Aantygings oor ‘Boeremag’-infiltrasie in Sita-stelsel bevraagteken

Andre du Toit (middel), lid van die Boeremag ná sy skuldigbevinding in 2013 (Foto: ANA)

Dit is glo “onwaarskynlik” dat Andre du Toit, ʼn lid van die Boeremag wat in 2013 skuldig bevind is op aanklag van hoogverraad, die Sita-stel geïnfiltreer het.

Riëtte Pretorius, ’n woordvoerder van Boervin, ’n organisasie wat hom beywer vir die vrylating van “die Boerevolk se politieke gevangenes”, het in ʼn verklaring gesê Boervin is onbewus van enige verdere kontak wat Du Toit met die buitewêreld gehad het.

Maroela Media het vroeër berig twee werknemers van die staat se amptelike inligtingstegnologie-agentskap (Sita) het kontak gehad met Du Toit. Setumo Mohapi, uitvoerende hoof van Sita, wat rekenaardienste aan die staat lewer, het gesê die inligting het aan die lig gekom toe Sita ondersoek ingestel het oor bewerings van onreëlmatighede wat betref kontrakte van miljarde rand wat namens die Suid-Afrikaanse Polisiediens bekom is.

“Tydens ʼn ondersoek wat niks met [die Boeremag] te doen gehad het nie, het ons beslag gelê op rekenaars en toestelle van werknemers om ʼn forensiese ondersoek te doen. Ons het tydens dié ondersoek op die betrokke verhouding afgekom,” het Mohapi verduidelik. Volgens hom was daar direkte e-posse tussen twee werknemers en Du Toit en lede van sy familie.

Pretorius het gesê dit is algemene kennis dat Du Toit vriende is met verskeie werknemers van die SAPD en Sita omdat hy ʼn voormalige werknemer van beide instansies was sedert die 1990’s.

“Sommige van sy voormalige kollegas, wat ook sy vriende is vir baie jare, het vir hom kos gebring tydens die Boeremag-verhoor (2003 – 2013) en bydraes gemaak as blote vriende vir sy mees basiese behoeftes soos telefoonkaarte omdat hy alles verloor het weens die Boeremaghofsaak,” het sy verduidelik. “Hy is eers in Oktober 2013 vir ʼn addisionele 20 jaar gevonnis tesame met die ander ‘Boeremag’-slagoffers wat verskeie vonnisse opgelê is.”

Volgens Boervin se kennis het Du Toit in Oktober 2013 laas met enigiemand op Facebook of vriendskaplike e-poskommunikasie met sy vriende kontak gehad. “Dit was tydens dié periode waartydens hy wettig toegang gehad het tot die internet weens ʼn hofaansoek wat hy en ander Boeremaglede gewen het. Boervin is onbewus van enige verdere kontak wat Du Toit met die buitewêreld gehad het. Boervin is van mening dat dit hoogs onwaarskynlik is dat Du Toit die Sita-sisteem infiltreer het.”

Pretorius meen die “aantygings en beskuldigings is bloot valse propaganda om die sogenaamde ‘Boeremag’ te diskrediteer en om die illusie te skep dat hierdie individue ʼn ‘bedreiging’ is”. Sy het gesê die Boeremag het reeds 16 jaar gelede ontbind.

“Dit is baie verdag dat hierdie aantygings wat nou ewe skielik in die parlement gemaak word die hele sogenaamde ‘Boeremag’ betrek. Dit is ook uiters verdag dat die drie dokters Pretorius (Lets, Wilhelm en Johan) subtiel aan die Sita-voorval gekoppel word. Die drie lede van die Pretorius-gesin word valslik aan die voorval gekoppel deur ʼn foto wat in die Citizen-koerant van 2 Mei 2018 gepubliseer is.

“Boervin vind dit verdag dat die berig geplaas is terwyl daar tans ʼn hofuitspraak hangend is rakende ʼn aansoek van die gesinslede om hul rekenaars in hul selle te hê vir studie-doeleindes. Boonop het die Pretorius dokters geen kennis van programmering nie en hoegenaamd geen begeerte om enige sisteme te infiltreer nie. Al hul energie word tans toegespits op hofaansoeke rakende hul gevangehouding.

