Aanval op polisiestasie: Beamptes sal staatsbegrafnisse ontvang

Forensiese beamptes op die toneel by die Ngcobo-polisiestasie, tussen Mthatha en Queenstown in die Oos-Kaap, waar ‘n groep gewapende aanvallers op die stasie toegeslaan het (21 Februarie 2018). Foto: SAPD

Hoofbeamptes van die polisie sal Donderdag die families besoek van die gevalle beamptes wat Woensdagoggend tydens ʼn aanval op die Ngcobo-polisiestasie in die Oos-Kaap doodgeskiet is.

Kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn taakspan bestaande uit speurders, asook lede van die Valke, misdaadintelligensie en die polisie se taktiesereaksie-eenheid is saamgestel om die verdagtes op te spoor.

“Hulle het nog nie geslaap nie, maar is warm op die spoor van die oortreders. Hulle ontleed die bewyse wat op die toneel verkry is en gebruik dit om vir leidrade te fynkam wat in die soektog gebruik kan word.”

Tonjeni het gesê die polisie hoop vir ʼn deurbraak en wag angstig op inhegtenisnemings.

“Aan die diensleweringskant werk ons ook om die situasie by die polisiestasie te bestendig sodat dit steeds gehaltediens aan die Ngcobo-gemeenskap kan lewer.”

Fikile Mbalula, minister van polisie, het Woensdag die taakspan aangemoedig om geen steen onaangeroer te laat in die ondersoek nie.

Mbalula het sy medelye aan die families van die oorlede beamptes betuig en belowe dat die beamptes amptelike staatsbegrafnisse sal ontvang aangesien hulle hul lewe verloor het terwyl hulle in diens van die land was.

Mbalula het gesê die polisie se onderrigfonds moet ook gebruik word om die kinders van die oorledenes te help om opvoedkundig te ontwikkel.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep gewapende aanvallers het vroeg gisteroggend die Ngcobo-polisiestasie binnegegaan en op die beamptes aan diens losgebrand.

Drie beamptes is op die plek doodgeskiet en ʼn soldaat wat nie aan diens was nie, is ook doodgeskiet terwyl die verdagtes gevlug het. Die verdagtes het van die toneel gevlug met ʼn polisiewa en twee polisiebeamptes saam met hulle geneem.

Die liggame van die twee beamptes is later langs die pad, sowat ses kilometer van die polisiestasie af, aangetref. Dit blyk dat albei beamptes op teregstellingswyse geskiet is.

Die polisievoertuig is sedertdien teruggekry.

Die vyf polisiebeamptes wat oorlede is, was almal mans – ʼn adjudant-offisier en vier konstabels. Vyf vrouebeamptes ontvang tans berading. Volgens die polisie is tien vuurwapens, waaronder twee gewere, twee haelgewere en ses pistole, gesteel.

Die motief agter die aanval is steeds onduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael

Dit lyk vir my na onopgeleide poliesie lede wat. nie misdaad kan bekamp nie tien teen een het hulle aan diens geslaap en was n maklike teiken ek voel vir hulle famielies maar die owerhede moet die skuld kry want hulle sit enige mense daar in. Ons moet die poliesie opleiding gee wat van hulle fikse en sterk manne maak nie nfet om n werk te he nie. Hulle moet immers die land beskerm. Nou is die moorde heel te mal ( OUT OF CONTROLE)

Al

Dis baie maklik om te oordeel in só n situasie. Moet jy veg of moet jy die rowers gehoorsaam? Ek glo hierdie polisiebeamptes het nie ñ kat se kans gestaan nie. Maak nie saak wat hul nanosekonde se besluit was nie.

Ja hoor

Jammer dat as onskuldige boere, hulle vrouens en kinders sterf aan die hand van geweldenaars daar NOOIT enige poliskommisaris of minister of LUR opdaag om enige medelye te betoon nie. Geen hulp word aangebied nie, nie eers mediese hulp aan hierdie arme mense wat OF nie medies het OF wie se medies uitgeput is na al die behandeling na al die skote deur hulle liggame of hoof- en brandbeserings nie .. Neewat julle SIMPATIE is selektief!

Leonie

Maak nie saak hoe dit gebeur het nie dit bly onaanvaarbaar. Polisiestasies moet kameras en bulletproof glas voor die toonbanke kry. Dis ook lewens en arme families is in rou gedompel. Dis verskriklik hartseer. Glo my as ‘n lot mans op jou afstorm en begin skiet het jy in daai halwe sekond nie genoeg tyd om jou vuurwapen uit te pluk nie. Die kriminele is ‘n lot lafaards en ek hoop hulle word spoedig aangekeer. Baie sterkte aan al die families en ek hoop Mbalula het nie net leë beloftes aan die gesinne nie. Ons het ‘n Polisie Hoof nodig… Lees meer »

Jim

Ek stem