Aanvalle op elektrisiteitspanne vertraag dienslewering

(Argieffoto: pixabay)

Stad Kaapstad is besorg oor fisiese en verbale aanvalle op sy personeel en beamptes terwyl hulle met hul pligte besig is.

“Beserings weens aanranding, rooftogte, pogings tot kaping, voertuie wat met klippe en bakstene bestook word en aanranding deur betogers het ongelukkig deel geword van die werk van beamptes en kontrakteurs wat in sommige dele van die stad werk,” het Phindile Maxiti, burgemeesterskomiteelid van energie en klimaatsverandering, in ʼn verklaring gesê.

“Stad Kaapstad sal steeds sy bes doen om basiese en noodsaaklike dienste te lewer, maar personeel en kontrakteurs se veiligheid bly ʼn prioriteit. Elektrisiteitsdienste sal in sommige gebiede opgeskort bly totdat dit veilig is om dienslewering te hervat.”

Maxiti het gesê die aanvalle het ʼn impak op dienslewering en gevolglik ook op inwoners en gemeenskappe. Kontrakteurs is ook al hoe meer huiwerig om te tender vir werk in sommige dele van die stad weens veiligheidsredes.

“Die stad se bestuur ondersoek verskeie oplossings soos verhoogde sekuriteits-begeleiding. Die veiligheid van personeel en kontrakteurs bly egter die hoogste prioriteit en elektrisiteitsdienste sal nie verskaf kan word in sekere dele nie totdat dit veilig genoeg is om dit te doen en wetstoepassers of veiligheidsbeleiding beskikbaar is,” het Maxiti bygevoeg.

“Ons hoor ook al hoe meer gevalle van uiterste geweld en aanvalle, veral op vroulike personeellede. Personeel is gereeld getraumatiseer. Dit is absoluut onaanvaarbaar en dit is die gemeenskappe wat daaronder ly as die stad besluite moet neem om dienste tydelik op te skort.”

ʼn Toename in onwettige besettings het ook tot ʼn toename in onwettige elektrisiteitsverbindings in sommige dele gelei. “Dit oorlaai die stelsel en veroorsaak verlengde kragonderbrekings vir naburige gemeenskappe omdat die elektrisiteitsinfrastruktuur beskadig word. Voor die onlangse rits onwettige besettings was byna 100% van die stad se informele nedersettings aan elektrisiteit verbind. Ons moedig gemeenskappe aan om die stad te ondersteun en eienaarskap te neem van gemeenskapsinfrastruktuur wat herhaaldelik beskadig word deur misdadigers. Om herhaaldelik die infrastruktuur te herstel is nie volhoubaar nie, veral nie te midde van begrotingsbesnoeiings nie.”

Anonieme wenke oor onwettige aktiwiteit word verwelkom. Inwoners kan 112 (tolvry) van ʼn selfoon skakel, 107 van ʼn landlyn of 021 480 7700 vir noodgevalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Nee wat.Staak alle dienslewering na plekke waar dit nie veilig is nie.Die klomp kan maar daar sonder gaan.Of privatiseer elektristeit voorsiening.

Gert ·

As jy nie betaal nie sny af geen rede dat ander moet betaal vir onwettige kragverbruik nie. So sal dit ook beter gaan met Eskom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.