Aantygings oor KZN-rampgeld ‘ongeregverdig’

Onlangse vloede in KwaZulu-Natal het grootskaalse skade aan infrastruktuur aangerig. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Aantygings dat die nasionale tesourie weier om geld vir rampverligting in KwaZulu-Natal beskikbaar te stel is ‘ongegrond en ongeregverdig’, het die Suid-Afrikaanse regering Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Dít volg nadat die DA vandeesweek bevraagteken het waarom die beloofde R1 miljard om dié vloedgeteisterde provinsie te help, ʼn maand later nog nie by die mense uitgekom het nie.

Volgens die party weier die tesourie om die geld beskikbaar te stel omdat die provinsiale regering versuim het om ʼn uiteensetting te gee van hoe die geld bestee gaan word.

Francois Rodgers, die DA se leier in KwaZulu-Natal, sê die provinsie moet op die herprioritisering van fondse in sy eie begroting staatmaak. Dit is ʼn begroting wat reeds onder druk is terwyl skade aan infrastruktuur in die private en openbare sektor miljarde rande beloop. Dít ondanks pres. Cyril Ramaphosa se versekering dat die regering R1 miljard uit sy gebeurlikheidsreserwe in die nasionale ramphulpfonds aan die provinsie sal bydra.

“Die KZN-regering het self erken dat hierdie bedrag gevind sal moet word deur die herprioritisering van die provinsiale begroting oor die volgende drie jaar,” het Rodgers in ʼn verklaring gesê.

Phumla Williams, direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel, sê daar is geen vertragings met die toewysing van geld nie, maar eerder ʼn proses wat gevolg moet word om dit te ontsluit.

“In ʼn geval soos die vloede waar ʼn ramp afgekondig is, maak artikel 56 van die Wet op Rampbestuur voorsiening vir die herprioritisering van hulpfondse. Die herprioritisering van fondse is ook in ooreenstemming met die regering se begrotingstelsel.

“Om die onlangse ramp in KwaZulu-Natal aan te pak, het die regering met ʼn gefaseerde benadering begin. Die eerste fase was die onmiddellike humanitêre verligting, terwyl die tweede fase die heropbou en herstel behels.”

Williams sê die R1 miljard waarna Ramaphosa vroeër verwys het, hou verband met befondsing waarvoor daar in die 2022-wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste voorsiening gemaak word. Dit behels onmiddellike reaksie deur onderskeidelik die provinsiale én munisipale rampreaksietoelae.

“Die herprioritisering van geld uit begrotings is gebruik om onmiddellike behoeftes te finansier. As sodanig is daar geen vertragings met die toewysing van hulpfondse nie. Daar is egter ʼn proses wat gevolg moet word om hierdie fondse te ontsluit.

“Die proses sluit in dat provinsies en munisipaliteite by die Nasionale Rampbestuursentrum en departement van menslike nedersetting om hierdie fondse aansoek moet doen. Dié aansoek word dan by die nasionale tesourie ingedien nadat dit verwerk is.”

Williams benadruk dat die aanspreeklikheidsraamwerk geensins verander het nie.

“Die verkrygingsdepartemente sal moet verseker dat verkrygings- en voorsieningskettingprosesse streng gevolg word. Die regering het ook bykomende moniteringsmaatreëls deur die ouditeur-generaal (OG) van Suid-Afrika ingestel. Die OG sal intydse oudits op die rampreaksiefondse wat beskikbaar gestel is, doen om broodnodige verligting aan geraakte gemeenskappe te bied.

“Intydse oudits laat toe dat nie-nakoming vroegtydig geïdentifiseer word en daar sal van instellings vereis word om dit reg te stel.”

Die regering sê hy span alle beskikbare hulpbronne in en onderneem elke moontlike poging om te verseker dat die nodige hulp verskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Misky ·

So wie lieg nou vir wie? Intussen sukkel ons in KZN en paaie en brue word nie herstel nie en sit ons ure in verkeer soggens en saans.

marius ·

Dis rampgeld wat DADELIK beskikbaar gemaak moet word . Dis nie vir ‘n vlag paal van miljoene nie . Hou net op met jul patetiese leuens .

May10 ·

Kyk as die regering geld sien of hoor begin hulle mond sommer water. Daai geld is klaar in hulle broek sakke.

Swerwer ·

Daar word nou eers gesukkel om geld bymekaar te kry vir Cuba. KZN se miljard sal oor ‘n paar jaar
eers beskikbaar wees…………….wees rustig hierdie is die Pinoccio land

Heinrich ·

Tesourie verstaan nie; jy moet eers die hoenderboudjies en nuggets gaan koop voor jy die kwitansie kan kry om in te gee…hulle kan nie nou sê hoe honger hulle gaan wees nie…

Frank ·

Dalk tog goeie ding want as die geld sommer net gegee word verkwis KZN dit blitsvinnig en dan word daar gekla, so ten minste probeer die tesourie reg optree en moet KZN eers uiteensit waarvoor die geld gebruik gaan word

Ria ·

Al hulle prosesse is die bottelnek by alle admin. Dis hoe ons rol… daars iemand om die gloeilamp uit te skroef, iemand om die leer vas te hou, iemand om die nuwe gloeilamp uit die verpakking te haal, iemand om dit in te sit, terwyl iemand in die bakkie sit en ginnegaap tot hierdie hoogs bekwame praktisyns klaar is, sodat hulle kan terugry om tee te gaan drink

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.