Aanval op polisiestasie: Beamptes sal staatsbegrafnisse ontvang

Forensiese beamptes op die toneel by die Ngcobo-polisiestasie, tussen Mthatha en Queenstown in die Oos-Kaap, waar ‘n groep gewapende aanvallers op die stasie toegeslaan het (21 Februarie 2018). Foto: SAPD

Hoofbeamptes van die polisie sal Donderdag die families besoek van die gevalle beamptes wat Woensdagoggend tydens ʼn aanval op die Ngcobo-polisiestasie in die Oos-Kaap doodgeskiet is.

Kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn taakspan bestaande uit speurders, asook lede van die Valke, misdaadintelligensie en die polisie se taktiesereaksie-eenheid is saamgestel om die verdagtes op te spoor.

“Hulle het nog nie geslaap nie, maar is warm op die spoor van die oortreders. Hulle ontleed die bewyse wat op die toneel verkry is en gebruik dit om vir leidrade te fynkam wat in die soektog gebruik kan word.”

Tonjeni het gesê die polisie hoop vir ʼn deurbraak en wag angstig op inhegtenisnemings.

“Aan die diensleweringskant werk ons ook om die situasie by die polisiestasie te bestendig sodat dit steeds gehaltediens aan die Ngcobo-gemeenskap kan lewer.”

Fikile Mbalula, minister van polisie, het Woensdag die taakspan aangemoedig om geen steen onaangeroer te laat in die ondersoek nie.

Mbalula het sy medelye aan die families van die oorlede beamptes betuig en belowe dat die beamptes amptelike staatsbegrafnisse sal ontvang aangesien hulle hul lewe verloor het terwyl hulle in diens van die land was.

Mbalula het gesê die polisie se onderrigfonds moet ook gebruik word om die kinders van die oorledenes te help om opvoedkundig te ontwikkel.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep gewapende aanvallers het vroeg gisteroggend die Ngcobo-polisiestasie binnegegaan en op die beamptes aan diens losgebrand.

Drie beamptes is op die plek doodgeskiet en ʼn soldaat wat nie aan diens was nie, is ook doodgeskiet terwyl die verdagtes gevlug het. Die verdagtes het van die toneel gevlug met ʼn polisiewa en twee polisiebeamptes saam met hulle geneem.

Die liggame van die twee beamptes is later langs die pad, sowat ses kilometer van die polisiestasie af, aangetref. Dit blyk dat albei beamptes op teregstellingswyse geskiet is.

Die polisievoertuig is sedertdien teruggekry.

Die vyf polisiebeamptes wat oorlede is, was almal mans – ʼn adjudant-offisier en vier konstabels. Vyf vrouebeamptes ontvang tans berading. Volgens die polisie is tien vuurwapens, waaronder twee gewere, twee haelgewere en ses pistole, gesteel.

Die motief agter die aanval is steeds onduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Michael ·

Dit lyk vir my na onopgeleide poliesie lede wat. nie misdaad kan bekamp nie tien teen een het hulle aan diens geslaap en was n maklike teiken ek voel vir hulle famielies maar die owerhede moet die skuld kry want hulle sit enige mense daar in. Ons moet die poliesie opleiding gee wat van hulle fikse en sterk manne maak nie nfet om n werk te he nie. Hulle moet immers die land beskerm. Nou is die moorde heel te mal ( OUT OF CONTROLE)

Daan Erasmus ·

Haai nooit Micheal. Jy moet heldersiende wees. In die meeste SAPD stasies in die land sal ‘n gewapende bende in die nag die oorhand kry. Hierdie is an anargie. Dit is nie die normaal nie.
Ek sien net nie dat daar ‘n beloning is nie. Skelms het geen eer nie. Bied ‘n beloning aan en hul verkoop mekaar uit.

Jacques Venter ·

Michael
Hoe lank was jy in die polisie diens?
Het jy toe gesien hoe onbeskermd polisie stasies is?

Ek vra eenkeer vir n hoë offisier hoekom die stasies so ontbloot is. Sy antwoord dat dit absoluut toeganklik vir die publiek moet wees.

Ek wag angstig vir jou antwoord.

