Aanvang van akademiese jaar by DUT vertraag

Durbanse Universiteit van Tegnologie (DUT) Foto; DUT, Facebook

Die Durbanse Universiteit van Tegnologie (DUT) het Donderdag gesê die aanvang van sy 2018 akademiese jaar word vertraag weens ʼn geskil oor salarisse.

“Die universiteit het besluit om die aanvang van die akademiese jaar met ʼn week uit te stel. Lesings sal Maandag, 12 Februarie 2018, begin,” het DUT in ʼn verklaring gesê. Daar is nog nie ʼn ooreenkoms bereik ná salarisonderhandelinge Woensdag hervat het tussen bestuur en drie vakbonde, Nehawu, Tenusa en NTEU nie.

Vakbonde het verlede week ʼn verhoging van 10% geëis op ʼn basiese salaris, met ʼn R400 verhoging op die maandelikse behuisingstoelaag en ʼn R9 000 eenmalige bonus (14de tjek).

DUT het twee opsies voorgestel: ʼn 5,5% verhoging op die basiese salaris, R200 verhoging op die behuisingstoelaag en geen eenmalige bonus (14de tjek) nie; of ʼn 5.75% verhoging op die basiese salaris, 5.75% verhoging op die maandelikse behuisingstoelaag en geen eenmalige bonus (14de tjek) nie.

“Ongelukkig is geen ooreenkoms bereik nie en die drie vakbonde het van die onderhandelingstafel weggestap,” het die universiteit gesê. Die vakbond het daarna skriftelik die DUT-raad versoek om in te gryp. “Uitvoerende lede van die raad het Donderdag, 24 Januarie, vergader en die mandaat hersien, op voorwaarde dat verdere onderhandelings deur ʼn onafhanklike bemiddelaar sal geskied. Die vakbonde het dié versoek van die raad verwerp.”

DUT-bestuur het tydens Woensdag se onderhandelinge erken dat hulle nie ʼn mandaat in die onderhandelingsproses het nie, en die partye moet ter goeder trou optree. “Die bestuur het ʼn nuwe aanbod van 6% op die basiese salaris gemaak met ʼn 6% verhoging op die maandelikse behuisingstoelaag en geen eenmalige bonus (14de tjek) nie. Hierdie bonusse is nie meer eenmalig nie, maar het herhaaldelik voorgekom, aangesien dit van jaar-tot-jaar vereis word en daar is geen prestasiebestuurstelsel in plek nie,” het DUT bygevoeg.

“Die drie vakbonde is daarna tyd gegun om te koukus en hulle het die volgende aan die bestuur voorgestel: 9% verhoging op die basiese salaris, R300 verhoging op die maandelikse behuisingstoelaag, R6 000 eenmalige bonus (14de tjek); of 8.5% verhoging op die basiese salaris, R200 verhoging op die behuisingstoelaag en R9 000 eenmalige bonus (14de tjek).”

DUT het gesê verdere aanbiedings is ook op die tafel gesit, maar alles is verwerp. “DUT-bestuur wil graag sy aandeelhouers verseker dat hy steeds toegewyd is om seker te maak dat die bedrywighede by die universiteit voortgaan en dat die veiligheid van studente, personeel en universiteitseiendom ʼn prioriteit bly.

“Alhoewel betogers gepoog het om studenteregistrasie te ontwrig, bly die universiteit se deure oop. Studente kan aanlyn registreer deur die DUT-webwerf en al hoe meer studente registreer by die kampus in Durban en Riverside-kampus in Pietermaritzburg.”

Die universiteit het gesê die vertraging in die akademiese jaar bied aan die studente, wat nog nie geregistreer het nie, nog ʼn week geleentheid om aanlyn of in persoon te registreer. Studente wat hulp benodig kan tydens kantoorure 031 373 5005 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.