Aanvalle op vragmotors; voetganger sterf

Die vragmotor het omgeslaan (Foto: Verskaf)

ʼn Afleweringsvragmotor wat Dinsdag in Belhar op die Kaapse Vlakte deur inwoners met klippe bestook is, het omgeslaan en ’n vrou langs die pad in die proses kritiek beseer. Dié vrou het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Die vragmotor het glo leë palette vervoer.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is omstreeks 13:30 na die Stellenbosch-hoofverkeersweg in Belhar ontbied.

Campbell sê die vrou, wat vermoedelik in haar dertigerjare is, is op die sypaadjie, ongeveer 50 meter van die vragmotor af, aangetref. Sy het verskeie kritieke beserings opgedoen en het nie gereageer nie.

Paramedici het kunsmatige asemhaling op haar begin toepas. Sy is daarna na die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad vervoer waar sy ongelukkig in noodgevalle aan haar beserings beswyk het.

Die vragmotorbestuurder het ligte beserings opgedoen en is ook na die hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.

Die Kaapstadse brandweer en polisie was op die toneel.

Hierdie voorval volg na verskeie afleweringsvragmotors die afgelope week in die Wes-Kaap onder plundering deurgeloop het.

Maroela Media het vroeër berig vier mense is in hegtenis geneem wat Maandagmiddag glo betrokke was by die plundering van afleweringsvoertuie in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte. Video’s wat wys hoe tientalle mense op die vragmotors toesak en dit dan besteel, is op sosiale media geplaas.

Tientalle mense sak op ‘n Checkers-vragmotor toe (Foto: Armand Hough, ANA)

’n Afleweringsvragmotor van Checkers wat voedsel vervoer, is Maandag ook met klippe bestook en geplunder in Robert Sobukwe-straat, digby die N2, in Kaapstad.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het dié voorvalle van plundering en kwaadwillige saakbeskadiging veroordeel.

“Ons is tans besig met ’n krisis as gevolg van die afsondering en die ekonomiese uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Hierdie plundering gaan hierdie uitdagings net nog verder vererger. Vir baie is dit ’n stryd om voedsel op die tafel te sit, ” het Fritz gesê.

Fritz sê hy is in gesprek met die kabinet om dringende oplossings vir die probleem van plundering te vind.

“Dit is vir ons ’n groot bron van kommer, en ons regering het baie stappe gedoen om soveel mense moontlik te help. Ek wil dit egter duidelik stel dat dade van misdadigheid nie geduld word nie. Ons doen ’n beroep op al ons inwoners om ten alle tye by die wet te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tinus ·

Dit is tyd dat aflewerings voertuie van gewapende wagte vergesel word. Dit gaan baie erger word voor dit beter word.

Rodger17 ·

So sal dit net erger word cyril,jy en jou regering moet volle verantwoordelikheid vat vir die chaos

Tino ·

Die mense is hongor! Seker gedink daar is kos in daai toe lorrie. Let the hunger games begin!

Ronel ·

Dit gaan nie net daar stop nie. Dinge gaan net erger raak…………..Juis nou……………Meer as ooit!

Scalla ·

Wettig die nuwe SA boemerang, as hy kom is dit n klip en as dit terug gaan is dit n rubber koeel. Die klip word defenitief nie gegooi om jou skrik te maak nie, dis mos dan selfverdediging.

Peet ·

Solank die gepeupel toegelaat word om met hul snert aan te hou, solank gaan hierdie dinge gebeur.

Alexz ·

Van die ouer garde sal nog die depressie van die 50’s onthou. Waar jy in ñ myl lange tou gestaan het, om met ñ kos koepon ñ sakkie mieliemeel kon kry. Daar was eenvoudig net geen kos nie en die staat het verspreiding van die bietjie wat daar was, beheer. Hierdie keer kan dit egter ñ wêreldwye krisis word.
Bid, hoop en waak dat dit nie weer so vêr sal gaan nie…..

PieterP ·

Wag wag net so bietjie. Visch Naido het dan net gister gesê die publiek het die SAPS se reaksie tyd en mag nou gesien en dat die soort ding nie weer sal gebeur nie. Altans so gelees hier op Maroela. Nou ou Visch, waar was julle? Het die SAPS WEER inligting gekry en daarop gereageer nie? Hoe is daar so ‘n samedromming en nie die SAPS of SANDF weet daarvan nie? Weer besig om op te stock op drank en rookgoed? Dan weer, my simpatie is soos my geld, op! As jy wil roof en plunder moet jy vat wat jou kant toe kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.