
‘n USGS grafiek wys waar die episentrum was en waar mense dit die meeste gevoel het. (Foto: USGS)
ʼn Aardbewing van 4,3 het Suid-Afrika se Suidkus Donderdagmiddag getref en talle inwoners skrik op die lyf gejaag.
Volgens die Suid-Afrikaanse Geologiese Raad (SAGR) het die aardbewing 72 km suidwes van Durban voorgekom, maar was die SAGR nog besig om ondersoek in te stel waar die episentrum van die aardbewing was.
Storm Report SA het Donderdagmiddag op sy Facebook-blad gevra of enigiemand die aardbewing gevoel het, waarna talle inwoners van KwaZulu-Natal gesê het dat hulle die skudding beleef het. Party mense het die trilling so ver in die binneland as Richmond, 115 km van Durban, en Port Edward, 164 km suid van Durban, gevoel.
Sommige sosialemediagebruikers het bespiegel dat die Suid-Afrikaanse aardbewing verwant is aan die een wat die Filippyne Donderdagoggend getref het.
Maroela Media het vroeër berig dat minstens vyf mense dood is nadat ’n aardbewing van 6,5 die suide van die Filippyne getref het. Dit is die derde aardbewing om dié eilandgroep vandeesmaand te tref.
Inligting van die VSA se geologiese raad dui daarop dat Donderdag se aardbewing digby die Sawoti-polisiestasie in Coolgardie in KwaZulu-Natal plaasgevind het. Die aardbewing het volgens dié raad 10 km onder die oppervlak voorgekom en is ook in Lesotho gevoel.
Tommy Odendaal, ʼn inwoner van Margate, sowat 134 km suid van Durban, sê hy was tuis toe die aardbewing die huis geskud het. Odendaal werk in die sekuriteitsbedryf. “Ek het voor die TV gesit en die volgende oomblik voel ek net alles bewe. Die muurhorlosie het ook snaaks begin lui. Ek het gedink daar was ʼn ontploffing en het buitentoe gegaan.
“Dit het ook gelyk of die see uitgeswel het, my hek is baie naby aan die see,” sê hy.
Konst. Roeshiela Shozi van die Sawoti-polisiestasie vertel aan Maroela Media dat hoewel die aardbewing hulle laat skrik het, was dit nie so erg nie, omdat niemand seergekry het en daar geen skade aan geboue was nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Die was n baie scary oomblik gewees. Die hele Durban get geruk. Ek was op daardie oomblik in my kar by die werk. Dit gevoel of iemand fisies my kar rond skud.
Kom nou CR. Stel ‘n ondersoek span aan met ‘n kommissie wat kan voorleggings doen om ‘n herhaling van die aardbewing te voorkom. Dit sal mooi aansluit by die werkspakkie van die span wat weerligsterftes ondersoek het so ‘n paar jaar gelede.
Ek dog dis ‘n trein wat verby kom, tot ek voel dat hy deur my lyf wurm! Dit was eintlik awesome, maar scary!
Het op my bank in sitkamer gesit toe ek net voel hier beweeg die bank en alles wat hang ruk en swaai rond was eintlik scary
Hy moet hier by seweto draai hy is op die verkeerde plek