Aanvallers gooi plaasbestuurder deur venster

(Argieffoto: Maroela Media)

ʼn Jong plaasbestuurder is laat Saterdagaand op ʼn plaas in Modimolle, Limpopo, deur ʼn venster gegooi nadat vier gewapende mans op hom toegesak het.

Duan Slingerland (19) was die naweek alleen op die plaas in die eienaar se huis toe hy om 22:43 ʼn geluid by die skuifdeur in die sitkamer gehoor het.

“Vier gewapende mans het hom onkant betrap en aangerand. Hy het diep snye aan sy voorarms opgedoen nadat een van die verdagtes hom deur ʼn venster gegooi het,” het lt.kol. Mamphaswa Seabi, polisiewoordvoerder, gesê.

Die verdagtes het voortgegaan om die huis te plunder en onder meer Slingerland se selfoon, sy beursie, televisies, ʼn kragopwekker en ʼn vuurwapen gebuit.

Hulle het in die vroeë oggendure op die vlug geslaan met die slagoffer se silwer Volkswagen Polo.

“Slingerland het kaalvoet na ʼn buurman se huis geloop, waar hy die polisie na die toneel ontbied het.”

Die jong man is na die FH Odendaal-hospitaal geneem waar hy vir sy beserings behandel is.

Drie van die verdagtes se gesigte was nie tydens die aanval bedek nie, terwyl die vierde een wel sy gesig gedeeltelik bedek het. Volgens Seabi is nog niemand egter in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo, het intussen Slingerland in die hospitaal besoek en die voorval veroordeel.

Sy het inwoners van landelike gebiede aangemoedig om by hul plaaslike buurt-, plaaswagte en gemeenskapspolisiëringsforums aan te sluit en hul persoonlike veiligheidsmaatreëls op te skerp.

“Die VF Plus wens mnr. Slingerland ʼn spoedige herstel toe en spreek die hoop uit dat hy binnekort weer op sy pos sal wees,” het Maritz gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Waar was jou vuurwapen , jong man? As jy op n plaas is, moet jy ten alle tye paraat wees.
Eks bly jy het dit oorleef, maar jy kon ook nog n statestiek gewees het vandag. Alles van die beste, en hoop jy herstel gou.

ES

Belangrik om diefwering by skyfdeure te he om dit so bietjie moeiliker te maak vir booswigte om by ‘n vertrek in te kom. Gelukkig het hy met sy lewe veggekom, dit kon soveel erger gewees het.

Sterkte en bewapen jouself!

Belinda

Inside job as hulle geweet het van kameras en dat die jong man alleen op die perseel was. God dank dat hy nie vermoor is nie. Sterkte, hoop jy herstel gou.

Toy

Gemors

Natasha

Ondersoek slegs huisroof? Wat van aanranding met die doel om ernstig te beseer of poging tot moord?