Aanvallers gesoek ná moord op Vrystaatste onderwyser  

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie in die Vrystaat is op soek na die verdagtes verantwoordelik vir die moord op ʼn Vrystaatste onderwyser.

Sipho Mothekhe (32), verbonde aan die Letsete Secondary School in Thabong, is Saterdag dood in sy huis aangetref. Langs sy lyk het daar ʼn graaf gelê.

Volgens die polisie is Mothekhe die laaste keer lewend gesien toe hy ʼn taverne, waar hy tot omstreeks 02:00 saam met vriende gekuier het, verlaat het.

Mothekhe het glo vir sy vriende gesê hy gaan na ʼn ander taverne.

Sy vriendin het hom Saterdagoggend probeer bel, maar kon hom nie in die hande kry nie. Hierna het sy besluit om later na Mothekhe by sy huis te gaan soek.

Die vriendin het ongeveer 16:20 by die huis aangekom en opgemerk Mothekhe se Volkswagen Polo was nie op die erf parkeer nie.

In die huis het sy Mothekhe se lyk aangetref en hulp by die bure gaan soek. Hy het snye aan sy linkerarm en aan sy lyf gehad, steekwonde aan sy bors, nek en kop en sy regterpols was gebreek. ʼn Tuingraaf is langs hom gevind.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, is die diefwering voor die kombuis- en voordeur oopforseer. Daar was tekens dat die huis deursoek is. Buiten vir Mothekhe se Polo wat vermis word, is sy selfoon en televisie ook gesteel.

Sy motor is later verlate in Virginia gevind.

Die polisie ondersoek klagte van huisroof, moord en diefstal. Niemand is nog in verband met Mothekhe se moord in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help in hul ondersoek word versoek om ao. Bertus Olivier te bel by 082 885 5271 of die polisie se misdaadnommer by 08600 10111.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Die aanvallers was dalks leerlinge wat na vraestelle kom soek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.