Aanvangs van Go George-busdiens opgeskort

Go George-busdiens (Foto: Wes-Kaapse regering)

Die George-gemeenskapsforum in die Wes-Kap verwelkom die besluit van die nasionale minister van vervoer, Blade Nzimande, om die inwerkingstelling van die Go George-snelbusvervoerdiens op te skort.

Die langverwagte stelsel sou verlede week ʼn aanvang geneem het, maar dit is uitgestel weens teenstrydigheid tussen die vervoerminister en die provinsiale LUR van vervoer, Donald Grant.

Die volgende fase van Go George sou begin het in gebiede wat uitgesluit was met die aanvanklike stelsel, en sluit die armer gebiede soos Lawaaikamp, Borcherds, Ballotsview, Thembalethu en Parkdene in.

Xolisani Booi, voorsitter van die George-gemeenskapsforum, het vandeesweek gesê die forum is gekant teen die inwerkingstelling van die stelsel tensy alle belanghebbendes behoorlik gekonsulteer word as deel van die plan.

“Belanghebbendes soos die taxibedryf en plaaslikegemeenskapstrukture is van die program uitgesluit,” het Booi gesê. “Ons betoog teen die inwerkingstelling totdat alle belanghebbendes in George aan boord is.”

Nzimande het gesê die projek word tot verdere kennisgewing gekanselleer. Hy het met vervoeraandeelhouers gesels oor die Go George-busdiens. Volgens hom is dit in belang van alle George-inwoners en die plaaslike ekonomie dat die dorp oor ʼn behoorlike en ten volle geïntegreerde vervoerstelsel beskik. “Die uitstel bied nou meer tyd om met alle belanghebbendes te gesels.”

Grant het in reaksie op Nzimande se verklaring gesê dit is “betreurenswaardig en voortydig”. “Die persverklaring is nie weldeurdag nie, gegewe die feit dat my departement en George-munisipaliteit ʼn nabye verhouding het met die nasionale departement van vervoer. Ons is deurgaans in gesprek met die nasionale departement oor die tydsberekening en inwerkingstelling van die verdere fases van die Go Geoge-busdiens,” het Grant bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alfonso ·

“Tot dat alle belanghebbendes behoorlik gekonsulteer word” beteken seker totdat die taxi base omgekoop is

Anton ·

Dis jammer. Soveel meer betroubaar, skoon, netjies, beskikbaar ook vir my om te gebruik. Nou moet ek maar my karretjie ry en ekstra besoedeling veroorsaak.

BlinkStephaans ·

Al wie nognie integreer het nie is die taxibedryf, en as hulle nie hul sin kry sal die busse brand.

jean ·

Ongelukkig is die busse deur die dag “full of emptiness”!! Taxis veroorsaak baie probleme, maar om die miljoene rande te spandeer het op busse wat meeste van die tyd nie gebruik word nie maak ook nie sin nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.