Aappokke glo nog nie in SA

Argieffoto: Pixabay

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê daar is nog geen gevalle van aappokke in Suid-Afrika aangemeld nie.

Maroela Media het vroeër berig dat dié virus teen Sondag al in minstens 15 lande aangemeld is, insluitend Oostenryk, België en Nederland. Aappokke is ’n seldsame virusinfeksie wat gewoonlik met ligte simptome verbind word en die meeste mense herstel binne ’n paar weke, volgens die Verenigde Koninkryk se nasionale gesondheidsdiens.

Volgens Nios lyk dit of 70% van die mees onlangse gevalle onder mans tussen 22 en 55 jaar aangeteken is.

Baie van hierdie gevalle – hoofsaaklik gematig –  is deur werkers in die veld van geslagsgesondheid opgespoor, met merke wat aan die geslagsdele gevind is. Dit blyk “ongewoon” te wees en is ʼn unieke simptoom van die jongste uitbreking. Die seksuele oordraagbaarheid van aappokke is egter nog nie bevestig nie.

Simptome sluit in koors, uitslag, pyn in die limfnodes en mondsere.

Nios sê in sy verklaring dat ligter infeksies dikwels onbespeurbaar is, wat die risiko van oordrag tussen mense vergroot.

“Aangesien hierdie endemiese siekte gewoonlik geografies tot dele van Wes- en Sentraal-Afrika beperk is, is daar waarskynlik min weerstand teenoor die infeksie onder diegene wat reis of andersins daaraan blootgestel word.”

Volgens Nios is daar gewoonlik net klein uitbrekings van aappokke aangesien noue kontak vir oordrag vereis word.

“Dit is dus onwaarskynlik dat die huidige uitbreking tot ʼn wêreldwye noodgeval sal ontwikkel. Aappokke is gewoonlik tot ʼn persoon beperk en sal in die meeste gevalle binne ʼn paar weke sonder behandeling verby wees.

“Ernstige siekte kan egter onder jong kinders voorkom, asook swanger vroue en individue met ʼn swak immuunstelsel.”

Die destydse entstof teen pokke behoort glo ook beskerming teen aappokke te bied. Dié entstof word ook aan hoërrisiko kandidate gebied waar kontakopsporing tans voortduur in lande waar gevalle van aappokke aangemeld is. Entstofbeskikbaarheid is egter wêreldwyd ʼn uitdaging.

Risiko vir SA

Volgens prof. Adrian Puren, Nios se uitvoerende direkteur, kan aappokke wel van ander lande na Suid-Afrika ingevoer word – ’n les wat die land reeds met die Covid-19-pandemie geleer het.

“Covid-19 het bewys dat uitbreking van ’n virus in ander dele van die wêreld vinnig tot wêreldwye kommer kan lei.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het nie enige reisbeperkings aanbeveel nie en het reeds gesê dat hy nou saam met geaffekteerde lande werk om oordrag te beperk en bronne van blootstelling te bepaal.

Puren beveel aan dat enige persoon wat Suid-Afrika binnekom en tydens sy of haar reistydperk siek geword het, dit by ’n gesondheidspraktisyn moet aanmeld. Dit sluit mense in wat van gebiede gereis het waar die siekte endemies is.

Hy sê voorts dat inwoners en reisigers na dié lande kontak met siek diere moet vermy aangesien hierdie diere met die aappokkevirus besmet kan wees. Dit sluit knaag- en buideldiere in asook primate.

Luidens Nios se verklaring is die instansie toegerus om mense in Suid-Afrika vir aappokke te toets.

België het Sondag beveel dat pasiënte by wie aappokke gediagnoseer word, vir 21 dae in kwarantyn moet bly. Teen Sondag is vier gevalle al in dié land aangemeld. Al hierdie gevalle was van mense wat onlangs gereis het.

Die meeste van die 92 gevalle wat teen Saterdag deur die WGO aangeteken is, is in Brittanje, Spanje en Portugal aangemeld. Geen sterftes is tot dusver aangeteken nie. Nog 28 moontlike gevalle van aappokke word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henri ·

“Baie van hierdie gevalle – hoofsaaklik gematig – is deur werkers in die veld van geslagsgesondheid opgespoor, met merke wat aan die geslagsdele gevind is. Dit blyk “ongewoon” te wees en is ʼn unieke simptoom van die jongste uitbreking. Die seksuele oordraagbaarheid van aappokke is egter nog nie bevestig nie.

Simptome sluit in koors, uitslag, pyn in die limfnodes en mondsere.”

1. Wat is “werkers in die veld van geslagsgesondheid”?
2. Totale ander simptome as normaalweg. Hoe het hulle op “aappokke” besluit?

Ek wil nou nie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie, maar dit klink vir my asof die aap te veel uit die mou gelaat is…

annie ·

Hmm? Wie is die mense wat die pokke opgedoen het? Daar is meer inligting op internasionale webwerwe, maar ons sal met ‘n ompad moet hoor. Destyds was knoffel, gemmer en beet gewild medikasie. Miskien kan ‘n voormalige prez help. Waarmee gaan ons die jongste misterie behandel? Piesangs is definitief uit. Klaar te skaars.

Strandloper ·

Die anc kan gerus…glo nie enige iets sal help nie maar mens weet nooit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.