Aanval in Israel eis SA man

Eliyahu David Kay is in Jerusalem se Ou Stad doodgeskiet. (Foto: Facebook)

ʼn Suid-Afrikaanse man is geïdentifiseer as die slagoffer wat Sondag noodlottig gewond is toe ʼn militant van die Palestynse Islamitiese Hamas-beweging in Jerusalem se Ou Stad op mense losgebrand het.

Die 26-jarige Eliyahu David Kay was glo op pad om by die westelike muur te gaan bid toe hy geskiet is. Kay is ná die aanval na die Hadassah-hospitaal in Jerusalem gehaas waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes het sy dood bevestig.

Volgens dié raad het Kay as toergids in Israel gewerk.

“Ons innige meegevoel met sy ouers, sy verloofde, en sy familie en vriende in Israel en Suid-Afrika,” het die raad gesê.

Israeliese polisiebeamptes en veiligheidsmagte Sondag op die toneel van die skietery in Jerusalem se Ou Stad. (Foto: Menahem KAHANA / AFP)

Maroela Media het vroeër berig Kay en drie ander, onder wie twee polisiebeamptes, is deur ʼn Palestyn geskiet wat glo sy wapen – ʼn soort submasjiengeweer – onder sy klere versteek het voordat hy losgebrand het.

Die skieter is ná die voorval deur Israeliese veiligheidsmagte om die lewe gebring.

“Dit blyk dat hy ʼn groot galabiya [mantel] gedra het of dat hy hom as ʼn ortodokse Jood vermom het,” het Israel se minister van openbare veiligheid, Omer Bar-Lev, Sondag ná die aanval gesê.

Tientalle polisiebeamptes is intussen in die historiese ou gedeelte van die stad ontplooi.

Die Ou Stad in die oostelike deel van Jerusalem is die gebied waarop Palestyne aanspraak maak as die hoofstad van hul toekomstige staat. Israel het Oos-Jerusalem in 1967 se Sesdaagse Oorlog ingeneem en geannekseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

KB ·

Die onskuldige word “doodgeskiet”, en die skuldige “om die lewe gebring” (volgens MM Red.). Dit moet andersom wees!
Daar’s ‘n verskil tussen die twee begrippe…maar nou ja……..

Casper ·

Volgens ons regering is dit dan Israel wat die agressors is teenoor Palestina nou word ‘n onskuldige aanbidder deur ‘n lid van Hamas dood geskiet.hoe dan nou ANC .

Shakespeare ·

Innige meegevoel aan sy familie. Trots op julle Palestyn tjommies ANC ???

Harley Davidson ·

Die SA regering sit nou met rooi gesigte maar is te arrogant om dit te herken hulle het die verkeerde perd gesteun.

annie ·

Brittanje wat voor WOII die gebied rondom Israel beheer het, het in 1948 dit goed gedink, soos hul gereeld dink, dat ‘n groepie Arabiere wat op die besette Joodse grond geplak het in Oos-Jerusalem mag aanbly toe die Jode ná die oorlog na hul vaderland kon terugkeer. En nou wil massas Moslems vanuit alle oorde ook in Israel gaan bly met Jerusalem as hul hoofstad. Brittanje is dus die eintlike aktiveerder van die Palestynse vete om die Jode van hul hoofstad en vaderland te beroof.

piet ·

Jy moet regtig meer lees oor wie se grondgebied eintlik wie se grondgebied daar is. Israel het grondgebied geannekseer in Oos-Jerusalem wat nie hul grondgebied histories is nie en hierdie anneksasie was ook nie goedgekeur deur die VN nie en word breedweg NIE deur die internasionale gemeenskap erken nie. Wat die gryp van grondgebied aanbetref, was Israel nog altyd die aggressor, lees maar. So terloops, Jerusalem se populasie: Joods – 61%; Moslem – 36%; Christen – 2%.

piet ·

En voorts – Persentasie gewys is daar meer Christene van Palestynse (Arabiese) afkoms as Israeliese afkoms in Israel. Die meeste Christene (by verre) in Israel en Palestina is Palestyne

