Aanvallers eis ‘diamante’ tydens plaasaanval

Argieffoto: Lorraine Claasen

ʼn Egpaar word in die waakeenheid van ʼn Pretoriase hospitaal behandel nadat hulle Saterdag in die vroeë oggendure op hul plaas buite Bronkhorstspruit oorval, aangehou en aangerand is.

Vasti du Preez, stigter van die Bronkhorstspruit Veiligheid WhatsApp-netwerk, het Maandag aan Maroela Media gesê die egpaar, wat versoek om anoniem te bly, is Saterdag omstreeks 01:30 in die Puntlyf-omgewing deur drie verdagtes aangeval.

“Die vrou het wakker geword van ʼn geluid toe hul kamerdeur teen ʼn kasdeur slaan. Daarna is sy en haar man verblind deur die aanvallers se kopligte wat in hul oë geskyn het. Die aanvallers het hulle dadelik met ʼn onbekende harde voorwerp begin aangerand,” het Du Preez gesê.

Die aanvallers het die vrou se hande met kabelbinders vasgemaak. “Die man het groot arms en die aanvallers moes kettings en broeke gebruik om hom vas te bind.”

Die egpaar is verder aangerand terwyl die aanvallers op geld, diamante en ʼn skootrekenaar aangedring het.

Die verdagtes het vermoedelik te voet met elektroniese ware, selfone en kontant gevlug.

“Die egpaar het deurentyd hardop gebid. Hulle kon hulself teen 05:00 bevry, waarna hulle hulp by bure gekry het.”

Die slagoffers het albei skedelfrakture en inwendige beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal in Pretoria gehaas vir behandeling. “Hulle sal die volgende paar dae aansterk in die waakeenheid  voordat albei operasies kan ondergaan om die skade te herstel,” het Du Preez gesê.

Volgens Du Preez is die slagoffers se plaas, asook hul bure, se omheining reeds verlede naweek geknip.

“Die aanvallers het presies geweet waar die vrou haar skootrekenaar wegsteek. Hulle het baie honde, binne en buite die huis, maar die honde het nie geblaf nie. Daar is ook twee ander huise op die erf, maar die bure het niks gehoor nie.”

Die Welbekend-polisie ondersoek voorval.

Die polisiewoordvoerder kon ondanks verskeie pogings nie vir kommentaar bereik word nie. Na wat verneem word, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ELNA KUPKE ·

As die honde nie geblaf het nie is dit duidelik dat dit iemand is wat die opset goed ken en die honde ken. SA is te bederf met huishulpe en tuinwerkers.

Ekke ·

Sjoe Vermeende… Wel verdiend se jy. Ken jy al die feite….
Eintlik maak dit ook nie saak nie, ek kan net eenvoudig nie glo jy het sopas die kommentaar gelewer wat jy het nie.
Ek hoop die twee ONSKULDIGE mense hestel volkome van hulle beserings, baie sterkte.

PJC ·

Duidelik het hierdie mense nie voldoende veiligheidsmaatreëls in plek nie want dan sou hulle vroeër bewus gewees het van die inbreker. Hoop hulle herstel spoedig van die beserings en die trauma.

HPV ·

PJC jy is reg, nie eers die mees basiese soos ‘n veiligheidshek by hul slaapkamer deur nie. Ek is dankbaar hulle het die aanval oorleef, wens hulle spoedige herstel toe.

Maplotter ·

Elna… dit sal maar tierra gaan om sonder helpers en hulp op ‘n plaas of plot klaar te kom.

Trompie ·

Die frase wat so baie gebruik word: “Wanneer gaan dit ophou?”
Onwillekeurig vra ek dit ook maar uit ‘n ander hoek. Die whatsappgroepe waarvan gepraat word is welombekend maarvir verskeie redes. Kan die kampvegters dalk vir ons sê watter veiligheidsmaatreëls in plek was? Daar word ook genoem dat heinings ‘n week vantevore geknip was, en die enigste rede wat ek glo dit genoem is is dalk om die idee voort te bring dat die kriminele daad al ‘n week vantevore beplan was. Dit laat my dan wonder of die heining al reg gemaak was tussen die tyd van die rooftog en toe dit geknip was ‘n week vantevore? Andersins sou die whatsappgroep admin mos nie nodig gehad het om dit te noem nie of hoe?
Ek dink die publiek word net die helfte van die werklike inligting gegee in sekere aangeleenthede sodat dit ook aangeteken kan word in die boekies van die tipe organisasies as ‘n aanval. Ek sien die nuwe frase wat opduik is “TERREUR-AANVAL”.

Ek wens die slagoffers ‘n vinnige herstel toe. Kry julle veiligheids stelsels in plek. Mens kan nie meer soos in die 80’s op plase wil bly met geen sisteme in plek nie.

Vissie ·

Vir verslaggewers wat verslag doen oor mense wat met “kabel-binders” vasgebind word: ‘n Mooi Afrikaanse woord vir “cable ties” is “trekstroppe”.

Andre Els ·

Hoekom se die Gauteng se LUR niks nie. Hy het baie te se gehad oor die trekker insident.

Daan ·

Dankie vir die taalles Vissie.Heeltemal onvanpas.In elk geval klink kabelbinders vir my baie meer beskrywend as trekstroppe.(Sal meer pas by die ou Voortrekkers)Sterkte aan die slagoffers.

My Opinie ·

“Om die skade te herstel” klink gevoelloos asof daar van ‘n voorwerp gepraat word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.