Aanval op boervrou: Saak weer uitgestel

Die saak teen die man wat daarvan beskuldig word dat hy Alison Oates in 2015 op haar plaas naby Harrismith aangeval, gemartel en verkrag het, is Woensdag weer in die plaaslike streekhof uitgestel.

Die saak sal nou eers in November aangehoor word.

Oates beskryf die jongste uitstel as “ontstellend”.

“Dit is nie maklik nie. Jy berei jouself voor vir ’n traumatiese ervaring om die verdagte weer te sien.”

Die DA het Dinsdag daarop gewys dat die saak al vyf jaar lank sloer. Die opposisieparty en Vrystaat Landbou is onder diegene wat oor die jare druk op die polisie en die regstelsel geplaas het sodat vervolging kan plaasvind.

Volgens Oates was Vrystaat Landbou se hulp in die besonder van kardinale belang in die saak.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou, het Woensdagmiddag gesê plaasaanvalle en -moorde behoort prioriteit te geniet in die land se howe.

“Ons kan nie sê waarom die saak heeltyd uitgestel word nie, maar ’n saak van dié aard behoort prioriteit te geniet en gefinaliseer te word in die lig van ernstige geweldsmisdade.”

Oates is in Oktober 2015 op haar plaas aangeval nadat sy van ʼn vergadering in Bethlehem teruggekeer het.

Twee onbekende mans het haar destyds by haar huis ingewag. Hulle het haar in haar huis ingedwing waar hulle haar met kledingstukke vasgebind het. Sy is onder meer met ʼn mes gesteek en met ʼn warm strykyster gebrand terwyl haar aanvallers op geld aangedring het.

“Sy het vir hulle gesê sy het nie baie geld nie, net dit wat sy by haar gehad het. Die mans het haar glo ook verkrag voordat hulle met haar wit Mahindra-bakkie gevlug het. Hulle het die geld wat sy by haar gehad het en ʼn selfoon gesteel,” het sers. Mmako Mophiring, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Hoewel drie verdagtes vroeër in verband met die aanval in hegtenis geneem is, is die betrokke verdagte die enigste wat in dié stadium deur DNS met die aanval verbind word.

Oates het in Desember 2016 haar storie met Maroela Media gedeel om bewusmaking te skep te midde van die destydse veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Al is sy verkrag en sou haar identiteit volgens wet teruggehou kon word, het sy toestemming gegee dat haar naam bekend gemaak mag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Maar Ramaposa en sy cowboy Bheki en kie is grootbek oor hoe hulle sulke wreedhede verag en sal vervolg? Maat hey…seker nie deel van sy “fellow South Africans” nie.

SHAME ON YOU!!!!!! Wie ook al so ligtelik omgaan met hierdie arme vrou se hel.

Suzette

Ek kan nie verstaan dat hofsake alewig uitgestel en uitgestel word nie. Hoekom kan dit nie met die eerste verhoor afgehandel word en die skuldiges in die tronk gestop word nie? Die slagoffers word oor en oor getraumatiseer en die skuldiges gaan voort met hulle lewens asof daar niks fout is nie en waarskynlik pleeg hulle nog sulke afskuwelike dade … Ek is G#tvol verby vir hierdie crap in ons land.

Pieter

Die regstelsel is net so groot grap as die ANC regering vir wie hulle werk

Kokerboom

Voor die hand liggende antwoord is ONBEVOEGDE Polisie en regsplegende persone( magistrate/regters). Tyd en dringendheid (gebrek daaraan) is ook faktore