Aanvaller gestraf vir beesboer se moord

John Viedge is in sy plaashuis in die Oos-Kaap doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Een van die moordenaars van die beesboer John Viedge is lewenslank tronk toe gestuur vir sy aandeel in die plaasmoord naby Nqanqarhu (Maclear) in die Oos-Kaap.

Zamile Mandlakazi (25) is vroeër vandeesweek in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) ’n lewenslange vonnis opgelê vir die moord op Viedge sowel as 15 jaar tronkstraf vir roof en agt jaar tronkstraf vir huisbraak.

Dít volg nadat ’n volledige ondersoekdossier aan die direkteur van openbare vervolging oorhandig is, sê kapt. Ursula Roelofse, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap.

Die 79-jarige Viedge is verlede jaar Mei in die vroeë oggendure in sy plaashuis deur ’n veiligheidshek in die slaapkamer doodgeskiet nadat verdagtes toegang tot die huis verkry het.

Viedge se liggaam is destyds met die polisie se aankoms op die toneel met ’n skietwond in die slaapkamer aangetref.

Sy vrou het die aanval oorleef nadat sy onder die bed weggekruip het.

Roelofse vertel dat die ondersoek die ondersoekbeampte in die saak, ao. Julius Mani, soms tot so ver as Gauteng geneem het. Die waarnemende distrikskommissaris, brig. Asogran Naidoo, het Mani Vrydag vir sy ondersoek geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcello ·

Wow !!! wat ‘n wonderlike briesie om te lees dat die ondersoek beampte ao. Julius Mani, so doeltreffend is, ons het meer van jou soort in die Polisiemag nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.