lenings, ens van ons staat nie, net bestaansboere. Daardie laaste plannetjie dat boere moet registreer ten einde vir voordele te kwalifiseer, is doodgebore. Die staat vra net een vraag. Is jy wit? Jammer, jy kry geen hulp.
Ek kan nie sien hoe iemand wat nie ten doel het om boerderyprodukte aan die publiek te lewer, as boer gereken kan word nie. Mens bedryf mos nie ʼn kwekery as jy nie plantjies aan die publiek verkoop nie? Ensovoort.
Met ander woorde, die afname wat so wyd verkondig is, was weer duimsuig wat vir Jan-alleman gevoer was. Ai.