Aanvallers bring ure in plaashuis deur

windpomp_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

ʼn Aanvaller het Sondagaand gedreig om ʼn 66-jarige vrou op ʼn plaas in die Witrivier-gebied in Mpumalanga te verkrag voordat sy makker hom oortuig het om dit nie te doen nie.

Dian Pretorius, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, het aan Maroela Media gesê die vrou woon alleen in die huis op die plaas. Volgens Pretorius het twee aanvallers houtstompe gebruik om die elektriese heining op te lig en sodoende toegang tot die erf te verkry.

“Die vrou het twee honde op die erf, maar hulle is glad nie aggressief nie. Die honde het omstreeks 20:00 aan die deur van die huis gekrap om in te kom en toe die vrou vir hulle die deur oopmaak, het die twee aanvallers saam met die honde by die huis ingestap.”

Pretorius het gesê die aanvallers, waarvan een met ʼn pistool gewapen was, het die vrou vasgebind voordat hulle hul tyd geneem het om deur die huis te gaan. “Hulle was baie rustig en het hulself sommer gehelp aan die kos in die yskas en gesit en eet. Hulle het hul tyd gevat om die huis te deursoek. Ons probeer nog vasstel wat alles gesteel is, maar die vrou het vir ons gesê hulle is met sakke goed daar weg,” het hy gesê.

Pretorius het gesê toe die aanvallers op pad uit is by die deur, het een teruggedraai en vir die vrou gesê hy gaan haar verkrag. Sy makker het egter vir hom gesê om dit eerder te los sodat hulle hulself uit die voete kan maak en die twee het toe gevlug.

Die vrou kon glo later daarin slaag om haarself los te wikkel en het na haar buurman gehardloop vir hulp. Lede van AfriForum en die polisie was kort daarna op die toneel.

Die provinsiale polisiewoordvoerder kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niccy ·

Die pestilensies raak nou mak omdat hul niks oorkom of gevang word nie!! Baie bly sy is veilig en dat hul nie hul besluite uitgevoer het nie

Beskerm jouself ·

Vir hulle die deur oopgemaak, ‘n vrou wat alleen woon. Ek is baie bly jy het niks oorgekom nie, maar volgende keer is jy dalk nie so gelukkig nie tannie .. HOU DIE HONDE IN die huis en hou op deure oopmaak as jy ‘n krapgeluid hoor.

Albaster ·

Goeie raad! Moet nie deure oopmaak vir honde of om ondersoek te gaan instel nie.

Stem saam ·

Stem saam albaster, maak nie saak watter hond dit is nie.

MM ·

Bly sy is veilig – maar regtig – LEER die mense nie Hou jou honde in die huis en moet nie uitgaan nie – Hemel man sy is n vrou alleen = eerder bang jan as dooie jan Tannie.

Leahim ·

Ek het al so baie van hierdie nuusberigte gelees is daar nie iemand wat die boere kan help met n “risk assesment ” op hulle plaas nie want solank hulle maklike teikens bly solank gaan hulle aangeval word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.