Aappokke nou al in 15 lande

dokter

Argieffoto

Gevalle van aappokke is teen Sondag al in ten minste 15 lande aangemeld, insluitend Oostenryk, België en Nederland. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê dié virus is nie endemies in baie van dié lande nie.

Die meeste van die 92 gevalle wat teen Saterdag deur die WGO aangeteken is, is in Brittanje, Spanje en Portugal aangemeld. Geen sterftes is tot dusver aangeteken nie. Nog 28 moontlike gevalle van aappokke word ondersoek.

Oostenryk het Sondag sy eerste geval van aappokke aangeteken. Die pasiënt het ʼn ligte koors en swere in sy gesig gehad.

Aappokke is ’n seldsame virusinfeksie wat gewoonlik met ligte simptome verbind word en die meeste mense herstel binne ’n paar weke, volgens die Verenigde Koninkryk se nasionale gesondheidsdiens.

Pres. Joe Biden van die VSA het die verspreiding van aappokke Maandag as kommerwekkend beskryf. Hy het gesê owerhede werk hard om te bepaal wat gedoen moet word en of daar ʼn entstof is wat daarteen gebruik kan word.

België het Sondag beveel dat pasiënte by wie aappokke gediagnoseer word, vir 21 dae in kwarantyn moet bly. Teen Sondag is vier gevalle al in dié land aangemeld. Al hierdie gevalle was van mense wat onlangs gereis het. Aappokke kom die algemeenste voor in afgeleë dele van Sentraal- en Wes-Afrika.

Gevalle wat buite dié streke aangemeld word, word dikwels gekoppel aan reis na die gebied. Brittanje het egter oor die naweek die eerste gevalle aangeteken wat plaaslik versprei het. “Ons diagnoseer daagliks nuwe gevalle en die regering neem hierdie [voorkoms van die virus] baie, baie ernstig op,” het Susan Hopkins, hoof mediese adviseur van Brittanje se gesondheidsekerheidsagentskap, Sondag aan BBC gesê. Sy het egter bygevoeg dat pasiënte in dié stadium slegs ligte simptome ervaar.

Bronne: WGO, AFP en Politico

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marius ·

Net so verstom soos virus wat van vlermuise oorgespring het ? Nog ‘n entstof pandemie .

RB ·

Weet Joe Biden wat ‘kommerwekkend’ beteken?
Sy posisie is kommerwekkend vir meeste met gesonde verstand en integriteit.

Die WGO is nou ook nie juis n organisasie om te vertrou nie, nè!

domheks ·

Verklaar sommer klaar ‘n ramptoestand in SA, dit is waar voor die regering nie kan wag nie = om weer van die nasie ‘puppets’ te maak.

KatjieDeKat ·

Ja nee kyk hier kom nou weer n lockdown. En kopdoek sal seker ook nou weer besluit sigarette verkope moet verban word vir 3 maande.

Samuel ·

Aappokke is ‘n absolute werklikheid, maar kyk nou hoe vinnig die WGO en die media weer histerie gaan skep rondom dit. Die groot farmaseutiese maatskappye gaan skielik begin werk aan ‘n aappok spesifieke entstof.

Mag diegene wat aappokke opgedoen het, spoedig volkome herstel.

Frank John ·

O’my, dit klink soos wat die bybel gesê het. Pes en pes siektes, oorloë en gerugte daarvan. Ja-nee, die einde in sig. Die koms van die Here is op hande. Gereed of nie, hier kom Hy. Glory!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.