Die polisie in die Wes-Kaap het Sondag meer inligting bekend gemaak oor die plaasaanval waarin ʼn geliefde Stellenbosse aarbeiboer dood is.
Maroela Media het vroeër berig Jeffrey Zetler, eienaar van die Mooiberge-aarbeiplaas op Stellenbosch, is Saterdagaand dood nadat hy verskeie kere met ʼn skerp voorwerp in die bors gesteek is.
Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê Zetler het lone aan sy werkers betaal en was besig om die groep werkers na hul bestemming te vervoer toe hy oorval is.
“Zetler het met die werkers, waarvan sommige op die agterkant van die bakkie gesit het, na die plaashek toe gery. Toe hy uit die motor klim om die hek oop te maak, het hy opgemerk dat ʼn wit Toyota Quantum hom agtervolg,” sê Van Wyk.
Twee onbekende verdagtes, onderskeidelik gewapen met ʼn pistool en ʼn mes, het Zetler glo genader en hom én die werkers gedreig. Van Wyk sê die verdagtes het die werkers beveel om van die bakkie af te klim.
“Die verdagtes het aangedring op die sleutels van die kluis en Zetler beveel om dit vir hulle oop te sluit. Hulle het hom van kontant én ander goedere beroof en hom daarna met ʼn mes doodgesteek. Zetler is minute later op die toneel dood.”
Van Wyk sê die verdagtes het daarna van die toneel gevlug. Sake van moord en roof word ondersoek.
Zetler se kantore is glo op dieselfde eiendom waar hy aangeval is. Volgens berigte op sosiale media het hy kontant op dié perseel gehou.
Thomas Van Dalen, AfriForum se nasionale opleidingsbestuurder, sê dit is glo die vyfde keer dat Zetler onder ʼn rooftog deurloop.
Zetler, wie se plaas aarbeie aan verskeie kettingwinkels verskaf het, het volgens naasbestaandes glo sowat 1 000 mense in diens geneem.
Na wat verneem word het Zetler se vrou dié naweek haar verjaardag gevier. Hy word op sosiale media bestempel as ʼn geliefde boer van die omgewing wat altyd ʼn “vriendelike praatjie aangeknoop het”.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
20 Kommentare
STEM saam met jou Pieter….
Dit wil my voorkom na ñ voorafbeplande roof en moord.
Die volgende wat jy hoor sit die werkers n grondeis op die grond in en word dit toegestaan. Nog ñ produktiewe plaas in sy……
Wat baat die mense uit hierdie aanval. Het hom jare geken, hy is net n goeie mens. Soveel mense werk gegee oor al die jare. Ons as familie se harte gaan uit na sy familie. Mag hulle in hierdie moeilike tyd Die Vader se groot en sterk Hande om hulle voel. Bid vir julle. Rus in vrede Jefferey.
Baie jammer om te hoor. Sal altyd die kleurvolle voëlverskrikkers in die landerye onthou. Sterkte aan oom se familie.
Nog ‘n duisend mense sonder werk… geen grondeis gaan dít nie omkeer nie