Ceef ·

Annie, jy’s deels korrek maar ook heeltemal verkeerd. Dis korrek dat Brittanje die oorsaak is van die konflik, veral met die Balfour-verklaring maar die Palestyne is al duisende jare deel van die land. In 1920 het Jode slegs 13% van die bevolking uitgemaak en voor 1900 was dit nog minder. Die Palestyne is nie plakkers nie. Al die manjifieke geboue en klarinette en mure rondom Jerusalem is deur die Moslems en sultan Suleiman gebou in die 1300’s. Geeneen van die strukture is Joods nie. Palestina is nie die vaderland van die Jode per se nie maar maar hulle “geestelike” tuiste, nés dit Islam en die Christendom s’n is. Al drie die Abrahamitiese godsdienste het hulle oorsprong van die Heilige Land. Die meerderheid Jode vandag is afstammelinge van die Askenazim en Khasariërs van Oos-Europa wat van Wes-Asië af getrek het. Judaïsme is ‘n etno-geloof en Jode vandag is Wit, Arabies, Swart, Sjinees, Japanees, ens…

Blikkies ·

Dankie #Ceef,
dalk kan jy ook vir my verduidelik wat het van die destydse fillistyne geword? of is hulle ook maar oor die jare as arabiere gesien.

Ceef ·

Blikkies, hulle was nog altyd daar. Fillistyne is die waarskynlike afstammelinge van Kretiërs en Grieke en het later met die Fenesiërs en ander groepe geassimileer. Die streek het heelwat gedaanteverwisselinge ondergaan t.o.v. taal en heersers. Die Arabiere het later die hele Midde-Ooste en Noord-Afrika oorgeneem en hierdie groepe het almal geassimileer tot die geloof en taal van hierdie groep. Maar die kultuurgroepe het relatief homogeen gebly en het die Levant, wat Palestina, Jordanië, Libanon en Sirië insluit ‘n sterk eie kultuur, disse en dialek gehad. Die Christendom het ook ‘n sterk teenwoordigheid in hierdie ande gehad met Libanon en Krete op ‘n tyd self meerderheids-Christelik en Sirië en Palestina sowat ‘n derde Christelik voor die koms van Sionisme waar hulle vandag in diaspora is. Dis interessant om te sien hoe die ou Gasa-gebied en Samaria van die Bybelse tye vandag lynreg nog korreleer met Gasa-strook en die Wesoewer. Myns insiens is dit nog dieselfde volke…

Chris ·

Die “bande” tussen die wêreld se terroriste en boewe sal altyd bly bestaan. Ek sien baie keer mense dra Ché watse naam se T hemde. Niemand weet en wat die man was nie, maar hy word opgehemel. Waar gaat die mensdom heen wanneer jy die jakkalse en muishonde as jou helde vereër.

Anel ·

Nou wat sê die anc nou van hul kastige, verontregte maatjies die palestyne?

piet ·

Nie kastig nie, hulle is verontreg deur Israel wat onregmatiglik hulle historiese grondgebied geweldadig geannekseer het.

Anoniem ·

Dit het deur die verloop van geskiedenis oor die hele wêreld gebeur Piet. As alle verowerde/besette grond aan die afstammelinge van die eerste inwoners terugbesorg moet word, sal daar geen land wees wat op besitreg kan aanspraak maak nie.

Faraway ·

. . . volgens GOD se woord moet ons aanhou bid vir die vrede van Jerusalem!

Grassie ·

Om te besluit wie reg en wie verkeerd is hang van ‘n mens se geloof af. As jy gelowig is, lees Esegiël 37. Israel behoort aan die Israeliete en al wat hulle verkeerd gedoen het was om nie na die sesdaagse oorlog die land “skoon” te maak nie. Om te beweer dat die mense wat nou in Israel woon nie die werklike Israeliete is nie is ‘n dwaling. Lees veral vers 21 van die betrokke hoofstuk. Vir iemand wat nie hierdie profesie in die Bybel glo nie het ek nie raad nie.

Ceef ·

Grassie, u skrywe is ‘n dwaling, met respek. Esegiël 37 is ‘n profesie met betrekking op ons Here Jesus Christus en nie op die fisieke Israelitiese koninkryk/staat nie. Die simboliek van Esegiël 36 en 37 kom baie sterk ooreen met die koms van Jesus Christus, die droë beendere die metafoor van die ou volk onder die wet, die nuwe vlees en opstanding hoe Jesus met Sý Verbond die mens nuut maak deur die Heilige Gees, Israel is Sy Kerk (Christene) en die dienskneg Dawid is Jesus self. Die twee houte wat saam een word is ook simbolies van Romeine 11:24. Dit het niks met ‘n fisieke staat te doen nie. Trouens, die moderne Sionistiese staat is die 3de Joodse staat ná hierdie profesie van Esegiël…

Ceef ·

En u kan nie die onchristelike stelling maak dat die Jode Palestina moes “skoon maak” nie. Is u bewus dat ten tyde van die oorlog ‘n kwart van Palestyne Christene was..?

Leeuwyfie ·

Dankie Ceef vir jou ingeligte, informatiewe kommentare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.