Aanvaller kom sy moses teë met Rustenburg-gesin

Hennie van der Merwe snr. ná die aanval (Die foto is gemanipuleer om die ergste bloedvlekke weg te steek)

WAARSKUWING: Foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

ʼn Aanvaller het sy moses teëgekom toe hy Dinsdagoggend in die vroeë oggendure by die Van der Merwe-gesin van Rustenburg ingebreek het.

Charné van der Merwe, die dogter, sê sy het wakker geword van iemand in die kamer waar sy geslaap het. Sy het eers gedink dit is haar ma, maar toe die persoon haar nie gerusstel nie en boonop haar en haar dogtertjie se selfone van die laaier afhaal, het sy onraad vermoed.

Charné en haar sesjarige dogtertjie woon tans saam met haar boetie Hennie, by hul ouers se huis in Krugerstraat. Haar pa het drie weke gelede ʼn rugoperasie ondergaan en moet nog ʼn stut om sy lyf dra.

Haar ouers, Hennie en Sienie van der Merwe, het boonop verlede Sondag eers by die huis ingetrek ná hulle weg is van hul plaas Lindleyspoort.

Charné en haar broer wou hul ouers ondersteun tydens die trekkery, veral omdat haar pa nog aansterk ná die operasie.

Charné het nie op haar laat wag nie. Sy het dadelik die inbreker gegryp. “Hy het losgekom, maar ek het hom weer gegryp en hom ʼn hou gegee.”

Die inbreker wou die deur voor haar toeskuif, maar sy kon die deur oopkry en met dié geraas het haar boetie kom ondersoek instel.

“Ons het met hom deur die huis baklei. My pa het intussen ook betrokke geraak en die knaap vasgehou. Hy wou deur die ruit ontsnap.”

Die gesin vermoed ʼn tweede inbreker was ook op die toneel, omdat die persoon wat hulle aangekeer het, deurgaans om hulp geskree het na ʼn makker buite die huis.

“Ons weet nog steeds nie waar hy ingekom het nie.”

Charné kon intussen haar sesjarige dogtertjie na haar ma se kamer neem sodat sy nie sien wat gebeur nie. “Ek het haar hoor huil. Sy het bly sê ‘hulle gaan my mamma seermaak’, maar ek het haar gerusgestel.”

Charné het haar ma gevra om die polisie te bel en ʼn nylontou in die motorhuis gaan haal waarmee hulle die inbreker kon vasbind.

“Die polisie het baie lank gevat om te reageer. Die ambulans het ook glad nie gereageer nie.”

Die gesin het hulle op die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum beroep.

Die aanvaller voer intussen aan die gesin het hom van die straat af gegryp en hom aangerand. “Die polisie sê ook ons het geweier om hulle deur die misdaadtoneel te vat.”

Sy sê hulle kon ongelukkig nie vir die polisie die mes wys waarmee die man hulle aangeval het nie, omdat die mes, tydens die bakleiery, uit die ruit buite die huis geval het.

Charné het ʼn meswond teen haar kop en oog opgedoen. Haar ooglid sweer steeds en die dokters kon nog nie vir haar steke insit nie. “Ek sukkel met my oog. Ek moet hom deurlopend skoonmaak en antibiotika bly drink.”

Haar broer Hennie het vyf meswonde opgedoen en het baie bloed op die toneel verloor. Hy is na Med24 geneem. Hy het vier steke gekry vir die meswond by sy sleutelbeen, vyf steke vir die wond regs agter op sy rug, drie steke vir die wond op sy bors, veertien steke waar sy elmboog tot op die been oopgesny is en vier steke waar sy pinkie oopgesny is.

Haar pa het onder sy arm op sy skouerblad ook ʼn meswond opgedoen. “Die knaap wou hom in die maag ook steek. Mens kan die mesmerk op die stut sien.”

Charné sê sy dink nie die aanvaller het geweet waarvoor hy hom inlaat nie. “Ek dink nie hy het gedink ek gaan hom agternasit nie en ek vermoed hy het ook nie geweet daar is soveel mense in die huis nie. Mens voel nie die meswonde terwyl jy baklei nie, mens se adrenalien is te hoog. Mens moet kies: dis my lewe of sy lewe.”

Haar ouers het die huis reeds in 2004 gekoop, maar het sedertdien huurders in die huis gehad. Die vorige huurder is egter vort met hul volledige alarmstelsel (insluitend die ogies), ʼn 120 jaar oue tafel en selfs die dakwaaiers. Slotte van die hekke is ook verwyder. Die vorige huurder was ook ʼn paar maande agterstallig met sy huurbetaling en het dreigemente vir haar ouers gestuur.

Die gesin is onseker of die huis dalk geteiken is as gevolg van die vorige huurders wat daar gebly het en of die huis moontlik net as ʼn sagte teiken gesien is.

Die alarmstelsel sou dieselfde dag nog geïnstalleer word voor die aanval plaasgevind het.

“Die knaap het egter die verkeerde huis op die verkeerde dag gekies,” sê Charné.

Haar dogtertjie is nog baie getraumatiseer ná die voorval en sal beslis berading moet kry.

“Ek is dankbaar dat my boetie die aand daar was. Sy verloofde bly ook in die dorp, maar hy het besluit om oor te slaap toe ons so laat nog goed opgehang het in die huis. Nou probeer ons moed hou en ons probeer ons geloof bymekaar hou. Ons het baie vrae en ons wonder hoekom dit gebeur het, maar ons probeer dit bymekaar hou.”

Brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale woordvoerder vir die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van huisbraak en aanranding is aanhangig gemaak.

“ʼn Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is ook aanhangig gemaak vir die ernstige beserings wat die verdagte opgedoen het. Hy is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.”

Mokgwabone sê die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Papsak ·

Ja ons mag ons net nie beskerm nie dan is dit nie reg nie dankie vader hulle lewe dankie vir daai dogter wat so dapper was maar ja nou gaan hulle die skuld kry want hy se klaar hulle hom van die straat af aan geval kyk hoe lieg hulle hy was dan in die mense se huis klaar weet jy laat el liewers stil bly my bloed kook vir sulke dinge ?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.