Aanvallers drie jaar ná plaasaanval eindelik gevonnis

Wimpie en Sunet Oosterhuis, saam met Sunet se seun, Frits Barnard. Foto: Verskaf.

Die twee mans wat Wimpie Oosterhuis en sy vrou, Sunet, in 2015 op hul plaas in Mpumalanga aangeval het, is vroeër vandeesmaand gevonnis.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê Kansas Mintoor (34) en Andries Funwako Masilela Nkabinde (47) is 15 Augustus in die Evander-streekshof gevonnis vir die aanval in Februarie 2015 op die Oosterhuis-egpaar.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar het op hul plaas naby Delmas in Leandra geboer. Hulle is aangeval toe hulle omstreeks 20:00 die betrokke aand by die plaashuis aangekom en deur aanvallers ingewag is.

“Die aanvallers het die egpaar in ʼn lokval gelei toe hulle van die lughawe af gekom het. Daar is wapens op hulle gerig die oomblik toe hulle uit die voertuig geklim het. ʼn Struweling het tussen die man en die aanvallers ontstaan en ʼn skoot het die man getref,” het Hlathi gesê.

Jaco Oosterhuis, Wimpie se broer, het destyds aan Maroela Media gesê die egpaar is buite die huis vasgebind terwyl die aanvallers die huis geplunder het.

Volgens sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het die aanvallers ʼn kort ent in die erf met die slagoffers in hul eie bakkie gery voor hulle naby die hek afgelaai is. Mintoor en Nkabinde het die paartjie van vuurwapens, skootrekenaars en ander besittings beroof voor hulle van die toneel gevlug het in die slagoffers se bakkie. Die bakkie is later verlate by ʼn plaaslike vulstasie aangetref.

Wimpie is destyds na die Mediclinic Highveld in Trichardt naby Secunda gehaas waar hy ʼn operasie ondergaan het.

Hlathi het gesê Mintoor en Nkabinde is elk tot 20 jaar tronkstraf vir die roof en 15 jaar vir poging tot moord gevonnis. Vyf jaar van die vonnis vir poging tot moord sal gelyklopend met die rooftogvonnis uitgedien word.

Mintoor en Nkabinde is verder albei tot onderskeidelik vyf jaar en drie jaar vir die onwettige besit van vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie gevonnis wat gelyklopend uitgedien sal word. Hulle is ook elkeen ʼn bykomende drie jaar tronkstraf opgelê vir ontvoering wat ook gelyklopend met die ander vonnisse uitgedien sal word.

“Die polisie is baie bly oor hierdie swaar straf – hulle sal elkeen effektief 38 jaar in die tronk sit,” het Hlathi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oud Rhodie ·

Mooi man. So moet `n vonnis lyk. Regter Bam neem kennis !

Alida ·

Maar mens hoor nie dat daar nuwe tronke gebou word nie! As die oues te vol raak laat hulle weer duisende vry om plek te maak.

Andre ·

Die Streekhof-Landdros moet bevorder word na die Hooggeregshof, hy weet ten minste hoe om meer gepaste vonisse op te lê. Maar die vonnisse is steeds te lig na my mening.

LB S ·

Hulle sal g’n 38 jaar in die tronk sit nie. 25 jaar max, dis mos wat die wet nou sê. En dis te sê dat hulle nie nog vroeëer op parool sal uitkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.