“Afgesien van die rekenaar-aansoek is dit baie interessant dat misdaadintelligensie weereens as ʼn betrokke party genoem word in die berigte, veral omdat die drie Pretorius-dokters tans besig is met ʼn internasionale klagte teen die Boeremagsaak voor die internasionale menseregtehof.”

Boervin meen noudat misdaadintelligensie se uitlokking en onregmatige optrede tydens die jarelange verhoor onder die kollig geplaas gaan word, word dié gerugte teen die Boeremag gemaak.

“Hierdie aantygings is vermoedelik ook gemaak om negatiewe impak te bewerkstellig teen Du Toit wat in Oktober 2018 in aanmerking kom vir parool. Verder is van die Boeremaggevangenes se amnestie-aansoeke ook ingedien en hierdie aantygings in die parlement teen die ‘Boeremag’ is heel moontlik ook gemaak met die doel om ʼn negatiewe impak te hê op president Cyril Ramaphosa se besluit rakende hul presidensiële kwytskelding-aansoeke.

“Dit dui net daarop dat die onregverdigheid steeds teen hierdie manne voortduur terwyl hulle tydens die afgelope 16 jaar geen bedreiging vir die samelewing ingehou het nie. Die spoke wat opjaag word, is waarskynlik die gevolg van ʼn uitgediende regse reaksionêre lessenaar van misdaadintelligensie wat die sinvolheid van hul bestaan probeer bewys. Misdaadintelligensie probeer hul bestaan regverdig in ʼn era waar daar geen regse bedreiging ingehou word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Fanie ·

Ek glo beslis nie dat die ‘Boeremag’ in rekenaarstelsels ingebreek het nie. Hulle is immers nog op kerskrag, soos enige normale mens in die agttiende eeu.

Boer ·

Vegters vir ons Boervolk, en hulle moet daagliks hierdie ontberings deurmaak en nou al hierdie nuwe leuens en valshede. Die vyand kom weg met als maar moet net nie trots wees oor jou herkoms en volk nie, dit moet verdruk word. Mag ons Vader hulle lot weer verander. Geen mens kan dit keer nie. Hulle sal hulle loon ontvang.

D P J ·

As hulle niks anders met hulle ondersoek kry nie dit ” boeremag”
Hoe belaglik. Aparteid is ook hulle gereelde slagspreek!!!.

Oom Kalahari ·

Hierdie valse aantygings is weereens soos die propoganda wat in die 60’s en 70 jare in die buiteland verkondig is aangaande blanke apartheid behandeling met bevoordelings en moord op swartmense. Die Boeremag is ‘n groot kopseer vir die huidige regime asook EFF en hul sal alles doen om hierdie Boere nie hul vryheid te gee wat hul toekom nie. Hierdie Boeremag lede sit in die tronk met geen toegang tot sulke geleenthede nie en dalk was dit hul Gupta maatjies.

hendrik ·

Kan hierdie mense nou sowaar so bang wees vir die Boeremag. Maggies maar dis erg!

zoom zoom ·

Iets sê vir my die dinge word vanuit KZN bedryf. Deur aangevuur deur n sekere has-been en trawante.

Al ·

Ek is geen Boeremaglid nie maar beskik oor meer as een breinsel om te besef dat die aantygings teen die Boeremag absoluut belaglik is. Ek stem ook saam dat die Boeremag geen gevaar is vir die samelewing nie en om hul te beskuldig om polisie te infiltreer absoluut belaglik is. Wat gaan hul daaruit baat? Waarom dan nie die SAW en Staatsekuriteit ook teiken nie?!
As enige iets Staatsveiligheid bedreig is dit die EFF en geledere uit ANC wat anargie, terrorisme revolusie en wetteloosheid voorstaan. Waarom word hul nie ondersoek nie?! Hul is juis die brandpunt in die huidige bestel!

PJC ·

Ek dink hierdie land kort ń Julian Assange wat regtig die ANC se stelsels kan binnedring en al hul skelmstreke kan uitbring en ook sommer agterna al hul stelsels kan ontwrig of heeltemal onbruikbaar maak.

Jaco ·

Aan AI – dis inelkgeval onmoontlik dat jy n boeremaglid kan wees – want die boeremag bestaan al lankal nie meer nie. Hulle was ook gesetup en die polisie het hulle geleer om bomme te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.