Aanvallers brand op plaasvoorman, werkers los

Carel van Rensburg (37). (Foto: Verskaf)

ʼn 37-jarige Vrystaatse voorman het Donderdag vreesbevange in ʼn kas in ʼn leë plaashuis in die Wesselsbron-distrik weggekruip, nadat gewapende verdagtes op hom en ʼn paar plaaswerkers losgebrand het.

Niemand is in die voorval beseer nie en vier verdagtes is dieselfde dag nog vasgetrek. Volgens die polisie kan die verdagtes ook met ʼn inbraak op ʼn naburige plaas verbind word, waartydens vuurwapens uit ʼn kluis gesteel is. Hulle verskyn Maandag in die Wesselsbron-landdroshof.

“Ek kan nie vir jou die gevoel beskryf toe ek in daai kas gestaan het nie,” het Carel van Rensburg Maandag aan Maroela Media gesê.

Die deur na die huis was oopgebreek. (Foto: Verskaf)

“Dit het gevoel asof my hart buite my lyf klop. Ek het so swaar asemgehaal en moes doodstil wees. Ek het net my oë toegemaak, want ek wou nie sien as die deur oopgaan en hulle my skiet nie. Ek het net heeltyd gebid.”

Van Rensburg was sowat 15 minute in die kas voordat hulp op die toneel opgedaag het, maar sê “dit het soos ʼn leeftyd gevoel”. Hy het deurentyd ook probeer om boodskappe aan veiligheidsgroepe op WhatsApp te stuur, maar beurtkrag het in daardie stadium gegeld en sy boodskappe het gesukkel om deur te gaan.

Hy verduidelik dat hy op die betrokke dag op pad werk toe was, toe hy omstreeks 07:00 verdagte voetspore op die plaas opgemerk het. Die huis op die plaas staan al ʼn jaar leeg, hoewel daar steeds met mielies op die plaas geboer word. Van Rensburg het vantevore in dié huis gewoon, maar het destyds dorp toe getrek en ry bedags in om te werk.

Die voetspore het presies gelyk soos dié wat op 5 Januarie op ʼn buurplaas gevind is, waar ʼn aantal verdagtes by ʼn plaashuis ingebreek en vuurwapens uit die kluis gesteel het. Die inwoners was in dié stadium met vakansie. Van Rensburg en ʼn aantal plaaswerkers het toe besluit om ondersoek in te stel.

Die 23-jarige verdagte wat eerste in hegtenis geneem is. (Foto: SAPD)

Hulle het niks of niemand om die huis gesien nie. Daar was wel skade aan die huis en die deur was oopgebreek.

“Ons het ingegaan en rondgekyk. Dit het gelyk asof mense daarbinne slaap. Ek wou net aan die handvatsel van die toe badkamerdeur vat, toe iemand dit van binne af oopmaak en op ons skiet. Die werkers het agter my gestaan en gevlug. Ek het ook weggehardloop en in die kas gaan wegkruip.”

Hy het geweet die werkers is weer by die huis uit, maar was nie seker of die gewapende verdagtes nog in die huis is nie.

Een van die werkers het hulp ontbied en wagte van die onderneming waar Van Rensburg werk, was binne ʼn paar minute op die toneel. Toe Van Rensburg die bekende stemme van die werkers en wagte hoor, het hy na hulle uitgeroep.

Die ammunisie waarop die polisie beslaggelê het. (Foto: SAPD)

Nog hulp, waaronder verskeie polisie-eenhede, boere van die omgewing en ander veiligheidstrukture, was ook gou op die toneel en het die verdagtes onder meer met behulp van hommeltuie en ʼn private helikopter agternagesit. Hulle is dieselfde dag in die Monyakeng-omgewing in Wesselsbron opgespoor.

Verdagtes, gesteelde wapens gevind

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die eerste van die vier verdagtes is in ʼn mielieland gevind, waar hy weggekruip het. Die verdagte is 23 jaar oud.

Die gesteelde vuurwapen wat die polisie Donderdag in Wesselsbron gevind het. (Foto: SAPD)

Later die middag is nog drie verdagtes, 26, 21 en 23 jaar oud, vasgetrek.

“ʼn Winchester-geweer en 47 patrone wat in die huisbraak [op 5 Januarie] gesteel is, is by ʼn huis in Monyakeng gevind waar dit weggesteek was. ʼn Speelgoedgeweer is ook by ʼn ander huis gevind en die polisie het daarop beslag gelê,” het Thakeng gesê.

Die pistool wat saam met die geweer uit die kluis gesteel is, is nog soek. Die polisie het Sondag na nog twee verdagtes gesoek.

Thakeng sê die verdagtes word deur klagte van huisbraak, diefstal, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die gesig gestaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Seker die geweere by ‘n polisie pel gekry, of gehuur vir ‘n dag.

Althes ·

Ek is dankbaar dat hy veilig is, dank die Vader! Maar weereens het beurtkrag ñ uiters negatiewe impak op die veiligheid van sy landsburgers.
Het die polisie al taakspanne vir die georganiseerde misdaad wat teiken teen boere en hul besittings?

Amelia ·

Die krimenele het te veel voorregte as hul groot klipe klein moet kap en klein klippe groot sou baie minder misdaad wees Die het plek se deur gebreek so gaan haal sy duer af of laat hy betaal

Frank ·

Hoe kan jy voorman op ‘n plaas deesdae in Suid Afrika wees en jy dra nie ‘n handwapen by jou nie. Of ten minste ander inwoners op die plaas dra wapens nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.