Aanvallers slaan toe op Muldersdrift-kleinhoewe

boer-windpomp-plaas-reint-dykema-9.jpg

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Egpaar is Woensdagnag op ʼn kleinhoewe in die Muldersdrift-omgewing in Gauteng deur drie gewapende mans oorval terwyl hulle geslaap het.

Ao. David Masedi, woordvoerder van die polisie, het gesê die egpaar het geslaap toe hulle omstreeks 21:00 deur die drie aanvallers wakker gemaak is. “Die verdagtes het geld, selfone en vuurwapens geëis,” het Masedi gesê.

Die aanvallers het die man vasgebind en met komberse toegegooi terwyl hulle die huis deursoek het. Hulle het later met kontant en ʼn selfoon gevlug.

Sake van onder meer huisbraak word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met meer inligting word versoek om die Muldersdrift-polisie by 011 952 4600 of 10111 te skakel. Masedi het die gemeenskap gewaarsku om nie die verdagtes te nader of self te probeer vastrek nie, aangesien hulle as gevaarlik geag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

LB ·

Elke keer as ek so ‘n berig lees wonder ek, hoe is dit moontlik met al die tegnologie tot ons beskikking soos bv beams en met die kennis van gebeure in hierdie land dat iemand nog wakker kan word met iemand langs jou bed. Slaap mense so vas, het mense nog nie diefwering wat nie stil stil weggebuig kan word nie, kry ‘n hond!! span ‘n tou met klomp blikke wat raas, doen net iets en sluit al jou binnedeure dat hulle baie moet raas om by julle uit te kom en bewapen jou.

ECB ·

Ek verstaan ook nie hoe ‘n inbreker jou in die bed kry nie. Jou slaapkamer behoort soos ‘n tronk sel te wees. Sterk veiligheids deur en diefweering. ?????

Wolf ·

Dit is nie veronderstel om so te wees nie. Waarom moet jy jouself in n tronk toesluit? Jy sit die pot mis as jy dink dis die antwoord om meer paraat te wees. Die probleem is dat daar sulke aanvalle hoegenaamd bestaan en nie dat mense nie paraat genoeg is nie.

ELIZE ·

Wil graag weet waar omtrent dit plaasgevind het want ek bly op plaas Rietfontein, Muldersdrift naby Eden Traders en omgewing van Garden World

Justice ·

Misdaad is oral maar selfs vir my in Limpopo staan Muldersdrift soos `n paal bo water uit met aanvalle wat op `n gereelde basis in beriggewing verkyn – is daar ooit genoegsame polisie en / of weermag teenwoordigheid in daardie landelike gebied? My innige simpatie aan al die inwoners.

Nita ·

Justice, wat bedoel jy met polisie-en- weermagteenwoordigheid? Die polisie slaap en die weermag mag niks anders doen as eet en slaap en nou en dan as n klein taakmag na n Afrika-land gaan. Hoelank al smeek mense dat die weermag bruikbaar gemaak moet word en bietjie moet voetestamp deur die dorpe en op die plaaspaaie. Maar verniet! Die burgers van die land kan maar vergaan, wat die regering aanbetref.

Wolf ·

In een sin slaan jy die hammer op die kop. Dit help nie om te redekabel oor waarom hulle nie die nodige sekuriteit en paraatheid gehad het nie. Die dieper probleem is heel groter…die regering

Alida ·

Mense hou op om altyd te dink die slagoffers was nie paraat nie. Ons was nie daar nie dus bly ons stil. Julle ken nie die omstandighede nie.

Naas ·

Dit is tyd dat die hele Honeydew Polisiestasie se personeel verplaas en vervang word. Selfs as lede van die bende wat Muldersdrift teister deur die gemeenskap gevang word, word hulle vrygelaat voor hulle by die polisiestasie kom.

Wolf ·

Dit help nie… die hele stelsel is vrot…die regering…als. om een polisie stasie te vervang (wat in elk geval n pyp droom is) is geen oplossing nie

Bekommerd ·

My broer het ook gelê en slaap toe hulle sy pivaatheid binne gedring en hom uiteindelik vermoor het. Hy het ‘n heining om die erf gehad, ‘n hond, diefwering, ‘n veiligheidshek by die voordeur, ‘n alarm en sy kamerdeur was gesluit. Hul het in die nagure skiet-skiet binnegekom. My broer het dus met koeëls wat om hom vlieg, wakker geword. Sulke aanvalle gebeur makliker as wat mens dink – hierdie moordenaars is nie amateurs nie. Nie almalwat hul lewens verloor, is nalatig nie. My broer was baie veiligheidsbewus. As daai oortreders wil inkom, kry hul dit in die meeste gevalle reg.

Cherokee ·

Miskien moet julle Muldersdrift toemaak want dit gaan erg daar. Lees gereeld van aanvalle daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.