Aanval naby Gautrein-stasie amptelik aangemeld

Joanne Atkin in pyn in die hospitaal. Foto: Facebook

Joanne Atkin in pyn in die hospitaal. Foto: Facebook

Joanne Atkin (53) kon Dinsdagmiddag amptelik haar aanval naby die Centurion Gautrein-stasie aanmeld met die hulp van die Lyttelton sektor 1-GPF wat daarvan op Maroela Media gelees het.

Hugo Erasmus, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Dinsdag deur Maroela Media kontak met die slagoffer gemaak en gesorg dat beamptes by die Lyttelton-polisiestasie haar bystaan om die voorval amptelik aan te meld.

“Die polisie het haar baie professioneel behandel. Ons het reeds ʼn saaknommer gekry en ʼn ondersoekbeampte is aan die saak toegeken,” het Erasmus Woensdag gesê.

Erasmus het gesê die GPF sal nou saam met die ondersoekbeampte werk en het reeds leidrade wat hulle gaan opvolg. “Die GPF ondersteun die polisie met mannekrag en inligting wat reeds ingesamel is. Daar was oor die afgelope tydperk baie aanvalle in die gebied tussen die Gautrein-stasie en Centurion Mall.”

Volgens Erasmus word die saak as ʼn prioriteit beskou. Die GPF het ook gereël dat Atkin toegang het tot ʼn berader.

Kapt. Tsekiso Mofokeng, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media bevestig dat die saak aanhangig gemaak is. “Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.

Maroela Media het Dinsdag berig Atkin, ʼn inwoner van Midrand, het Saterdag by Midrand op die Gautrein geklim en na Centurion gery om Centurion Mall te besoek.

Sy het omstreeks 12:45 by die Centurion-stasie afgeklim en besluit om na die winkelsentrum te stap, aangesien die busdiens nie Saterdag beskikbaar was nie. Sy het links in West-rylaan gedraai en oor die pad gestap. Sy is glo naby ʼn oop stukkie veld tussen die Gautrein-stasie en Momentum-gebou deur ʼn man genader. Hy het haar vier keer in haar linkerarm gesteek en haar handsak gesteel, voordat hy van die toneel weggestap het.

Omstanders het haar te hulp gesnel en kort daarna het ʼn motor stilgehou en haar na die Unitas-hospitaal gehaas waar sy dadelik opgeneem is. Sy is Sondag ontslaan. Haar linkerarm is van bo tot onder verbind en in ʼn hangverband.

Verwarring oor die egtheid van die voorval, waarvan gru-foto’s wyd op sosiale media gedeel is om mense te waarsku, is in twyfel getrek nadat die Lyttelton-polisie aanvanklik aan die media terugvoer gegee het dat daar nie so ʼn voorval aangemeld is nie.

Atkin, wat steeds getraumatiseerd en op medikasie is, wou die saak Maandag by die Midrand-polisiestasie aanmeld, maar beamptes wou haar glo nie help nie, alvorens sy ʼn J88-vorm van die hospitaal verkry het.

Navrae is ook aan die Gautrein gerig aangesien die aanvanklike waarskuwing die Centurion-stasie as verwysingspunt gebruik het. Die Gautrein-personeel het daarop reageer en gesê dat hulle nie bewus is van die voorval nie, omdat dit nie in of [direk] buite die stasie plaasgevind het nie, en daar geen bewys of verslag daarvan by die polisie was nie. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Irene ·

Midrand polisie moet dadelik geskors word ons het julle nie nodig nie eeer gemik teen eit persoon wat NOU van ras

Thys ·

Kan jy glo die polisie wou haar nie help nie. Sy moet die staat dagvaar.

KarenG ·

Ja Thys, ek kan dit ongelukkig goed glo. My vriendin het so 2 weke terug ook ‘n ervaring gehad by ‘n polisiestasie in die Kaap wat ook nie wou help nie. Hartseer, maar waar!!

Hennie ·

Wanneer ń klaer of klaagster sodanig beseer is of weens die trauma van die voorval nie ń duidelike verklaring kan aflê nie, moet die polisiebeampte ń saam maak names die staat. Dit staan bekend as ń sleuteldossier of skeleton docket in engels. Die ondersoek kan begin en wanneer die klaer instaat daartoe is vir ń volledige verklaring van die gebeure neem die ondersoekbeampte die verklaring. Die ondersoek kon al ver gevorderd gewees het.

Paul ·

Die huidige Polisie is nie bewus van so iets nie. Net ons ouer lede van die vorige bedeling het geweet hoe om polisiewerk te doen.

net so ·

Net so Hennie, gewone polisering, wens regtig mens kan al die geld aan Polisie kry en ‘n
ordentlike mag stig wat hul beroep ernstig opneem, daar is baie polisie lede wat wel doen, hulle met so paar werk geiriges en die tipe berigte sal kan halveer en minimaliseer.

johannes Meintjes ·

GPF inisiatiewe behoort aan die SAPD en nooddienste gekoppel te wees. Die nie-rapportering van sake of klagtes wat teruggetrek word omrede hofsake erg sloer vergemoeilik die effektiewe deurvoer en resultate van polisiering. Wat by die polisiestasie aangaan is egter ook ‘n ander saak. Ek self is al weggewys vir minstens drie aanmeldings die afgelope aantal jare. (Motorongeluk by St. Lucia, deur hond in straat gebyt in Sinoville en gesteelde voertuig uit ‘n boedel in Jhb.) Nietemin word GPF/ Buurtwag/ Plaaswag inisiatiewe landswyd aangemoedig saam met Belastingbetaalersvereenigings as deel van effktiewe en opgeskerpde burgerlike beskerming in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.