Aanval op hawelose: Verdagte steeds in aanhouding

pretoria-jakaranda-stad-sa-tourism-flickr-com

Pretoria. Argieffoto: SA Toerisme/Flickr.com

Die man wat in hegtenis geneem is in verband met die aanval op ʼn hawelose man van Pretoria, sal steeds in die hof verskyn ondanks mediaberigte dat die aanklag teen hom teruggetrek is.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê berigte wat beweer die aanklagte teen die verdagte is laat vaar, is onwaar. “Die saak is nie op die hofrol geplaas vir vandag nie. Die man sal Maandag in die hof verskyn,” het hy gesê. Hy het bevestig die verdagte is steeds in aanhouding.

Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), kon nie Vrydagmiddag vir kommentaar bereik word nie.

Maroela Media het vroeër berig die 40-jarige verdagte is Woensdag in Sunnyside in hegtenis geneem nadat ’n hawelose man verlede naweek ’n saak by die polisie aanhangig gemaak het.

Die hawelose man is vroeër vanjaar in Sunnyside aangeval. Hy het die aanval oorleef waarna hy, aldus Makhubele, eers onlangs besluit het om die voorval aan te meld.

Dit kom te midde van bespiegeling dat ʼn reeksmoordenaar bedrywig is in die Jakarandastad nadat die liggame van vyf hawelose mans in ’n kort tydperk in die Muckleneuk-gebied in die stad gevind is.

Makhubele wou nie in dié stadium kommentaar lewer of die verdagte wat in hegtenis geneem is moontlik met dié moorde verbind kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik ferreira ·

Hierdie klink nou na tipiese sa polisie ,taakmag ingebring om n reeksmoordenaar te vang niemand gekry nie nou iemand gevang wat n boemelaar n klap gegee het aangeneem hy moet die verdagte reeksmoordenaar wees en weens geen konkrete bewyse nie gaan die saak teruggetrek word en die polisie maak weer nanas van hulself.

TN ·

Mag ek aub vir julle bittergatte iets vra ? Wie het gesorg dat Steenkamp , Van Breda , Packham , Rhode en vele ander aan die pen ry ? Die reeks-verkragter in die Wes-Kaap ? Rameez Patel ? Een van julle ?

piet piet ·

TN ek weet nie Piet Byl van die tv reeks “Die byl” fidillity guards se ondersoek eenheid of die polisie se perlemoen eenheid?

Abe ·

Hendrk ferreira,
Dis nou weer tipies van jou: Praat oor goed wat jy niks van weet nie, net solank jy die polisie kan sleg maak.

Piet kokewiet ·

Stem saam.. net iemand gevang om te lyk of hulle werk..

Gaitsigubib ·

Hulle is eintlik nogal geheimsinnig oor die detail van hierdie saak. Geen slagoffers se name is bekend gemaak nie. Op die straat het jy ‘n bynaam waarop die ander bergies jou ken so al het jy nie n id nie het jy ‘n naam. Sal graag wil weet waaroor is die geheimsinnigheid.

Brolloks ·

TN, stem saam, bittergatte is oral. Kyk maar hoe hap en byt hulle mekaar op Maroela Media se kommentaar. Dan praat hulle van saamstaan?

Jelleke Wierenga ·

Die lewe is ironies. Boemelaars, oftewel haweloses, die politiek korrekte term deesdae, word geïgnoreer, verskop en verstoot wanneer hulle lewe. Hulle word beskou as menslike vlieë wat die omgewing verpes. Sodra hulle egter (onnatuurlik) sterf, is daar groot kommer en onmiddellike optrede deur die polisie. Waarom nie dié sorg, omgee en geldbesteding wanneer hulle lewe nie? Nóú is dit nie nodig nie – hulle is tuis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.