Al ·

Dis baie maklik om te oordeel in só n situasie. Moet jy veg of moet jy die rowers gehoorsaam? Ek glo hierdie polisiebeamptes het nie ñ kat se kans gestaan nie. Maak nie saak wat hul nanosekonde se besluit was nie.

Ja hoor ·

Jammer dat as onskuldige boere, hulle vrouens en kinders sterf aan die hand van geweldenaars daar NOOIT enige poliskommisaris of minister of LUR opdaag om enige medelye te betoon nie. Geen hulp word aangebied nie, nie eers mediese hulp aan hierdie arme mense wat OF nie medies het OF wie se medies uitgeput is na al die behandeling na al die skote deur hulle liggame of hoof- en brandbeserings nie .. Neewat julle SIMPATIE is selektief!

Leeutjie ·

Dieselfde gedagte was in my kop Ja Hoor! Wat van ons boere en hul werkers se kinders? Hulle skep die indruk van ‘who cares’…

Leonie ·

Maak nie saak hoe dit gebeur het nie dit bly onaanvaarbaar. Polisiestasies moet kameras en bulletproof glas voor die toonbanke kry. Dis ook lewens en arme families is in rou gedompel. Dis verskriklik hartseer. Glo my as ‘n lot mans op jou afstorm en begin skiet het jy in daai halwe sekond nie genoeg tyd om jou vuurwapen uit te pluk nie. Die kriminele is ‘n lot lafaards en ek hoop hulle word spoedig aangekeer. Baie sterkte aan al die families en ek hoop Mbalula het nie net leë beloftes aan die gesinne nie. Ons het ‘n Polisie Hoof nodig wat weet wat hy doen en die misdaad syfer moet vining afkom want huidiglik is dit ‘n sirkus. Bheki Cele was baie beter gewees net jammer Zuma het hom uitgewerk.

Pieter ·

Ek stem nie saam hulle moet opgeleide polisie beamptes kry wat gedissiplineerd is en hulle werk doen

Michael ·

Kan ons nie nou vir ZUMA die polisie hoof maak nie hy het mos baie kriminele ondervinding . Minstens sal daar een ou is wat weet wat aan gaan

RobbyRobby ·

Ek wil net sê ongeag van die omstandighede op daardie tydstip dit regverdig nie die situasie in ons land nie. Dit het lankal tyd geword om te besluit deur ons regs stelsel om die doodstraf in werking te sit. Dit is nie meer lank nie dan word ons hele kabinet oorheers deur kriminele en misdadigers. Spyt is ʼn goeie ding maar mense besef dit te laat. Dan is die skade klaar gedoen.

Anti ANC ·

Die anc is korrup en sal altyd korrup en kommunisties bly
Hulle voel n veer vir n lewe.Hierdie is net window dressing.

lewens tel nie vir sekere mense nie ·

Ek stem saam meeste van die kommentaar behalwe natuurlik weer die wat meld die lede is nie opgelei ens nie. Gaan kyk bietjie hoe onveilig is meeste stasies en dit terwyl daar altyd van die hoe koppe in hul lugversorgde kantore sit en verby kyk na aansoek vir beveiliging van polisiestasies. Die prosesse vat vir ewig indien dit wel oorweeg sal word. Nou hardloop die met die hoe range weer rond daar by die stasie waar dit gebeur het, om raak gesien te word, daarna vergeet hul van die wat agterbly nadat Staat vir begrafnis betaal plus die minimale aan diens dood bedrag. Ek is self daar deur en weet waarvan ek praat, beloftes was gemaak in 2010 dat na kinders van afgestorwe lede gekyk sal word, maar as jy vra daarna is die antwoord dat 2010 se weeskinders nie ingesluit word met die oa die studiehulp nie……..

Casper Labuschagne ·

Ag nee, dit is verbysterend. Die motief vir die aanval is nie bekend nie, niemand is nog aangekeer nie maar een voertuig is teruggevind? Lyk my die misdaadintelligensiediens is ‘n nul op ‘n kontrak. Daar is letterlik ‘n dun blou lyntjie wat staan tussen ons en totale anargie en nou word hulle self nie net aangeval nie, maar sukkel boonop om sulke voorvalle te ondersoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.