Aanval by moskee: Valke ondersoek ekstremisme

Aanval by moskee in Verulam, KwaZulu-Natal (10 Mei 2018) Foto: ANA

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaad, ook bekend as die Valke, sê die aanval op die moskee in Verulam in KwaZulu-Natal waarin een mens dood en twee ernstig beseer is, is die enigste van sy soort in dié provinsie waarvan die ondersoekliggaam kennis dra.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke in KwaZulu-Natal, het Vrydag bevestig die Valke het die ondersoek by die polisie oorgeneem ná die aanval op 10 Mei.

Drie mans, volgens berigte moontlik van Egipte, het op die Imam Hussain-Moskee in die Ottawa in Verulam toegeslaan.

Mhlongo het die twee oorlewendes as Moulana Ali Nchinyane en Muhammad Ali geïdentifiseer. Abbas Essop is in die aanval dood.

Volgens hom het Essop naby die moskee gewerk en gaan ondersoek instel nadat hy ʼn rumoer gehoor het voordat sy keel deur die verdagtes gesny is. Hy is later in die hospitaal dood.

Die verdagtes het ná die aanval verskeie vertrekke in die moskee, insluitend die biblioteek, met petrolbomme aan die brand gesteek en toe van die toneel gevlug.

Essop is Vrydag begrawe en African News Agency (ANA) berig honderde roubeklaers het dié diens bygewoon. Een persoon wat die diens bygewoon het, het aan ANA gesê dit is Sjiïtiese Moslems wat die moskee gebruik.

“Ek was verbaas om so ʼn groot Sjiïtiese skare te sien,” het hy vertel. “Ek het al voorheen kontak met die moskee gehad en het die mense daar as baie gasvry ervaar. Ek het nog nooit voorheen Sjiïtiese gelowiges as aggressief ervaar nie. Na my wete was daar ook nog geen spanning tussen Soenni en Sjiïtiese Moslems in die omgewing nie.”

Die meerderheid van die wêreld se Moslems is Soenni’s. Suid-Afrika was egter nog altyd bekend vir godsdienstige verdraagsaamheid tussen die verskillende Moslemgroepe.

Moulana Aftab Haider van die Ahul Bait-stigting het vroeër die week die aanval bevraagteken en die voorval as ekstremisme bestempel. Volgens hom was dié voorval soortgelyk aan aanvalle wat die terreurgroep Isis in Irak en Sirië uitvoer.

Mhlongo het bevestig dat die Valke tekens van ekstremisme ondersoek weens die manier waarop die aanval plaasgevind het. “Geweld binne die konteks van politiek of godsdiens is een van dié tekens,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

Dit maak nog “sin”, al is dit hoe absurd, dat Moslems ‘n christelike kerk of ‘n Joodse sinagoge aanval, maar waarom val Moslems ander Moslems aan?

Koos ·

Plaasmoorde word gekenmerk deur veel groter gruwels maar die Valke fokus op hierdie voorval?

Cherokee ·

Ek praat onder korreksie maar ek dink die sjiïte is die meer aggressiewe groep van die moslems.

John ·

… hmmm! Op Hemelvaartdag…. Aanvalle op Koptiese Christene in Egipte en nou glo mense uit Egipte wat SA-Moskee’s aanval? ‘n SA-glo-joernalis al maande lank in aanhouding jn Egipte? Iewers fluit ‘n voeltjie vreeslik vals….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.