Aanvallers slaan glo binne ure op 2 plase toe

ʼn Foto van die verdagtes wat van ʼn veiligheidskamera op ʼn wynplaas in die omgewing af kom. Foto: Verskaf

Vier aanvallers wat ʼn Wes-Kaapse boer en sy vrou in die vroeë oggendure op ʼn plaas buite Wolseley oorval en beroof het, het glo net enkele ure vantevore op ʼn wynplaas in die gebied toegeslaan.

Flip Barrington (61), wat as bestuurder op ʼn hoenderplaas werk, het aan Maroela Media gesê hy het die oggend van 15 Julie omstreeks 04:00 opgestaan om die honde uit die huis te laat. “Ek gebruik ʼn suurstofmasjien en het, nadat ek die skuifdeur oopgemaak het, in die woonkamer gaan sit en die suurstofmasker op my gesig geplaas. Toe storm hulle in die huis in.”

Volgens Barrington het die aanvallers ʼn byl, ʼn skroewedraaier en ʼn koevoet by hulle gehad en hom hard teen sy stoel vasgedruk. “Hulle het my gedreig en ek moes net keer of die een het my met die skroewedraaier gesteek.”

Sy vrou (57) het intussen die rumoer gehoor en uit die slaapkamer gekom om ondersoek in te stel. “Toe sy die kamerdeur oopmaak en hulle sien, het sy dadelik die deur toegestamp en probeer om die handvatsel op te druk sodat hulle nie kan inkom nie. Hulle het op haar afgestorm en die handvatsel so hard geruk dat dit gebreek het. Sy het naderhand die deur gelos en vir hulle gesê om te vat wat hulle wil en ons net nie seer te maak nie. Dit was toe asof hulle so half bedaar het.”

Barrington het gesê die aanvallers het onder meer selfone, bankkaarte, geld en juweliersware geroof. “Hulle het my vrou se trouring ook gevat. Sy is bitter hartseer daaroor, want die ring was ʼn erfstuk van my ouma.”

ʼn Foto van die verdagtes wat van ʼn veiligheidskamera op ʼn wynplaas in die omgewing af kom. Foto: Verskaf

Die aanvallers het daarna gesê dat twee van hulle gaan ry om geld uit die bankrekeninge te trek, terwyl twee gaan agterbly by die huis. Indien Barrington dus nie vir hulle die regte PIN-nommers vir die bankkaarte gee nie, sou hulle die egpaar leed aandoen.

“Ek het vir hulle die regte nommers gegee en hulle is al vier met ons bakkie daar weg,” het hy gesê. “Ek het hulp oor die tweerigtingradio ontbied en daar is ʼn radio in my bakkie ook. Ek dink hulle het seker gehoor dat ek hulp ontbied en hulle het toe die bakkie net so in die dorp gelos. Hy is later verlate daar gevind.”

Volgens Barrington het die boosdoeners daarin geslaag om geld uit twee van hul bankrekeninge te trek, maar kon hy daarin slaag om die kaart vir die bankrekening wat hy eintlik gebruik te stop voordat hulle enige geld daaruit kon trek.

“Dit is die eerste keer dat so iets met ons gebeur. My vrou sukkel steeds om dit te verwerk en ons sukkel om te slaap in die aande. Dit was baie traumaties,” het Barrington gesê.

“Nie lank ná die aanval nie, het iemand vir my foto’s gestuur wat van ʼn veiligheidskamera op ʼn wynplaas in die omgewing af kom. Die foto’s is geneem tydens ʼn inbraak by ʼn kelder op die wynplaas. Toe ek daardie foto’s sien, het ek dadelik die mans herken as dieselfde mans wat ons aangeval het. Ek het veral die een se rugsak herken en gesien hulle het dieselfde wapens by hulle as wat hulle hier by my gehad het.”

Barrington sê hy het nie meer inligting oor die inbraak by die wynplaas nie en kan nie bevestig wanneer dit gebeur het nie. Die datum op die foto’s toon egter dat dit dieselfde oggend om 01:20 geneem is, enkele ure voordat die aanval op die Barrington-egpaar plaasgevind het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die polisie ʼn saak van huisroof ondersoek in verband met die aanval by die Barrington-egpaar en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie. Van Wyk het gesê die ondersoekbeampte in die saak is bewus van die foto’s wat deur ʼn veiligheidskamera geneem is, maar in die stadium kan die polisie nog nie bevestig dat daar ʼn verband tussen die twee voorvalle is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Genieve ·

Net bly dat julle leef,en hulle was nogals gemeen om so gou weer n misdaad te pleeg,hou maar volgende keer julle wapens byderhand.

Linette ·

Nou raak ek ook bang. Eers was die rubbish net operasioneel in Limpopo, toe Noord-Wes en Mpumalanga, daarna Vrystaat en Natal … nou trek hulle af Wes-Kaap toe. G’n wonder ook nie, met al die inkomelinge wat die ANC so invoer in Wes-Kaap in (massas en massas wat per taxi hierheen kom, op ‘n DAAGLIKSE basis). Nou opereer hulle al op rustige, klein plattelandse dorpies soos Wolseley – en Wolseley is bietjie meer as ‘n klipgooi van Worcester af …… Eh-eh …. ek raak nou regtig bang!

anton ·

Welkom in S.A.
Waar het jy gewoon die afgelope 20 jaar???
Begin daar n klokkie dalk lui?

anton ·

Klere, baaitjies, maskers, rugsak, musse en gereedskap in hulle besit is alles dinge wat jy iemand aan kan herken. Nie so moeilik as jy net oplet nie!!!

Deon ·

Dit raak net meer en meer en meer, alle provinsies, plotte, plase, stede / dorpe ……..iewers is iets erg nie pluis nie… , iemand trek die toutjies

Linda van Mosselbaai ·

Daar moet ‘n punt kom waar ons sê genoeg is genoeg .

Iemand gaan uithak en dan gaan dinge leliker raak.

“n Bedonderde boer gaan strip ……………

ONS BID VIR UITKOMS – o VADER beskerm ons.

Tiger ·

Ek is bly die mense is ongeskonde.Maar waar is hul paraatheid?Het die honde niks agtergekom nie??Sjoe!Kry ander honde!Asseblief mense word net paraat – hou ‘n vuurwapen 24/7 aan jou.Ons hier in Noordwes loop al ‘n paar jaar so.

Johannes Meintjes ·

Met rekords van plaasaanvalle sover terug as 1979, is dit verstommend dat alle belanghebbendes en gesaghebbendes in SA nog nie stelsels en metodes in plek kon bring om beveiligende optrede oortuigend effektief, pro aktief en optimaal samewerkend te bewerkstellig nie. Ons bly maar so half luilekker en bloot klaende op die agtervoet reaktief en verloor grond, lewens, besitreg en lewensruimte.

BANG JAN SE VROU ·

Mens kan jou net SOVEEL beskerm. Ek het binnenshuis kameras en buite het ek Perimiter alarmstelsel plus oral met sterk staal vervaardigde sekureiteits hekke. Wat kan ek meer doen?

Tiger ·

BANG JAN SE VROU,ek stel voor julle installeer video kameras buite rondom jul huis ook want dan kan julle binne in jul huis sit en SIEN wie of wat laat die alarm afgaan.Mure van 2,2 m hoog met skerp “spikes” bo op rondom jul erf sal ook kan help.Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.