Aanval op Magoebaskloof-kleinhoewe: Niemand nog vas

Argieffoto

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die aanval op Koos Herman Dinsdag helder oordag op ʼn kleinhoewe in die Magoebaskloof-omgewing in Limpopo nie. Herman is in sy 50’s.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig Herman was alleen tuis toe hy omstreeks 08:15 deur drie gewapende mans oorval is, soos vroeër berig.

“Hy het op die stoep gesit en ontspan toe hy geluide in die huis gehoor het. Hy is vinnig die huis in om ondersoek te gaan instel toe hy drie mans in die huis gesien het. Herman het hulle gevra wat hulle soek, waarna een van die verdagtes weggehardloop het en een van die oorblywende twee ʼn vuurwapen uitgepluk het,” het Ngoepe gesê.

Ngoepe het gesê Herman het na sy slaapkamer gehardloop en wou die deur sluit toe die verdagtes hom inhaal en oorweldig het. “Hulle het sy hande met ʼn lyfgordel en die kabel van ʼn selfoonlaaier vasgebind en op geld aangedring.”

Die verdagtes het onder meer ʼn televisiestel, ʼn hoëtroustel, ʼn tabletrekenaar, ʼn kamera, twee horlosies, skoene en twee tasse gebuit.

Twee skote is afgevuur voordat hulle op die vlug geslaan het. Herman kon later daarin slaag om los te kom en hulp te ontbied. Hy is nie ernstig tydens die voorval beseer nie.

Die Tzaneen-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Die ondersoek duur voort.

Dié aanval volg minder as ʼn week na dié waarin Robert Turner (67) en sy vrou Debbie (66) op hul plaas by Haenertsburg, naby Magoebaskloof, aangeval en erg aangerand is. Turner is tydens die voorval erg aangerand en ook in die been geskiet. Hy het in die Mediclinic Tzaneen aan sy beserings beswyk. Debbie het geringe beserings opgedoen.

ʼn Ondersoek word gedoen om te bepaal of die twee aanvalle verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Soaul ·

“huisroof”. en ons weet teen die tyd dat niemand ooit “vasgetrek” word of ooit sal nie.

Pastoor ·

Onwelkome rowers wat oortree steel en roof en moor. Johannes 10.10 beskrywe hul baas mooi. Wat nie aan hulle behoort steel hulle. Waarvoor hulle nooit gewerk het vat hulle. So lewe hulle.

Ernst ·

Hulle is dan geregtig op alles. Hulle wil net he he en nogmaals verniet he. My 15 vriende is by my dag en nag

Michael ·

Ek se altyd om iets aan te neem is die oorsaak van meeste vloppe nou wonder ek nog steeds wie val die arme boere aan vermoor ,verkrag ,vermink hulle want die media is te bang om te se .Ek wens Malema wil n media netwerk begin want hy se n ding soos dit is ek sal sepedi leer net om die ware feite te kry soos dit is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.