Aanvalle op noodpersoneel aan die toeneem

Argieffoto: drive-awayspecialist.com

Aanvalle op noodpersoneel in Ekurhuleni en Johannesburg neem al meer toe, tot so ’n mate dat daar vir noodpersoneel se veiligheid gevrees word oor die komende feesseisoen.

Dít is volgens William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni ramp- en noodbestuurdienste. Ntladi het in ʼn verklaring gesê daar word gevrees dat noodpersoneel oor die Desember-feestydperk deur aanvallers geteiken sal word.

Volgens Ntladi het die aanvalle op noodpersoneel in Ekurhuleni en Johannesburg toegeneem en het die aanvalle dikwels ingrypende en langtermyngevolge. “Ná een van hierdie aanvalle moes een van ons lede haar beroep as ʼn brandbestryder vaarwel roep weens die beserings wat sy opgedoen het. Ander personeellede ondergaan mediese behandeling en emosionele berading [ná die aanvalle]. Verskeie voertuie is al afgeskryf weens die skade wat tydens die aanvalle aangerig is,” het Ntladi gesê.

Op 29 Oktober is Ekurhuleni-noodpersoneel in die Somalia informele nedersetting aangerand en beroof. ʼn Dag later is ʼn ambulans in Palm Ridge met klippe bestook. Noodpersoneel is in Julie in die Dukathole informele nedersetting in Germiston aangerand en daar is op ʼn brandweerwa geskiet.

Personeel van die Leon Ferreira-brandweerstasie moes kort voor dit koes vir skuiling nadat daar tydens ʼn noodgeval op hulle en hul brandweerwa geskiet is. Verlede jaar Desember is ʼn brandweerwa ook met klippe bestook in die Angelo informele nedersetting, terwyl nog ʼn brandweerwa in Moleleki aan die brand gesteek het. In November is paramedici op ʼn ongelukstoneel op die N3-Noord aangerand.

Ntladi het gesê die aanvalle is irrasioneel en plaas nog meer druk op die reeds beperkte hulpbronne wat veronderstel is om lewens te red. “Die aanvalle affekteer die ongewapende noodpersoneel op baie maniere en het ʼn negatiewe impak op die gemeenskappe wat afhanklik is van hul dienste,” het hy gesê.

“Ons doen ʼn beroep op die samelewing om na hul morele kompas te kyk en noodpersoneel te beskerm wat ʼn onmisbare diens aan gemeenskappe lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leahim ·

En watter departement moet ons bedank dat misdaad die hoogte inskiet ???

willie ·

wanneer daar gekyk word na die omgewings waar dit plaasvind is dit soortgelyk aan die van Kaapstad se omgewing! dit verbaas my nie, moet dus nie reageer op ñ uitroep nie!

PJC ·

Stem saam Willie. As gemeenskappe nie self na nooddienswerkers se veiligheid help omsien nie moet hulle nie gehelp word nie. Daardie booswigte kom uit daardie gemeenskappe.

Hanna ·

Jan van Riebeeck se skuld… Sal tog nooit verantwoordelikheid vir hul dade aanvaar nie. Viva Afrika!

Verstik ·

“….doen ‘n beroep op die gemeenskap om na hul morele kompas te kyk….” daar is heel duidelik nie morele waardes om mee te begin nie, so die kanse is skraal.

Liamari ·

Selfs in ‘n volslae oorlog word noodpersoneel respekteer. Dit was nog altyd so. Watter tipe nasie val sy eie noodpersoneel aan? Wat kan mens doen aan hierdie barbaarsheid?

PATTY ·

Ek verstaan dat daar sekere gebiede in die Kaap wat geïndentifiseer is as ROOI GEBIED. Dit beteken geen nood voertuie mag die gebied binnegaan sonder die bystand van die polisie nie agv sulke aanvalle op mediese/noodpersoneel. As die polisie nie hul samewerking wil gee nie dan is dit onskuldige mense se lewens wat daaronder ly. Alle gebiede moet as Rooi gebiede gemerk word waar noodpersoneel aangeval word. Ek voel jammer vir diegene wat wel noodpersoneel nodig het en hul nie skuldig maak aan hierdie tipe aanvalle nie maar dan moet die gemeenskap begin om hul eie veiligheid te beskerm en skuldiges aan te vat. Dit is nie nodig vir noodpersoneel om heeltyd oor hul skouers te loer vir aanvallers nie. Dis hul werk om pasiente by te staan in nood.

Johann Jordaan ·

Daar is nou die dag ‘n kind dood waar die ambulans aangeval is, identifiseer die gevaarlike gebiede en moet nie uitroepe soontoe aanvaar nie. Lei ook personeel op om vuurwapens te hanteer en hul self te verdedig.

Johan ·

As die skurke wat die noodpersoneel aanrand aangekeer kan word, het jy 9 uit 10 keer die brandstigters ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.