Aanvallers dreig dat hulle vrou sal verkrag, martel

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Vrou is Dinsdagmiddag deur vier gewapende aanvallers op ʼn kleinhoewe naby Pretoria oorval, vasgebind en gedreig dat sy verkrag en met ʼn warm strykyster gemartel sal word.

Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die vrou, wat in haar 60’s is, was omstreeks 13:00 alleen in haar huis op die kleinhoewe in die Tweedracht-gebied langs die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria.

“Die vier aanvallers was almal met vuurwapens gewapen en het haar in die huis vasgebind. Hulle het haar gedreig dat hulle haar sal verkrag en met ʼn strykyster sal brand as sy nie haar samewerking gee nie,” het Van der Merwe gesê. Die aanvallers het ook glo werkers wat buite die huis besig was vasgebind.

Die aanvallers het die vrou gedwing om die kluissleutel aan hulle te oorhandig en het ʼn vuurwapen uit die kluis gesteel. Hulle het ook verskeie huishoudelike items gevat en dit in die vrou se motor gelaai voordat hulle op die vlug geslaan het.

“Haar man het kort daarna op die kleinhoewe aangekom en haar in die huis gevind. Hy het dadelik die verdagtes agternagesit en die voertuig in die rigting van Ekangala gejaag, maar hulle later verloor. Die voertuig is later verlate in Cullinan gevind,” het Van der Merwe gesê. Sy het gesê dat die vrou baie emosioneel was ná dié traumatiese voorval.

ʼn Saak van huisroof en gewapende roof is geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kaspaas ·

Die uitsprake van Ehrenreich verbaas my nie. Hy het n ongelooflikke haat vir alle witmense maar hy het n politieke ambisie. Hy is glad nie goed nie en niemand rate hom nie die ANC wil hom nie he daarom is hy nog by COSATU. So hy sal aanhou sulke dinge se met die hoop dat iemand aandag sal neem van hom en sy loopbaan n hupstoot te gee. Maar ou Tony is regtig net baie woorde maar verder niks baie soos sy loopbaan by COSATU. Nie media tyd werd nie

Esmay ·

Versteek wapens op ander plekke, nie in kluis !!
Ons moet altyd een voor wees…..!

Koos ·

Dra jou vuurwapen by jou as jy op ‘n plaas of kleinhoewe bly wat help dit in ‘n kluis of weggesteek kriminele maak nie ‘n afspraak om jou te kom aanval ,met al die waarskuwings en berigte elke dag verkies mense om nie paraat te wees nie hoekom?????

Johan 2 ·

Dra die goed! As ek myne nie dra nie kan ek dit net so wel weggee… Ek het 7 (naby) familie lede wat al aangeval is 2 was fataal…die 2 wat nie gewapen was nie…SA is n oorlog gebied, ons bly verantwoordelik vir ons en almal om ons se veiligheid ten spyte daarvan dat die Polisie alles in hul vermoë doen om ons te ontwapen.
Terloops ek hoor daai verraaier van n Jaco Bothma is terug is dit waar?

charlene ·

Ja ek is seker `n tannie van 60 gaan `n wapen by haar dra en dan gaan sy 4 (vier) mans wat gewapen is met een skoot kan skiet. Ek kan nie glo daar is so baie dom onnosel mense wat hier lees nie en dan nog “waar was jou vuurwapen”Kan julle mense regtig nie logies dink nie. 1 (een) tannie in haar 60, 4 (vier) uitgevreete mans….. wat almal gewapen was. Was sou sy gemaak het met haar wapen teen hulle. Een skiet… ja sure dan word sy verkrag, gemartel en vermoor deur die ander 3. Slim
Tannie ek en mense wat eintlik iets tussen die ore het is dankbaar tannie is nie seer gemaak nie, veral as mens kyk hoe martel hulle ons wit mense – hopenlik kom tannie gou oor die skok is ok. Sterkte aan die gesin en die werkers wat vas gebind was.

Sean ·

Charlene, regtig? So dan kan ons almal maar ons vuurwapens nou maar weggooi en weerloos wag om geroof en vermoor te word?? Jy is baie naïef om te dink almal van hulle gaan jou ongedeerd los omdat jy nie terugbaklei nie?? Ek sterf eerder en vat ‘n paar saam as om net oor te gee. Dis hierdie slapgat houding wat maak dat die spul doen net wat hulle wil.

Peet J ·

Vier aanvallers gewapen met pistole, ‘n 60 jarige vrou, al het sy ‘n wapen sou haar niks gebaat het nie dit help nie om domastrant op te tree as jy nog graag wil lewe nie.

Charles ·

Vrou alleen op die hoewe, vuurwapen in die kluis. Mense wil nie luister en leer nie….. en ouderdom het niks met behoorlike opleiding te doen nie.

Takkie Takuuza ·

Jy sien, ons weet nou wat het gebeur toe sy nie op hulle geskiet het nie. Mens kan net bespiegel oor wat sou gebeur het as sy wel op hulle geskiet het. Maar niemand weet regtig nie, dis alles maar net verbeeldingsvlugte. Ek self, hoop dat ek op so ‘n oomblik in die posisie sal wees om te kan skote aftrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.